top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 24 Maart 2023

Koos Espach


Jakobus word doodgemaak en Petrus gevange geneem (7)

Petrus word uit die tronk bevry (2)


Eens en vir altyd verlos


Hand. 12:9-10 – “Petrus het agter die engel aan uitgegaan sonder om te besef dat hy werklik bevry word. Vir hom het dit gelyk asof hy ‘n gesig sien. Hulle is by die eerste wag verby en ook by die tweede, en toe hulle by die ysterdeur kom wat na die stad toe lei, het dit vanself vir hulle oopgegaan. Toe hulle buite kom en ‘n ent met die straat af was, het die engel vir Petrus skielik verlaat.”


Terwyl Petrus lê en slaap, kom maak ‘n engel hom wakker en sê vir hom om gereed te maak en saam met hom gaan. ‘n Helder lig in die tronksel laat Petrus se boeie afval, en nadat hy aangetrek het, volg hy die engel na buite. Al die deure gaan bonatuurlik oop want Petrus kan nie deur geslote deure gaan soos die engel nie. Wat ‘n magtige bevryding!


‘n Ent verder in die pad af, kom Petrus terug tot die werklikheid en besef wat pas gebeur het. Hy het gedink hy droom, maar dan weet hy dat God een van Sy hemelse dienaars gestuur het om hom uit die hande van sy vervolgers te red. Petrus se aardse take was immers nog nie afgehandel nie, daarom het God die menslik onmoontlike laat gebeur om hom ongedeerd uit ‘n maksimumsekuriteitsel te laat stap. Herodus was van plan om hom dood te maak as ‘n guns aan die teenstanders van die evangelie en die werk van God. Daar was min rede om te glo dat Petrus die dood gaan vryspring, maar God het verkies om Petrus van die dood te verlos.


Die Here se mense, ons gelowiges, hou deur dik en dun aan Hom vas. Ons kan ook soos Petrus rustig slaap al verkeer ons in gevaar. Ons kan onverskrokke op God vertrou al weet ons nie wat môre of oormôre gaan gebeur nie. Die Hebreërskrywer dryf die punt tot in die ergste graad. Hy wil die boodskap oor en oor aan ons bring: Daar is niemand soos Jesus nie. Hy is die grootste. In die ganse heelal is daar niemand soos Hy nie. En ek en jy moet Jesus ook so sien. Dit is God self wat Hom verhef tot die hoogste ereplek in die heelal – “Van watter engel het Hy ooit gesê: ‘Sit aan my regterhand, totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het?’ Is hulle dan nie almal geeste in diens van God, wat Hy uitstuur om dié te dien wat die saligheid gaan beërf nie?” (Heb. 1:13-14).


Hoekom sal die Een wat die hoogste plek in die wêreld het, vyande hê? Omdat die donker nie van die lig hou nie. Die duiwel hou nie van die goeie nie. Hy verlustig hom in kwaad. Hy wil breek. Hy wil liefde ’n bloedneus gee. Jesus kom steek ’n stokkie daarvoor. Dit maak die duiwel die duiwel in en hy wil vir Jesus uit die pad hê. Daarom dat hy sommer aan die begin van Jesus se bediening Hom in die woestyn versoek, sodat Hy in die duiwel se hoek kon kom (Matt. 4:1-11). Langs die pad het daar nog vyande opgedaag. Daar was konings, Sadduseërs en Fariseërs. Selfs die kerk van die dag het Hom en Sy volgelinge, soos Petrus onder andere, van die tafel af probeer vee.


Maar die duiwel en sy trawante het hulle misgis met Wie hulle te doen het. Jesus is selfs groter as die engele. God het hierdie hele weermag van engele en tog het Hy vir nie een gesê daar is ’n ereplekkie langs Hom waar Hy as Koning die heelal regeer nie. Net vir Jesus sê Hy dit. En net dit vertel ’n groot storie van Jesus, wie Hy is en hoeveel meer mag Hy het.


Jesus se offer is anders, nie soos destydse hoëpriesters wat oor en oor moes offer want hulle offers was nooit genoeg vir almal se sondes nie. Jesus se offer is die laaste offer, die “eens en vir altyd” offer. Wat beteken dit vir ons wat in Jesus glo? Ons godsdiens kan nie meer ‘n poging wees om God tevrede te stel nie, ‘n godsdiens wat ons sondes ewe skielik doodverf nie. Ons hoef nie van een tradisionele offer na ‘n volgende te sukkel nie. Ons godsdiens is vreugde en dankbaarheid oor die een offer van Jesus, dankbaarheid omdat Sy volmaakte offer ons verlos het van die pogings om onsself te verlos met óns offers.


Ek en jy is soos Petrus uit die tronk van sonde verlos. Ons vertrou dus op God vir ons saligheid, nie op onsself nie. Verlossing beteken dat God weer God is in ons lewe. Laat ons daarom op ons knieë val en besef wie Jesus is. Laat ons Hom eer as God, as Verlosser. Hy is die gans andere, die gans andere wat deur Sy offer, jou en my vir altyd verlos het. Ek en jy kan met vrymoedigheid, vandag deel wees van elke gelowige wat Jesus se hand nooit laat los nie. Die vraag is egter: Hoe lyk ons beeld van Jesus? Gee ons Hom genoeg eer of moet ek en jy ons beeld van Jesus effens aanpas? Erken ons Hom as die Een wat ons vir altyd verlos het?


“Die mag waarmee Jesus werk, is nie dié van die swaard of die gevangenis – die soort geweld wat ons vir mag aansien en waarmee ons skynbaar onoorkomelike probleme wil oplos – nie. Jesus se mag is dié van diep, onweerstaanbare liefde” (Carlo Coretto).


Gebed: Here Jesus, hoe wonderlik gaan dit wees om eendag in die hemel voor U troon te kniel! Ek het nie eens ‘n idee van hoe om met die nodige ontsag aan ‘n koning eer te betoon nie. Wys my hoe ek nou, op aarde al, vir U na waarde kan eer. Ek hou net aan U vas. Amen.


Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page