top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 23 Maart 2023

Koos Espach


Jakobus word doodgemaak en Petrus gevange geneem (6)

Petrus word uit die tronk bevry (1)


Vertrou onverskrokke op die Here


Hand. 12:6-8 –“Die nag voordat Herodus hom voor die volk sou bring, het Petrus tussen twee soldate geslaap. Hy was met twee kettings geboei, en voor die deur het wagte die tronk bewaak. Meteens staan daar ‘n engel van die Here en skyn daar ‘n lig in die sel. Die engel vat toe aan Petrus se sy om hom wakker te maak en sê vir hom: ‘Staan gou op.’ Onmiddellik het die boeie van sy hande afgeval. Toe sê die engel vir hom: ‘Maak jou gordel vas en trek jou skoene aan.’ Petrus het dit gedoen, en toe sê die engel vir hom: ‘Trek jou bokleed aan en kom saam met my.”


Die Joodse leiers kon nie daarin slaag in hulle poging om die evangelie te stuit deur vervolging nie. Die Joodse koning, Herodes Agrippa 1, besluit om tot die stryd toe te tree en laat van die gemeentelede vang, vermoor Jakobus en laat Petrus in die tronk opsluit. Hy wou dus die leier, Petrus, die steunpilaar van die kerk, se mond snoer, soos die Jode dit met Jesus probeer doen het en nie daarin kon slaag nie. ‘n Geweldige aanslag dus op die leierskap van die jong gemeente in Jerusalem.


Dit gebeur weereens op die Paasfees, soos tevore met Jesus se kruisdood. Herodes wou net na die Paasfees vir Petrus om die lewe laat bring, soos die geval met Jesus was wat op die eerste dag van die Paasfees tereggestel is. Die boeie van kettings en soldate wat hom met die grootste strengheid bewaak, lyk op die oog af of Petrus hom in ‘n benarde situasie bevind. Daar is geen uitkomkans vir hom nie. Hy slaap egter rustig, vol vertroue in God, al hang daar ‘n doodsvonnuis oor sy kop. Praat van rustige geloofsvertroue in die lig van sy naderende verhoor!


Petrus verkeer só rustig in sy slaap, dat die engel se ligglans in die tronksel nie eers sy nagrus kon versteur nie. Daarom moes die engel hom wakker maak sodat hy haastig op die engel se opdragte kon reageer en hom uit die tronksel kon volg.


Ek dink meeste van ons onthou nog van beskermengele. Toe ons klein was het ons ouers telkens verwys na die beskermengel wat ons teen gevare of erge beserings beskerm het. Soos ons groter geword het, het ons ons al minder daaraan begin steur. Beskermengele is dinge vir klein kindertjies en vroue, nie vir ons mans nie. Nogal né! Wel, die Bybel sê engele bestaan. Hulle is heilige wesens wat God dien en deur Hom gebruik word om Sy opdragte uit te voer en meestal as boodskappers aan mense optree, soos met Petrus.


Die bewaring van ons gelowiges word deur God self verrig. God gebruik wel engele om ons by te staan wanneer Hy dit nodig ag, maar ons moenie hulle verheerlik of aanbid nie. Dit is die taak van die Heilige Gees om by ons te bly en ons op te pas. Dit is immers Jesus se belofte dat Hy sy Gees (en beslis nie engele nie), as Sy verteenwoordiger na ons toe stuur om by ons te bly: “Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.” (Joh. 14:16-17).


God sal ’n plaasvervanger stuur, ’n “ander Voorspraak”, dus ’n goddelike Persoon net soos Jesus, en nie maar net ’n plaasvervanger van mindere rang of gesag nie. Daardie Voorspraak word nader bekend gestel as “die Gees van die waarheid”. Hy word gekenmerk deur die waarheid en Hy dien die waarheid; alles wat Hy getuig en doen, is die waarheid. Die Gees is dus die Waaragtige in wie daar geen valsheid is nie, en Hy is die Verkondiger van die waarheid van die blye evangelie soos in Christus geopenbaar is. Die wêreld kan Hom egter nie ontvang nie omdat die wêreld in die mag van die leuen, die owerste van die wêreld, verkeer.


Ons Christene, besit dus iets wat die ongelowige wêreld nie het nie en ook nie ken nie. Die wêreld verstaan nie hierdie spesiale liefde van God vir ons as Sy kinders nie (Joh. 3:16). God bied Sy liefde in genade aan, deur middel van die Heilige Gees, die Voorspraak, vir elke mens. Mmaar dit is nie almal wat die Gees in geloof wil aanneem of aanvaar nie. Baie verkies eerder om God en die “Gees van die waarheid” buite rekening te laat wanneer hulle hul lewe organiseer. Die vraag is nou of ek en jy al ondervind het dat die Voorspraak ‘n lewende en vertroostende werklikheid in ons lewe geword het?


“Die Christendom ken geen waarheid wat nie uit die Heilige Gees gebore word nie” (Phillip Brooks).


Gebed: Gees van die waarheid, dankie dat U die wil van God aan my bekend maak. Dankie dat U my help om die lewe beter te hanteer sodat ek ‘n oorwinnaar sal wees in die stryd om die waarheid. Dankie dat U altyd by my is om my teen versoekinge krag te gee en ‘n belofte van ‘n nuwe dag te bring. Amen.



Bình luận


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page