Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 7 Februarie 2023
Koos Espach
Petrus verantwoord hom voor die gemeente in Jerusalem (1)
God het ons met die hand uitgesoek
Hand. 11:1-3 – “Die apostels en die ander gelowiges in Judea het gehoor dat mense wat nie Jode is nie, ook die woord van God aangeneem het. Toe Petrus dan in Jerusalem kom, het die Joodse gelowiges hom verwyt: ‘Jy het mense besoek wat nie besny is nie en het selfs saam met hulle geëet.”
Petrus se besoek aan Kornelius was sommer gou “voorbladnuus” in die Jerusalemgemeente. Die apostels en die gelowiges dwarsdeur Judea het gehoor dat die heidene ook die woord van God ontvang en geglo het. Petrus loop hom vas teen heftige kritiek van die kant van die ander apostels en die Jerusalemgemeente. Dié ongehoorde gebeurtenis dat heidene, en dit nogal Romeinse soldate, hulle aartsvyande, die evangelie aangeneem het, is ondenkbaar! Hoe kon Petrus, hulle leier, dit durf waag om die evangelie in die huis van heidene wat nie besny is, te verkondig, saam met hulle eet en by hulle nog bly ook? God se genade was eksklusief vir Israel bedoel. Altans, so het die ander gelowiges in Judea gedink!
Die Joodse gelowiges, die “kerkraad” in Jerusalem, het Petrus ingewag met ‘n ernstige aanklag. Hy moes kom verduidelik! Hulle kritiek gaan nie oor godsdienstige besware soos die prediking van die evangelie of die doop van heidene nie, maar oor die sosiale verkeer met nie-Jode. Die “kerkraad” het nog vasgeklou aan die Ou Testamentiese tradisies, (vgl. Eks. 34:15-16; Lev.7:22-27; 11:1-47). Die kerk was te stadig vir die nuwe werk van God se Gees. Daarom was hulle erg ontsteld toe hulle hoor Petrus het hulle eksklusiewe Christen-genade vir nie-Jode weggegee.
Ai, ons wil amper sê: Kan mense so dom wees. Mense kan nie God se Gees besit nie. Ja, ons probeer van tyd tot tyd vir God voorskryf wat Hy moet doen en dan is ons sommer lekker ontevrede as Hy nie vir ons luister nie. Die feit is, die Heilige gees neem óns in besit, nie andersom nie. Ons kan ook nie die Gees inperk in Sy werk nie. Ons kan ook nie die Gees eksklusief vir onsself toe-eien nie. Jesus is die bouer van genade-paaie. Waar daar nie ‘n pad is nie, maak Hy een. Jesus kyk verby menslike belange of beperkings en sien mý en jóú harte raak – vir Jesus is óns as persoon belangrik. Hier is die begin van die algemeenheid van die Evangelie – God se liefde en genade vir die wêreld – in aksie deur Jesus Christus!
Ek wonder of ons altyd besef hoe gelukkig ons is. Nee, gelukkig is te dun hier. Kom ons gee dit meer gewig. Ek weet nie of ons aldag besef hoeveel tonne en tonne genade oor ons uitgestort word nie. Die feit dat ons die voorreg het om te kan en te mag glo – dis ’n groot wonderwerk. Dit kon soveel anders gewees het. Dink net hoeveel mense in die wêreld nie die kans kry om die keuse te maak nie. Dit is hartverskeurend om te dink dat daar mense is wat nooit die kans sal kry om vir Jesus te kies nie. Bloot weens die feit dat hulle nooit die goeie nuus gehoor het nie.
Daarenteen word ek en jy oorlaai met die liefde en genade van God. Ons het die verlossingsboodskap op al die platforms in die media, in die kerk, in ons vriendekringe, in ons gesinne en in ons harte. Ons is soos die Engelsman sê “special. We are hand picked.” Ons is uitgesoek tussen miljoene om deel te mag hê aan God se genade. Dis wat Paulus ook sê: “Die Here het julle baie lief. En dis nie net lippetaal nie. God het julle al lankal uitgesoek om in Hom te glo. Daar aan die begin het die Here beplan dat julle die waarheid sou ken ... en gesorg dat julle die goeie nuus oor ons Here Jesus Christus glo ...” (2 Tess. 2:13-14 – Die Boodskap).
God se woord bevestig ek en jy is reeds uitgekies. Die genade het ons reeds oorspoel en ons is spesiaal uitgekies om in God te glo. Sê dit hardop, laat dit deel word van jou wese: “God het gedink ek is so spesiaal dat Hy my met die hand uitgekies het om in Hom te glo.” Wow! Die Almagtige God het my met Sy hand uitgekies. Ja, ons weet dit voel nie altyd so nie en ons weet ons leef nie altyd so nie, maar miskien moet ons nou hierdie spesiale roeping wat God op ons geplaas het, deel maak van ons wese. Ons moet dit begin leef, want daar is ander ouens daar buite wat ook die roeping het, maar nie daarvan weet nie.
Dis jammer dat ons dit nie altyd besef nie. Ons dink dis ons wat vir God gekies het. Ons dink ons het saam met ons ouers in die kerk gekom of êrens by ’n kamp of byeenkoms ons harte vir die Here gegee. Ja, dis steeds ons wat die keuse self moet maak, vir of teen God. Tog is dit nie toevallig dat ons saam met ons ouers in die kerk grootgeword het nie. Dis nog minder toevallig dat ons juis by daardie kamp, geleentheid of byeenkoms was. Dit alles was deel van God se plan. Hy het al voor my en jou geboorte Sy oog op ons gehad. Ons is spesiaal geroep om in Hom te glo, want dis wat Hy wou hê. Kom ons gaan leef dit nou daar buite in die wêreld uit. Daar is soveel wat moet hoor en sien dat hulle ook gekies is om in God te glo. Dalk wag hulle net vir ons!
“God kies ons voor ons Hóm kies. Hy kies ons nie omdat ons dit verdien of om van ons sy witbroodjies te maak nie, maar om Hom te dien” (Andrew Hunter).
Gebed: Vader, dankie dat U gekies het dat ek in U moet glo en dat ek U kind kan wees. Ek verdien dit nie, maar dis wat genade doen. Help my om deur my gehoorsaamheid U liefde te beantwoord. Amen.
Comentarios