Gedagte vir Vandag
Vrydag, 3 Februarie 2023
Koos Espach
Petrus en Kornelius (18)
Mense wat nie Jode is nie, ontvang die Heilige Gees (1)
Ons kan nie die Gees verontagsaam wat mense verander nie
Hand. 10:44-46 – “Terwyl Petrus nog praat, het die Heilige Gees op almal gekom wat na die woord geluister het. Toe die Joodse gelowiges wat saam met Petrus gekom het, hoor hoe die mense ongewone tale of klanke gebruik en God prys, was hulle baie verbaas dat die Heilige Gees as gawe uitgestort is ook op mense wat nie Jode is nie.”
Terwyl Petrus nog aan die praat was oor die lewensloop van Jesus, “het die Heilige Gees skielik neergedaal op almal.” God die Heilige Gees, wat al lank besig was om te werk in die harte van hierdie godvresende heidene, neem sigbaar besit van Kornelius, sy gesin en vriende, almal wat in sy huis na die goeie boodskap oor Jesus, geluister het. Hulle word deur die Heilige Gees oortuig van Jesus wat gekruisig is en op die derde dag uit die dood opgewek is en deur God aangewys is as die goddelike Regter en Verlosser van lewendes en dooies (10:38-42; vgl. Joh 16:8).
Die ses Joodse gelowiges wat saam met Petrus van Joppe af gekom het (10:23) was baie verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgestort is – hulle ontvang die Heilige Gees al stam hulle nie van Abraham af nie, hulle is dan nie eers besny nie! Hulle was oortuig dat die verbond wat God met Israel gesluit het, eksklusief met hulle alleen gesluit is! Petrus en die Joodse gelowiges is uit die hemel wakker geskud en word getuies dat God anders besluit het as wat hulle ooit kon dink – hierdie mense het dadelik in “ongewone tale of klanke gepraat en God geprys.” Hier vestig die Here sy kerk se sending na die heidene, soos Hy reeds met die ontmande uit Etiopië (8:27) en onder die Samaritane begin het (8:5). Petrus en sy metgeselle is die getuies van wat hier gebeur. Die eeue-oue afsondering van Israel is deur God beëindig.
Vir ons wat van kleindag af weet van die Heilige Gees en Sy kragtige werking, klink hierdie gebeurtenis miskien nie na iets besonders nie, totdat ons eintlik besef wat hier plaasgevind het. God het hier dwarsdeur die verwagtinge en wense van die Joodse gelowiges gesny. Sy Gees steek alle grense oor en vul mense wat tot in daardie stadium geen kontak met mekaar gehad het nie. Dit is wonderlik dat God nie vir mense wag om te besluit met wie en waar Hy wil werk nie. Die Gees waai waar Hy wil – “Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waarheen hy gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is” (Joh. 3:8). Goddank dat die Gees hom nie laat stuit deur vooroordele nie. Dink maar net waar sou ons gewees het as Christus se verlossingswerk en die Gees se vervulling net tot die Joodse volk beperk gebly het!
Feitlik elke Sondag bely Christene dat ons in die Heilige Gees glo. Wie is die Heilige Gees en wat doen Hy? Hy is een van God se drie persone. Die misterie hiervan is dat God een Wese is, maar in Sy almagtige Godheid bestaan Hy ook in drie Persone wat elkeen Sy eie werkswyse het. Hulle werk nooit los van mekaar nie. Die bewys hiervoor is dat die Gees van sowel die Vader as van die Seun af uitgaan en in ons werk – “Dan is dit nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat” (Matt. 10:20); “En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur” (Gal. 4:6). Die feit is dat ons deur die Heilige Gees deel kry aan Jesus Christus en Sy verlossingswerk. Die Gees gee aan ons geloof, lei ons tot weergeboorte en laat ons groei in die geloof. Maar hóé die Gees met ons gees werk en in ons werk, bly ‘n misterie!
Dit is waar ons enigste ware troos lê – in die Heilige Gees ons Vertrooster! As ons self ons geloof moes bewerk en op ons eie kragte moes staatmaak, sou ons die toets gedruip het – “(Ons) is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit (onsself) nie; dit is ‘n gawe van God” (Ef. 2:8). Ons het nie ‘n ander keuse as om deur die Gees na God toe te draai en na Hom te soek en te vra nie. Ons behoort aan Jesus Christus en geen sonde wat ons ook al wanneer in ons lewe gedoen het, kan ons skei van die liefde van God en ook nie van die ervaring van die gemeenskap van die Heilige Gees nie.
Sonder geloof in Jesus Christus kan ons nie gered word nie. Geloof is die hande wat die Gees aan ons gee sodat ons God se genade-verlossing in Christus kan omhels. Maar die kom en gaan van die Gees lê buite ons beheer, net soos dié van die wind. God stuur sy Gees uit om die harte van Sy uitverkorenes te vernuwe en hulle te herskep tot geestelike kinders van Hom aan wie toegang tot die koninkryk toegesê is. Juis omdat alles die werk van die Heilige Gees is, hoef ons nie daaroor te wonder nie. Ons kan dit net met dankbaarheid aanvaar, glo en vertrou.
“Elke keer as ons bely: ‘Ek glo in die Heilige Gees,’ bedoel ons dat ons glo dat daar ‘n lewende God is wat gewillig is om in mense te woon en hulle persoonlikhede te verander” (John Stott).
Gebed: Dankie Gees van God dat U hierdie groot waarheid diep in my hart kom indra sodat ek nooit hoef te twyfel nie: “Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” (Rom. 8:16). Amen.
Comments