Gedagte vir Vandag
Woensdag, 22 Maart 2023
Koos Espach
Jakobus word doodgemaak en Petrus gevange geneem (5)
Die gevangeneming van Petrus (4)
God se telefoonnommer
Hand. 12:5 – “So is Petrus dan in die tronk bewaak, maar die gemeente het aanhoudend vir hom tot God gebid.” (3)
Vergelyk ook Jes. 65:24 – “Voor (jy) nog roep, sal Ek antwoord, terwyl (jy) nog praat, sal Ek (jou) gebed verhoor.”
Voor ons verder lees wat Lukas ons wil vertel van die dramatiese nuwe vervolging teen die gelowiges in Jerusalem, is dit nodig om nog saam te kuier oor gebed. Iemand het gesê om aan te hou met God in gebed te kommunikeer, is om stelling in te neem voor die deur van die lewende God en verseker te weet, as ek en jy aan hierdie belangrikste deur in die heelal, in Jesus se Naam gaan klop, ons Vader gaan oopmaak want ons is by die regte adres. En Hy is altyd tuis! God wag eintlik vir ons klop en sal op die regte tyd, Sy tyd, vir ons die deur oopmaak. Ek en jy moet net geduldig wag en nie tou opgooi om aan te hou met klop nie.
En as ons dalk ongeduldig raak met die kloppery, kan ons bel, of selfs ‘n WhatsApp of SMS stuur. Jesus se selfoon nommer is 236524247. Goed, miskien is dit nodig om eers te verduidelik vir dié wat nie nou verstaan nie. Die 23ste boek in die Bybel, die 65ste hoofstuk en die 24ste vers, bring ons by ons vergelykende vers oor gebed uit by Jesaja 65:24 – “Voor (jy) nog roep, sal Ek antwoord, terwyl (jy) nog praat, sal Ek (jou) gebed verhoor.” En God is daar beskikbaar vir 24 uur, 7 dae ‘n week. Ons hoef nie te wonder of God dalk uit is nie, Hy is altyd daar.
En glo my, Hy is nooit te besig om met ons te praat nie. Ek het nog nooit met ons Vader se sekretaresse gepraat, of ‘n besettoon, of ‘voicemessage’, of verwysing na ‘n ander ‘persoon of departement’ ondervind nie – Sy sisteem werk fantasties en Hy word nie kwaad as ons aanhoudend Hom “pla” nie. Ek kon elke keer direk met God praat en met respek, Hy verstaan Afrikaans! Dit was nog nooit nodig om ‘n boodskap te los nie, God antwoord self. Dit was ook nog nooit nodig om myself voor te stel nie, Hy weet reeds wie ek is. En die kersie op die koek: Ek het nog nooit ‘n rekening van die hemel af ontvang vir ál die ‘oproepe’ wat ek al soontoe gemaak het nie, dis gratis!
Is dit nie wonderlik nie? Jesus het dit vir my en jou moontlik gemaak om direk met God te praat tydens Sy kruisiging toe die voorhangsel geskeur het (Luk. 23:45), en ons toegang verkry het tot God se Allerheiligste. Die Seun van die mens, Een soos ons, het die voorhangsel van bo tot onder middeldeur geskeur. Sedertdien mag ons die Almagtige God, op sy Naam noem: “Vader”. Is dit nie aangrypend nie? Die Here kon dit nie makliker vir ons gemaak het nie. Ons moet net praat! Ons Almagtige God en Vader, Skepper van hemel en aarde wag vir ons soos ‘n Pa vir sy kinders om met Hom te praat. Ons is mos Sy kinders, Jesus bevestig dit: “Aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh. 1:12).
As lid van God se familie kan ons te eniger tyd, sonder afspraak, by Hom inval. Hy wag vir ons kuiertjie en wil graag ons stem hoor. Hy wil graag hoor ons het Hom lief, en soos ons bid, besef ons dat God te alle tye bewus is van wat in my en jou lewe aangaan. Hy weet van ons probleme, hy wil egter graag hoor wanneer ons gestruikel en geval het sodat Hy ons weer kan ophelp. Hy wil graag hoor ons is afhanklik van Hom, dat Hy die heeltyd by ons is en dat alles wat ons het en ook wie ons is, as gevolg van Hom is. En wanneer ons woorde van dankbaarheid opraak, kan ons maar net so sit in verwondering oor ’n grote God wat nie anders kan as om uit te reik na ons as Sy kinders nie.
En elke keer wanneer ons klaar “gekuier” het by God, sal ons anders daar opstaan as wat ons gaan sit het. Dit is presies wat gebed doen. Die mens raak anders. Ja, God weet al lankal wat ons gaan sê en wat ons gaan vra. Tog is dit steeds belangrik dat ons bid, want óns stap anders daar weg. Wat tydens gebed gebeur het, is dat ek en jy op ’n manier afstand gekry het van ons eie wêreld en bewus geword het van God se wêreld. Tydens gebed besef ons dat God almagtig is, al voel dit nie altyd so nie. Al lyk die wêreld soos dit lyk. Opgemors deur die mense wat so mors. Maar wanneer ons voor God kniel, help Hy ons om deur Sy oë na die wêreld en die mens te kyk. Dan kry ons rus en word ons rustig. God het alles gemaak en sal nie toelaat dat Sy kinders vernietig word nie. God is altyd op die uitkyk vir ons – besoek Hom sommer nou!
“Gebed is nie ‘n poging om God se wil te probeer verander nie; veeleer is dit ‘n kinderlike poging om sy wil te leer ken – en dit te gehoorsaam” (George Butterick).
Gebed: Here, U is heilig en alles wat U gemaak het, is goed. Vergewe die tye wanneer ek afdwaal van dit wat U in gedagte gehad het vir my. Bring my terug na U oorspronklike idee van geloof in Jesus Christus, en help my om my geloof in suiwerheid en met danksegging uit te leef. Dankie dat U vir elkeen wat selfs U nie ken nie, uitnooi om te vra, te klop en te soek, en ek weet U luister nie net nie, U gee ook op U tyd, volgens U wil. Amen.
Comments