Gedagte vir Vandag
Maandag, 6 Februarie 2023
Koos Espach
Petrus en Kornelius (19)
Mense wat nie Jode is nie, ontvang die Heilige Gees (2)
Die Heilige Gees maak ons bewus van God by ons
Hand. 10:47-48 – “En Petrus sê: 'Hierdie mense het net soos ons die Heilige Gees ontvang. Wat kan dan verhinder dat hulle nou met water gedoop word?’ Toe het hy beveel dat hulle in die Naam van Jesus Christus gedoop moet word. Daarna het hulle hom gevra om ‘n paar dae by hulle te bly.”
Nadat Kornelius en sy mense die Ou Testamentiese profesieë gehoor het dat elkeen wat in Jesus glo, deur sy Naam vergewing van sondes ontvang, het God aan hulle geloof in Jesus en vergewing van hulle sondes geskenk. Hierdie godvresendes uit die heidendom, harde Romeinse soldate van die Italiaanse garnisoen en hulle gesinne, het “net soos Petrus-hulle die Heilige Gees ontvang.” Petrus het net die evangelie verkondig. God het vir die res gesorg en die belofte van Jesus dat “hulle krag sal ontvang as die Heilige Gees op hulle kom,” (1:8), is aan die werk in die ervaring wat die heidene hier het. Dit is Sy gawe aan alle mense.
Petrus se antwoord op die uitstorting van die Heilige Gees op die groep mense in Kornelius se huis, kon netsowel lees: “Die waterdoop kan tog nie weerhou word van mense wat die Geestesdoop uit die hemel ontvang het nie!” Die Here van die kerk het hulle reeds aangeneem, daarom kan Sy kerk nie weier om hulle met die doop in die Naam van die Here Jesus in sy gemeente op te neem nie. Hulle word gedoop in die Naam van Jesus Christus, dus namens Jesus en in die volle betekenis van sy Naam, wat Hom met al Sy woorde en werke insluit. Almal is so opgewonde oor hierdie grootse gebeurtenis dat Petrus, hulle uitnodiging aanvaar en ’n paar dae daar aanbly. So bewys Petrus dat hulle as volle lidmate van die Christelike gemeenskap (as rein) aanvaar is, en dat Jode en nie-Jode met mekaar in gemeenskap kan lewe, sonder voorbehoud.
Wat beteken dit vir ons? Die Heilige Gees se werk is ‘n voortsetting en verheerliking van die werk van Christus. Naas die werk van die Gees ten opsigte van die wêreld (Joh. 16:8-11), het Hy ook ’n besondere werk ten opsigte van die gemeente van Christus. Die Gees sal ons lei tot dieper insig in die betekenis van die prediking van Jesus, m.a.w. die betekenis van Sy woorde en werk. Die “Gees van die waarheid” (Joh. 16:13), sal voortbou op “Jesus wat die weg, waarheid en lewe is” (Joh. 14:6), en sal ons gelowiges nie op dwaalweë lei nie, maar tot insig bring van die “hele waarheid” en tot ryker en voller insig lei – insig skenk om gebeurtenisse in die geskiedenis van kerk en wêreld te begryp in die lig van die prediking van Christus. Die openbaarmaking van God se heilsplan strek tot in ewigheid en die openbaarmaking daarvan geskied stelselmatig soos mens ouer word en vorder in ons “leerskool.”
Een van die merkbare maniere waarop die Gees teenwoordig is in ‘n gemeente, is om eenheid tussen die gelowiges in die gemeente te bewerkstellig: “Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe” (Ef. 4:3). Omdat ons almal kinders van God is, behoort ons gedurig die onlosmaaklike band van liefde te handhaaf, en nie daardie liefdesband verbreek nie. Jesus Christus het alle skeidsmure tussen “Jood en nie-Jood” kom afbreek. Gelowiges is in een liggaam met God versoen deur Jesus aan die kruis. “Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader” (Ef. 2:18). Die praktiese betekenis vir ons is die vraag wat ons moet antwoord – is ons bereid om saam met die Gees te gaan as Hy oor ons mensgemaakte grense heen beweeg na mense en groepe wat Hy liefhet ten spyte van ons vooroordele?
Wanneer die Heilige Gees ons die almag van God laat smaak deur die inwonende Jesus Christus, verander dit ons gelowiges se harte. Gehoorsaamheid aan Jesus se opdragte laat ons anders optree, uit gehoorsaamheid anders laat doen. Wanneer jy vir jou eggenoot sê dat jy haar soms liefhet, maar soms sukkel om haar lief te hê, dui dit op ‘n wankelrige liefdesverhouding – net so is God nie tevrede met geleentheidsliefde of geestelike traagheid nie. Wanneer ons nie meer gemotiveerd raak deur God se Woord te lees nie, kerk toe te gaan, of ons aanbidding slegs ten tye van nood aangewend word, is dit tekens van ontkenning van Jesus wat Homself nie gespaar het om Sy álles, vir ons te gegee het! Hoe is dit dan moontlik om enigiets van onsself aan Hom, terug te hou? As ons God besit, besit ons die allerbeste! Miskien is dit nodig dat ek en jy hier in die begin van 2023, onsself opnuut weer toe te wy aan die Here – nou, vandag. Hebreërs sê mos, vandag as jy sy stem hoor, besluit om Hom te volg (Heb. 3:15).
“Die beste en hoogste doelwit van hierdie lewe is om stil te wees en toe te laat dat God deur die Heilige Gees in jou lewe werk en praat” (Meester Eckhart – Duitse Teoloog: 1260-1326).
Gebed: Here, leer my deur U Gees hoe ek moet lewe. Herskep my elke dag opnuut deur U genade en eindelose liefde. Onderrig my al hoe dieper met toenemende begrip van God se Woord en gehoorsaamheid daaraan. Leer my die waarheid omtrent gebed en die onuitspreeklike krag daarvan. Openbaar aan my die bevrydende waarheid van Christus se lewe, sterwe en opstanding. Help my o Gees, om dit met ander mense ook te deel. Amen.
Comments