Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Mar 20, 2023
- 4 min read
Dinsdag, 21 Maart 2023
Koos Espach
Jakobus word doodgemaak en Petrus gevange geneem (4)
Die gevangeneming van Petrus (3)
God het elkeen geskep met ‘n doel
Hand. 12:5 – “So is Petrus dan in die tronk bewaak, maar die gemeente het aanhoudend vir hom tot God gebid.” (2)
Vergelyk ook Jak. 1:18 – “Omdat dit sy wil was, het God ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring, sodat ons, om dit so te stel, eerstelinge kan wees van alles wat Hy geskep het.”
Ons Het gister gewonder of God dalk vir Petrus meer liefgehad het as vir Jakobus? Natuurlik nie, het ons geantwoord. God is goed! Uit God kom net goed. God wil net goeie dinge vir Sy kinders hê. God kan eintlik nie ophou om net die goeie vir Sy kinders te wil hê nie. Een van die grootste voorbeelde hiervan, is elkeen van ons.
God wou hê dat ons elkeen gebore moes word. Hy het dit so beplan. Hy wou hê dat ek en jy ons eerste teug lug moes inasem. Hy wou hê dat ons hier op die aarde moet woon. Hy wou hê dat ons ’n keuse moet maak, natuurlik net vir Hom en nie vir die wêreld nie. God het mense geskep met die doel dat ons deur ons verhouding met Hom die lewe sal geniet. Hy dwing ons egter nie om Hom lief te hê nie, dit moet uit ons eie vrye wil kom. God gee ons uit genade die voorreg om tussen lewe en dood te kies. Hy wil baie graag hê dat ons lewe en sy seën moet kies: “Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe. Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam en Hom aan te hang, sal vir jou lewe gee ...” (Deut. 30:19-20).
Ek en jy is die uitvoervrugte van God. Die bestes. Ons is die uitvoervrugte wat net bedoel is om die beste plek op die rak te kry. Jakobus beskryf die goedheid van God in ons vergelykende vers in Die Boodskap: “Byvoorbeeld, waar kom ons nuwe bestaan as Christene vandaan? God het besluit om dit vir ons te gee. Ons het sy boodskap gehoor en só geleer waaroor die ware lewe regtig gaan. Dit het eerste met ons gebeur. Dat dit met ons gebeur het, moet vir almal en alles ná ons ’n bewys wees dat dit wel moontlik is en kan gebeur (Jak. 1:18). As eerste vrugte is ons geskape om ook goed te wees vir ander. Dit is alles deel van God se plan vir elkeen van ons se lewe.
Dit was God se besluit dat ons gebore is. Ja, Hy het ons ouers daarvoor gebruik, maar dit is Sy Koninklike wil dat ek en jy vandag hier op aarde is. Dink so ‘n bietjie mooi hieroor. God het nie onvolmaaktheid geskep nie, inteendeel, toe God die skepping voltooi het, het Hy gesê alles was goed. En nadat die mens geskep is, was dit baie goed (Gen. 1:31). Daar was geen dood, verwoesting, aardbewings, soos onlangs in Turkye en Sirië, en verlies in God se plan nie. Alles het perfek gewerk, net soos God dit bedoel het. As ons dit verstaan, dat dit God se wil is dat ons vandag hier is, besef ’n mens hoeveel waarde ons het.
Maar, die perfekte prentjie van God het drasties verander toe sonde die wêreld ingekom het. Dood en verwoesting het deel van die mensdom se bestaan geword. Dit is presies waarteen God die mens gewaarsku het (Gen. 2:17). Só maklik word ons herinner aan die verkeerde dinge wat ons al gedoen het. Wanneer ons die lelike prentjie sien, voel ons erg sleg. Dit is sulke tye wanneer ons selfbeeld afgetakel word en ons selfwaarde in duie stort. Dis seker menslik, maar ’n absolute leuen. Ons moet onthou dat ons waarde nie bepaal word deur wat ons doen of nie doen nie, maar deur die Een wat wou hê dat ons hier moet wees.
Na die skeppinsverhaal, is die res van die Bybel die verhaal van God se werking met die mens om ons weer ‘n kans op lewe te gee. Hierin moet ons bly glo. Ek en jy het sóveel waarde, omdat die Almagtige God wou hê dat ons hier moet wees. Dis God se wil dat ons gebore is en dit bevestig ons waarde. En met hierdie sak vol waarde kan ons weer die wêreld aandurf en met nuwe moed bestorm.
God is ’n goeie God en wil net die beste vir ons gee. Daarom gee Hy lewe. Ons is die nommer een faktor in God se skepping omdat “ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring, sodat ons, om dit so te stel, eerstelinge kan wees van alles wat Hy geskep het.” Jesus het ons God se gesig kom wys. Dit is die evangelie, en ons lees dit op elke bladsy van die Nuwe Testament. As daar nie selfsug, sonde en hoogmoed is nie, is God se gesin ‘n lushof van vrede en vreugde. Hy wil nie hê dat ons met sonde bevlek moet wees nie, sodat ons ongeskonde Sy beeld van heerlikheid in hierdie deurmekaar wêreld kan vertoon.
God se plan is om ons daar te plaas waar ek en jy ons nou bevind, al trek ons self soms swaar, al sukkel ons ook om ons kop bo water te hou, om ’n geskenk vir ander te wees. Ons tree dus op as waardige gesante van Christus want ons behoort aan Hom! God is vrygewig, God is genadig, God voorsien net die beste – daarop kan ons staat maak. Daarvoor kan ons bid. Daarvoor kan ons geduldig wag want ons is “eerstelinge van alles wat Hy geskep het.”
“Mense, gemaak na die beeld van God, het ‘n onuitspreeklike en onvervreembare waarde en waardigheid” (John Scotus – 1266-1308)
Gebed: Vader, ek kan amper nie glo dat U my in gedagte gehad het nog voor ek gebore is nie. Dankie dat ek kan weet dat U my Skepper is en ek soveel waarde het. Help my om ’n waardevolle lewe daar buite te gaan uitleef. In Jesus se Naam. Amen.
Recent Posts
See AllDinsdag, 22 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons van vandag af verder saam met Paulus in sy Brief aan die Romeine. Bevry van...
Sondag, 20 April 2025 Koos Espach Jesus se pad na glorie Die leë graf – Jesus het werklik opgestaan en lewe vandag Joh. 20:1-2 – “Die...
Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...
Comments