top of page
Search

Gedagte vir Vandag

  • Feb 16, 2023
  • 4 min read

Donderdag, 16 Februarie 2023

Koos Espach


Die gemeente in Antiogië (6)

Barnabas en Saulus Preek in Antiogië (4)


Waar is die God van die Christene, die God van liefde dan?


Hand. 11:26b – “In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem.” (3)


Ons het Dinsdag geskryf dat Christenskap en Bybellees feitlik onafskeidbaar is. Ek kan my nie indink om ‘n dag sonder die Woord van God deur te bring nie. Maar, ek sukkel om my gedagtes op een plek te hou, veral as ek Bybel lees. Daarom maak ek opsommings, skryf neer wat vir my belangrik is – en ja, alles is belangrik – dan bid ek daaroor en uiteindelik wanneer ek die gedeelte saamstel, is dit ongelooflik hoe alles net in plek val. Die ergste is egter dat ek dikwels by die punt kom waar ek nie verstaan wat die Here vir my uit daardie gedeelte wil sê nie. Op ‘n stadium het ek ‘n dame se kommentaar gelees wat dieselfde gevoel het oor die verstaan van sommige gedeeltes van die Bybel. Haar stelling dat sy nie baie bekommerd is oor die gedeeltes in die Bybel wat sy nie mooi verstaan nie, maar vrek bekommerd is oor dit wat sy wel verstaan, want dit wat sy verstaan, moet sy dóén. Dit het my anders daarna laat kyk.


Ek het genoem van die aantekeninge wat ek maak oor die gelese gedeelte. Dit help my om te fokus. Dit help my om te onthou wat ek gelees het. Dit help my ook om ’n beter prentjie en begrip van God te kry. Dit help my om woorde te kry om vir God dankie te sê. Probeer dit. Wat vir my opvallend is hoeveel keer die Here my gedagtes na die liefde lei. Neem byvoorbeeld Psalm 36. Aantekeninge van gedagtes wat neergeskryf is lyk ongeveer so: God se liefde vir ons vloei soos riviere, dis onmeetbaar; God se goedheid vir ons kan nie deur woorde vasgepen word nie; Hy hou alles en almal styf in Sy hand vas en beskerm dié wat by Hom skuil; Hy gee meer as wat ons nodig het; Hy is regverdig; Hy is die lewe, die lig vir ons pad; Hy beskerm en sorg vir ons; Hy voorsien ...!


Is dit nie wonderlik nie! Wanneer God ons aanraak deur Sy Woord, kry ons weer hoop en moed! Ek staan altyd verstom oor hoe so ’n grote God afbuig na ons – en dan kan ek maar net die aantekeninge afsluit en onderaan skryf: Dankie Here!


Ag, en nou is dit ongelukkig so dat daar mense is wat dikwels ons Christene se koppe wil swaai. Veral in hierdie deurmekaar wêreld hoor ons dikwels die verwyt: “Waar is julle God van liefde? Hoe kan Hy toelaat dat daar dinge soos kanker, COVID, oorlog, aardbewings, verspoelings, droogte, korrupsie, swak regering en nog baie ander slegte dinge is wat hulle die vinger na God toe laat wys. Waar is God dan, kan Hy nie hierdie gemors in die wêreld regstel nie?” Snaaks, dis dieselfde mense wat só redeneer, wat hulle nie aan God steur nie, wat nie Christene is nie, wat miskien ‘n Bybel het maar dit nooit lees nie. Daar loop baie mense rond wat valse waarhede verkoop en baie vurig daaroor kan raak. Soms is dit beter om eerder jou standpunt vir jouself te hou. Dis nie die moeite werd om in ’n argument met so ’n persoon betrokke te raak nie.


Hoe sal hulle ook nou weet die bladsye van die Bybel is vol bemoedigende en liefdeswoorde van ons Vader. As jy nie die “koevert” oopskeur en die “brief” uithaal nie, gaan jy nie weet wat daarin geskryf staan nie! Johannes het die regte antwoord op die vraag of God liefde is. Hy sê in 1 Johannes 4:9-10 vir my en jou, ons moet op die regte plek na die antwoord soek – ons moet by die kruis begin. Daar het God gewys wat liefde is. Hy het sy Seun se lewe daar weggegee sodat ek en jy en al die swartgalliges nog ‘n kans kan kry. Hy het nie op ‘n veilige afstand gestaan en Sy liefde vir ons deurgesein of -gebel nie, Hy het ons kom wys!


Ek weet nie van jou wat hier lees nie? My hart loop oor van dankbaarheid. Ek besef dat ek hier is slegs deur die genade van God wat deur sy Gees, my paaie vir my help uitkap. Ek weet daar is hoop vir die wêreld wat ly. Ook vir elkeen wat siek is en soms ervaar hoe die skaduwee van die dood oor hulle lewe val. Die goeie nuus is dat God lank gelede kom wys het dat ons vir Hom saak maak en dat daar ‘n nuwe wêreld vir ons, Sy kinders wag. Hy staan steeds aan die stuur van sake in die heelal!


God is liefde, selfs wanneer die nag op sy donkerste is want “God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie” (1 Joh. 1:5). Die storms van die lewe kan maar slaan. Die ongelowiges kan ons maar uitlag of die lewe vir ons moeilik maak. Satan kan sy bes probeer om ons geloof stukkend te druk. Ons sal tot aan die einde agter Jesus aanloop en saam met Paulus bid dat sy wens in ons lewe ook waar word: “Mag die Here (ons) gedagtes aanraak sodat ons heeltyd sal fokus op God se groot liefde. Mag ons ook verstaan wat Christus alles vir ons opgeoffer het sodat ons enduit agter Hom sal aanstap” (2 Tess. 3:5).


“Christene is die enigste mense in die hele wêreld wat ‘n lewende Iemand het op wie hulle absoluut kan reken om hulle ten diepste gelukkig te maak” (Billy Graham).

Gebed: Vader, U liefde vir my en U getrouheid en voorsiening, is vir my verstommend. Dankie vir U Woord wat my gedurig herinner aan U liefde vir my. Dit gee my krag en moed om die wedloop van die lewe met volharding te hardloop. Amen.

 
 
 

Recent Posts

See All
GEDAGTE VIR VANDAG

Dinsdag, 22 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons van vandag af verder saam met Paulus in sy Brief aan die Romeine. Bevry van...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Sondag, 20 April 2025 Koos Espach Jesus se pad na glorie   Die leë graf – Jesus het werklik opgestaan en lewe vandag Joh. 20:1-2 – “Die...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...

 
 
 

Commenti


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page