top of page
Search

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Feb 1, 2023
  • 4 min read

Woensdag, 1 Februarie 2023

Koos Espach


Petrus en Kornelius (16)

Petrus se toespraak by Kornelius (7)


God is goed vir ons


Hand. 10:43 – “Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang.”


Lukas spandeer heelwat meer tyd aan hierdie verhaal van Kornelius en Petrus as aan meeste ander gebeure in Handelinge om vir ons te sê: Hier gebeur iets belangrik. Wat ons hier sien, is nie maar net ‘n demografiese skuif nie. Dit strek verder as die tradisies en wette waaraan die destydse Jode aan vasgeklou en geglo het. Dit fokus daarop hoe God se werk op aarde, al wyer uitbrei! Petrus benadruk dat die vergewing van sondes deur die Naam van Christus kom, d.w.s. deur alles wat Hy is, wat Hy gedoen het en steeds doen. Die vergifnis is vir almal wat in Hom glo. Dus is Kornelius, die nie-Jood en heiden, en ek en jy, ook ingesluit in die “elkeen” wat vergifnis kan ontvang. Geen wonder dat dit dan ook die langste verhaal in Handelinge is. Lukas het duidelik die belangrikheid hiervan besef.


Wat is die boodskap? Petrus sê “dat elkeen wat in Jesus glo, deur sy Naam vergewing van sondes ontvang.” Wat beteken hierdie boodskap vir my en jou? By implikasie beteken dit dat die Here besig is met ‘n heiligmaking-proses in ons lewe en, in ontsag vir God, moet ons só groei in die heiligmaking dat ons die vergifnis van die Here vir ons sondes aangryp en ons eie maak.


Partykeer wonder ek hoekom God nog iets met my te doen wil hê. Ek voel soms of ek dit eenvoudig net nie maak nie. Ek beur te veel oor die lyne. Ek dop gereeld die heiligmakingproses-toets. Ek is soms meer lou as warm. Ek doen baie keer nie dit wat ek weet ek móét doen nie. Dan wonder ek hoekom God my nie uitspoeg nie (Op. 3:16). Klink al dié gewonder bekend? Dalk wonder jy ook en word jy ook soms deur onsekerheid oorval.


Wel, dan is dit tyd dat ons met onsself ‘n vergadering hou. Ons verlossing het niks te doen met wat ons doen of nié doen nie. Ons is eintlik glad nie in die prentjie wanneer dit oor die verlossing van die mens gaan nie. Net die drie-enige God is in die prentjie wanneer dit oor die mens se verlossing gaan. Paulus stel dit mooi in Die Boodskap: “... God het ons mos weer sy vriende gemaak en gevra om net vir Hom te leef. Hy het dit nie gedoen omdat ons so goed is of so ’n goeie lewe lei nie, maar Hy het self besluit om dit te doen omdat Hy so goed vir ons wil wees, al verdien ons dit nie regtig nie” (2 Tim. 1:8-9). Kom ons lees weer mooi wat hier staan! Ons verlossing het nie ’n bloue duit te doen met wat ons hier op aarde vermag nie.

Dis God se besluit. Punt! God loop oor van liefde. Dit is deel van Sy karakter. Aangevuur en omring met hope en hope liefde, stroom die liefde uit Hom uit. Daarmee stoot Hy die hekke van die hemel oop om nooit weer toe te gaan vir dié, mét hulle lastige sondes, wat Hom as hulle Verlosser aanvaar het nie. Daardie dag toe Johannes vir Jesus in die Jordaan gedoop het, het God die hemel bokant Jesus oopgemaak om nooit weer toe te gaan nie! (Matt. 3:13-17).


Daardie dag het die hemel, vir alle gelowiges in Jesus Christus, oopgegaan en, soos Martin Luther verduidelik het, staan die hemel sedert dáárdie dag steeds oop oor die hele wêreld, oor ons almal, “elkeen wat in Hom glo”, elkeen wat Jesus Christus aanneem as hulle Saligmaker en Verlosser. Die hemel het ook vir my en jou oopgegaan! Is dit nie wonderlik nie? Die hemel het met genadige geweld oopgeskeur vir verlore en soekende mense – sondaars soos ons!


En vandag begin God se genade reeds met die mens terwyl ons nog klein is, met die doop van ʼn swak babatjie! Daar is teoloë wat sê met Jesus se doop is ons water geheilig tot doopwater. Dit is steeds gewone water, maar dan as teken en belofte dat God Homself, met ál Sy verlossende genade in Christus, tot vandag toe nog aan ons en ons kinders verbind. Kom ons vier God se goedheid! Kom ons gryp elke oomblik daarvan aan en omhels dit met ons hele lewe!


“Wie een keer in Jesus Christus die spieëlbeeld van God se Vaderhart gesien het, kyk vir die res van sy lewe met nuwe oë na die wêreld” (Martin Luther).


Gebed: Dankie Vader, die hemel skeur oop, die Gees daal soos ‘n duif saggies op Jesus neer, U knik as’t ware bevestigend U kop en plaas U goedkeuring op die gebeure en U kom bemoei Uself met ‘n wêreld in nood, ‘n wêreld wat nie weet wat om met ál sy sondes te doen nie, met my, sondaarmens! Saam met U kinders sing ek oor U genade. Amen.

 
 
 

Recent Posts

See All
Gedagte vir Vandag

Vrydag, 25 Maart 2025 Koos Espach Die wet en die sonde (2)   Die wet ontmasker die sonde Rom. 7:9-12 – “Voorheen, toe die wet nie daar...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Donderdag, 24 April 2025 Koos Espach Die wet en die sonde (1) God voorsien in ons behoeftes Rom. 7:7-8 – “Wat is dan ons gevolgtrekking?...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Woensdag, 23 April 2025 Koos Espach Bevry van die wet en in diens van God, diensbaar aan Christus (3) Diens vir my en jou is nie...

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page