top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 16 Maart 2023

Koos Espach


Jakobus word doodgemaak en Petrus gevange geneem (1)

Die marteldood van Jakobus (1)


Martelend sien ons uit na die hemel


Hand. 12:1-2 – “In dié tyd het koning Herodus party van die gemeentelede laat vang en hulle mishandel. Hy het vir Jakobus die broer van Johannes met die swaard laat doodmaak.”


Lukas vertel nou van ‘n dramatiese nuwe vervolging teen die gelowiges in Jerusalem. Dit was moontlik gedurende die jaar wat Barnabas en Saulus in Antiogië gewerk het en terwyl die gemeente daar rus en voorspoed geniet het. Hierdie vervolging is geloods deur Herodes Agrippa I, wat ’n kleinseun van Herodes die Grote was wat die kindertjies in Bethlehem laat vermoor het. Die vorige vervolging was onder die leiding van die Joodse Raad (Hand. 6:9-12), wat ongemaklik was met die storie dat Jesus wat gekruisig is, wel die Messias kon wees. Indien daar enige waarheid in sou steek, is hulle mos aan die dood van die Messias aandadig. Dat Hy uit die dood opgestaan het, het hulle in elk geval nie geglo nie, daarom moes daar van hierdie “Jesus-sekte” ontslae geraak word .

Die haat teen hierdie “sekte” het opnuut opgevlam en daar word nou teen die leierskorps van die apostels opgetree. Die eerste wat met sy lewe moes boet, was Jakobus, die broer van Johannes en een van die seuns van Sebedeus en Salome. Saam met party van die Jerusalem-gemeente gelowiges wat gevang en mishandel is, word Jakobus met die swaard onthoof.


Ons geloof in Christus, is nie ‘n versekeringspolis téén die slegte dinge in die lewe nie en as ons in Jesus glo omdat ons nie terugslae of probleme wil ondervind nie, dan glo ons om die verkeerde redes in Hom. As ons egter glo uit dankbaarheid wat Hy reeds vir ons aan die kruis gedoen het, ten spyte van ons slegte omstandighede, dan is ons by die regte adres. Dan sal ons weet, wanneer dit donker word oor ons, dit Jesus se skaduwee is wat oor ons daal terwyl Hy sy vertroostende deurboorde hande op ons skouers plaas en sê: “Ek gee jou die ewige lewe, en jy sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal jou uit My hand ruk nie” (Joh. 10:28).


Dit is vir die kerk van die Here belangrik om by voorbaat te besef dat ons die skyf van die haat van die wêreld is. Deur al die eeue heen gebruik ongelowiges verskeie metodes om te probeer om die kerk van Jesus Christus te vernietig. Dit het beteken dat gelowiges, godsdienstig en sosiaal, uit die Jodedom gesny is – hulle is verban uit die sinagoges uit, hulle volksidentiteit is van hulle af weggeneem! Hulle is gemartel, doodgemaak, en die mense wat dit gedoen het, het volgens hulle, dit met ‘n skoon gewete gedoen want hulle het “gedink dat hulle ‘n diens aan God bewys.”


Die ergste van alles is dat dit vandag nog gebeur. Ek lees onlangs op internet dat meer as 200 miljoen mense in 60 lande beroof word van hulle basiese menseregte oor net een rede: hulle glo in Jesus Christus! Berigte van Christene wie se koppe met swaarde afgekap is of wat voor ’n vuurpeleton moes staan, of van hulle families vervreem is, is nie geskiedenis nie, dit gebeur elke dag. Hierdie mense het nie ingegee nie. Hulle het nie dit waarin hulle glo, ingeruil om te bly lewe nie. Hulle geloof was so sterk dat hulle bereid was om te sterf daarvoor.

Ek wonder hoe sterk my geloof is? Ek wonder of my geloofsfondasie sterk genoeg is om my huis staande te hou as die aardbewings dit in mekaar wil laat tuimel? Ek meen, die enigste oortreding wat ek begaan, is om in Jesus Christus te glo! Hoe lank sal ek marteling kan verduur vir my geloof? En jy? Sal jou geloof sterk genoeg wees? Hoe ver sal jy gaan met jou geloof? Sal ek en jy bereid wees om soos Jakobus ons koppe en daarmee saam, ons lewe prysgee en uitsien na die hemel?

Ek hoop so. Ek glo so. Mag ons nooit by die toets uitkom nie, maar as dit dan so is, mag ek en jy op ons knieë gaan staan voor die ongelowige, ons kop laat sak en ons oë toemaak en uitsien om binnekort by die beter lewe van God uit te kom. Kom ons kyk verby hulle wat doodgemartel is, bespotting en lyfstraf verduur het, gevangenskap, gestenig, in stukke gesaag (Jesaja), met die swaard vermoor is (Heb. 11:36-37). Kom ons gelowiges vestig ons oë op God se toekomsbelofte, nie op korttermyn resultate nie. God se belofte hou vir ons ‘n ewige erfenis in! Ons kan vashou aan “’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir ons in bewaring gehou word” (1 Pet. 1:3b-4). Ons gelowiges hét die versekering dat God die verloop van die wêreldgeskiedenis in Sy hand hou. Die vervolgers kan maar saam met satan alles in die stryd werp om te steel en te verower, hulle sal nooit daarin slaag om die hemel van ons Christen-gelowiges weg te neem nie.


“The way to heaven is by way of thorns and blood” (Thomas Watson).


Gebed: Here, dankie dat ek weet dat U by my is wanneer ek beledigings moet verduur net omdat ek ‘n dissipel van U wil wees. Soms voel ek platgeslaan en wil moedeloosheid, beheer van my neem. Dit is dán wanneer U my weer op my knieë bring, die beste plek om te wees wanneer ek swaarkry. Dan hoor ek U stem duideliker. En wanneer my geloof ‘n bietjie dun raak, help my om passievol aan U vas te klou. In Jesus se Naam. Amen.

Comentários


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page