Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 14 Februarie 2023
Koos Espach
Die gemeente in Antiogië (4)
Barnabas en Saulus Preek in Antiogië (2)
Die regte koers
Hand. 11:26b – “In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem.”
Barnabas, wie se naam ook bemoediger beteken, was God se man in Antiogië. Hy was deur die leiers van die Jerusalemgemeente, gestuur om die snel groeiende gemeente daar te bestuur. Barnabas is die eerste “leraar” wat begin om Jode en nie-Jode in een gemeente te bedien. Dit is opvallend dat hy met sy aankoms daar, aandag gee om God se werk raak te sien, dat hy spesifiek fokus op hulle geloof in die Here en hulle daarom aanspoor om met hart en siel aan die Here getrou te bly. Hy praat nie oor die besnydenis nie, ook nie oor die sabbat nie – dinge van die grootste belang vir die Jode – hy praat oor hulle getrouheid aan die Here, dié Here waarin hulle nou geglo het en tot wie hulle hul nou bekeer het. Waarmee hy natuurlik ook bevestig dat dit die belangrikste van alles is – ’n verhouding met die Here waarin getrouheid aan Homself die spilpunt is waarom alles draai – ‘n verhouding wat as “Christen” sigbaar behoort te wees oor die hele wêreld.
Ons gemeente het ‘n buffer plakker, dis nou bumper sticker, van Josua 24:14: “Ek en my huis, ons dien die Here.” Ek dink dis nogal ‘n unieke manier om vir die wêreld te wys dat ons Christene is. Dit daag ons eintlik uit om te leef volgens wat daar staan. Nou gaan ek miskien op ‘n paar tone trap, maar ek het al gewonder hoeveel van ons wat wel die plakkers op ons motors het, of enige plakker met ‘n Christelike boodskap, is so gemotiveerd om te leef volgens wat ons sê ons is? Die sticker sê ons is Christene, maar kan ander sien of ons bereid is om te leef volgens daardie belydenis?
Hoe kry ‘n sondaar-mens dit reg om só te leef? As ons sê dat ons Christene is, kortom, volgelinge van Jesus Christus is, moet ons naby God se Woord bly. Meeste van ons besit meer as een Bybel, maar dit help nie baie as dié Boek toe bly of as ‘n versamelstuk in ‘n boekrak pryk nie. Dit moet oopgemaak en elke dag gelees word! Dit is seker die grootste skat wat elke Christen kan besit. Ons soek so op baie, en soms op ver plekke na geluk terwyl die skat by ons huis is waar ons dit kan kry. Ons moet miskien dit net weer herontdek en ontgin – “Dit gaan goed met die mens ... wat in die woord van die Here sy vreugde vind” (Ps. 1:1-2). ‘n Skat is nie ‘n skat as dit nie oopgemaak word nie.
‘n Goeie vraag is miskien hoe ons die Bybel lees? Eerstens lees ons nie die Bybel net omdat ‘n goeie klomp skrywers mooi woorde daaroor gesê het nie. Nee, ons lees die Bybel omdat dit die waarheid is, waarheid waarsonder ons nie kan oorleef nie! Wanneer ons regtig erns maak met die Woord, kan ons wonderlike dinge beleef. Psalm 119 handel oor die Woord, en is maar net een van die plekke waar ons opnuut weer skatte kan ontdek. Skatte is egter weggesteek, ek en jy moet soek daarna, diep delf!
Ek onthou ‘n praatjie van wyle Louis Malherbe baie jare gelede, waar hy op ‘n kasset vertel het hoe ‘n Christen die skatte van die Bybel kan ontdek. Hy was nie ‘n predikant nie maar ‘n dinamiese Christen-sakeman. Hy het oor Spreuke 2:1-5 gepraat en sy boodskap was dat ‘n Christen wat na skatte soek, ‘n overall aantrek, sy moue oprol, ‘n pik en graaf vat en nie adverteer jy soek ‘n skat nie. Jy sit in stilte en gebruik baie tyd om die skat op te spoor. Dit help nie jy krap net bolangs met die graaf nie, jy moet dieper delf. Jy “soek daardie verborge skat soos jy silwer soek” (Spr. 2:4). Dis harde werk, sweet en blase op jou hande is die resultaat, maar as jy die skat vind, is die vreugde groot! “Dan sal jy weet hoe om die Here te dien, sal jy ontdek wat dit is om God te ken” (Spr. 2:5).
Goed, die skat is ontdek, wat nou? Nou moet ons dieper delf en hoe dieper ons delf, hoe meer sien ons dat op die bladsye van die Boek, woorde staan wat ons wil toerus om die lewe te kan face. Alles wat daar geskryf staan, is wat ons nodig het om te kan cope, soos die Engelsman sê. Alles? Ja! Al die bemoediging, al die vertroosting. Die Woord het waarde om God se standaarde van Sy koninkryk te stel. In Matt. 5:3-12 sien ons God se standaarde verskil van die wêreld s’n. Die standaard het te make met afhanklikheid, en huil, sagmoedigheid, en vrede maak en barmhartigheid. Matteus 5 tot 7 is Jesus se “grondwet.” In 2 Tim. 3:16 sien ons die waarde dat die Woord ons terugbring op die regte spoor as ons weggedwaal het en nie meer volgens die waarheid van die Woord lewe nie.
Die Woord vertel ons nie net waar ons afgedwaal het nie. Wanneer ons plat geslaan is, kom die Here deur sy Woord en druk Sy hande onder ons in en tel ons op sodat ons Hom weer in die oë kan kyk, want die Woord sê Hy vergewe ons (1 Joh. 1:9). Terloops, daar is 63 plekke in die Woord wat bevestig dat God ons vergewe. Ons kan dit maar glo! En dis hoe die Woord werk – eers wys dit God se standaard; daarna slaan die Woord ons plat as ons oortree; dan tel God ons weer op en wys ons die regte pad, die pad wat Hy wil hê ‘n Christen moet loop. En om maar net een plek te noem waar ons riglyne kan kry hoe hierdie pad lyk, help Paulus ons in Efesiërs 4:25 tot 5:5. Dit kan egter net gebeur as ons met die Woord besig is en erns daarmee maak!
“’n Christen sorg elke keer wanneer hy op reis gaan dat hy ‘n GPS, lamp, spieël, swaard, digbundel, ‘n teleskoop, ou briewe, liedereboek, in sy reistas pak. Daar sal altyd plek wees daarvoor – dis alles in ‘n biblioteek van 66 boeke – alles in God se Woord” (William Barclay).
Gebed: Here, dankie dat U Woord die proses van verandering in my lewe wil bewerk. Ek kan nie sonder U Woord oorleef nie. Dankie dat U Woord die kos is waarmee ek kan oorleef. Amen.
Comentários