Gedagte vir Vandag
Donderdag, 2 Februarie 2023
Koos Espach
Petrus en Kornelius (17)
Petrus se toespraak by Kornelius (8)
Geloof in Jesus is meer as genoeg
Hand. 10:43 – “Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang.”
Petrus sluit sy toespraak by Kornelius se huis af en wys daarop dat hy nie anders preek as wat die profete van die Ou Testament voorspel het nie. Deur na die profete te verwys, maak hy die hele saak nog geloofwaardiger. Hierdie “preek” van Petrus in Handelinge 10 is vandag vir ons ‘n aangrypende verhaal van ‘n uiters belangrike episode in die geskiedenis van die vroeë kerk. Hier beleef ons hoe God die mense uit die heidendom al meer ingetrek het by die saak van die drie-enige God. Ek sidder as ek dink wat kon gebeur het as Petrus nie uiteindelik ja gesê het vir die visie wat die Here hom gegee het om na Kornelius te gaan nie. Waar sou ons gewees het? Sou ons geweet het wat die profete van die Ou Testament verkondig het? Sou ons geweet het dat die vergifnis van sonde, aan geloof in Jesus en sy Naam verbind word soos hulle voorspel het (Jes. 33:24; 53:5-6; Jer. 31:34; Eseg. 34:16; Dan. 9:24; Joël 2:28).
Soms is dit moeilik vir baie van ons om te aanvaar dat daar nie harde werk nodig is om ons saligheid te verdien nie. As ’n mens uit ’n agtergrond kom waar jy vir alles moet werk wat jy wil verdien, is dit moeilik om te glo in iets wat jy net so verniet ontvang, dat “vergewing van sondes deur Jesus se Naam ontvang word.” Maar meer nog slaan dit my hoe eenvoudig God dit vir ons gemaak het om te glo. Dit bevestig die woorde wat Paulus vir Timoteus skryf: “... God het nog voor die wêreld begin het al besluit om so goed te wees vir almal wat aan Christus Jesus se kant staan” (2 Tim. 1:9 – Die Boodskap). Dis geloof in Jesus en wat Hy vir ons aan die kruis bewerkstellig het, wat ek en jy nodig het. Dis al. Dis meer as genoeg.
En in die Bybel leer ons meer van God se hart verstaan. Stukkie vir stukkie trek God in sy Woord die gordyne oop sodat ons die liefde wat Hy vir mense het, raaksien. Hier sal ek en jy leer dat ons nie ons plek in die hemel in kan werk, koop of verdien nie. Jesus se kruisdood is genoegsaam. Uit hierdie eenvoudige ware verhaal besef ons maar net weer hoe belangrik dit is dat ons elke dag ordentlik in God se Woord stap. ’n Mens kan nie dieselfde bly as jy deur God se Woord wandel nie. Jou denke word vernuwe. Hier kap jy die moeilike vrae van die lewe af en leer jy om weer soos ’n kind te glo – “Toe jy nog klein was, het jy al die Skrif gelees. Jy kan baie daaruit leer, soos hoe ’n mens se saak met God weer reggemaak kan word deur op Christus Jesus te vertrou” (2 Tim. 1:13 - Die Boodskap). Dit is ’n begrip wat eers by ons moet insink.
Ons moet Jesus Christus net as Verlosser aanneem en in Hom glo. Jesus het nie halwe werk gedoen nie, dit is volbring en genoeg, vir alle ewigheid! Ongelukkig is daar mense wat gevange gehou word deur hulle godsdiens – ‘n godsdiens wat gaan oor iets wat jy moet doen om jou god tevrede te stel; om sy guns te wen; om te keer dat hy jou straf; om seker te maak hy vir jou goed sal wees? Daarenteen word die Woord van God ‘n stem in ons lewe, in ons hart en in ons mond, “want waarvan die hart van vol is, loop die mond van oor” en“as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word” (Rom. 10:9). Dit is ‘n uitgemaakte saak. Die Woord waarin ek en jy glo, bevestig dat verlossing alleen is vir elkeen wat glo in Jesus Christus, ons Here!
Hierdie Woord het ‘n wesenlike deel van ons lewe geword wat daadwerklik bevéstig, dat Jesus Christus die Here is. Daarmee erken ons God het Hom uit die dood opgewek en as Nuwe Testamentiese gelowige, woon en werk die Heilige Gees in ons. “Hy skryf die woord, die goeie nuus, op ons harte en lê dit vas in ons gedagte.”(Jer. 31:33b). Vir ons gelowiges is die belydenis van Jesus Christus se opstanding uit die dood, ‘n 30cm verhouding: van die hart tot die mond, (Rom. 10:9). Dis ‘n liniaal lengte.
As ons nie die opstanding van Jesus Christus glo en dit bely nie, “is ons geloof waardeloos en is ons nog gevange in ons sondes” (1 Kor. 15:17). Hierdie toestand sou lei tot die ontkenning dat “God het (Koos) so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat (Koos) wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (Joh. 3:16). (Vervang my naam met joune) – 30 woorde, soortgelyk aan die 30cm liniaal geloofs-verhouding. Liniaal in Engels is ‘n ruler – maak dit jou eie en bely: “Jesus Christ is the Ruler of my life!”
“Die Christelike geloof het niks te doen met wat ons vir God kan doen nie; al wat ons kan doen, is om ons vrywees met verwondering te aanvaar en met dankbaarheid te vier” (William Barclay).
Gebed: Almagtige God, Vader van Jesus Christus, dankie dat U my as sondaar verwelkom het, my beklee het in Christus se geregtigheid. Heilige Gees, versterk my deur ons Vader se genade, dat my geloof in Jesus Christus my Verlosser, nie sal taan nie en dat ek elke dag daarin standvastig sal bly. Amen.
Comentários