Gedagte vir Vandag
Maandag, 16 Januarie 2023
Koos Espach
Petrus en Kornelius (4)
Petrus se visioen (2)
Maak los die handrem
Hand. 10:13-16 – “Petrus hoor toe ‘n stem vir hom sê: ‘Kom, Petrus, slag en eet.’ Maar Petrus sê: ‘Nooit nie, Here! Ek het nog nooit iets geëet wat onheilig of onrein is nie.’ Hy hoor die stem toe weer, die tweede keer, vir hom sê: ‘Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie.’ Dit het drie keer gebeur, en daarna is die doek weer in die hemel opgetrek.”
Die stem uit die hemel wat Petrus uitnooi om te slag en te eet, is dié van die verhoogde Christus wat met hom praat, soos met Saulus (9:4). Petrus antwoord en beklemtoon baie sterk, “nooit nie, Here! Ek het nog nooit iets geëet wat onheilig of onrein is nie.” Hoewel hy honger was en die Here met gesag, as “Here” aanspreek wanneer hy antwoord, weier Petrus met dieselfde heftigheid wat so kenmerkend van hom was, om die opdrag te gehoorsaam. ’n Tweede en derde maal kom die stem tot Petrus en sê dit uitdruklik dat hy nie onrein mag ag wat die Here rein verklaar het nie (Mark. 7:18 e.v.). Die feit dat die bevel drie maal herhaal word, benadruk die erns daarvan en bevestig dat God sy wil bekend gemaak het en vir geen misverstand vatbaar is nie.
Dat Petrus by ’n leerlooier wat met dooie diere se velle werk en volgens Joodse tradisie onrein is en nou ook vir hom kos maak, het hom skynbaar nie gepla nie. Petrus kry weer drie kanse, soos tydens Jesus se verloëning, (Matt. 26:69-75), om die regte ding te doen, maar weer verbrou hy dit. Ter versagting egter, Petrus het immers die Joodse wette wat die eet van onrein diere verbied, goed geken (Lev. 11:29; 11:41; 20:25). Dalk het hy die opdrag van die Here as ‘n toets verstaan en onmiddellik sy godsdienstige lojaliteit verklaar.
Petrus antwoord: “Ek het nog nooit ...!” Drie maal beveel die Here vir Petrus om die Ou-Testamentiese tradisies oor kos, eens en vir altyd opsy te skuif, maar hy wil nie! Nie eers ‘n visioen, of ‘n direkte openbaring van die lewende Jesus Christus, kry hom so ver om sy tradisies oorboord te gooi nie. Dis eintlik hartseer dat ‘n mens vandag nog, steeds so verknog kan raak aan mensgemaakte reëls en wette, dat jy nie eens meer luister as die lewende God self met jou praat nie. “Ek het nog nooit ...” is die swakste rede wat voor die Here bestaan. Wanneer ek en jy ‘n opdrag van die Here ontvang, verval elke ek-het-nog-nooit. Daarmee saam verval die verlede, die verknogte tradisies, die ou gebruike, selfs die ou vrese.
Die Here wil in ons verhaal, twee mense by mekaar uitbring – Kornelius vir wie Hy wil beloon omdat hy na Hom gesoek het in gebed, en vir Petrus wat ‘n sekere ding-nog-nooit-gedoen-het-nie. “Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie.” Daar is seker nie ‘n duideliker en treffender Skrifgedeelte om God se beskouing oor allerlei skeidinge wat deur mense tot wet verklaar is, te illustreer nie. Daarom is dit miskien nodig dat ek en jy ons tradisies en gebruike, toets aan sy Woord. Elke ding wat ek en jy dus doen, hoe geloofwaardig ook al, moet dan die nuwe openbarings van Jesus in die Woord deurstaan.
Jesus het almal wat Hom aangeneem het as hulle Verlosser, vrygemaak van die gevolg van sonde. Hy het die boeie waarmee die sonde ons gevange gehou het, losgemaak. Maar dit lyk tog of ons bietjie sukkel met dié vryheid. Dit lyk vir my mense wil eerder duidelike bane hê wat die pad van die lewe vir ’n mens aandui. Daarom dat hulle kort-kort terugbeur na wette en regulasies en byvoorbeeld die spreekwoordelike handrem optrek oor wat ‘n mens mag eet en nie mag eet nie. Baie keer is dit juis die lekker dinge waarvan mense hulle nou moet weerhou. Dit laat my dink aan die kerk wat vroeër jare gesê het dat ’n mens nie mag dans nie, want dis sonde. En toe begin die mense daaroor te grap en te sê, jy mag dans, solank jy dit nie geniet nie …!
Dit is egter niks vreemd dat mense die handrem vir die vryheid wat Christus geskep het, wil optrek nie. Paulus waarsku ook: “Dwaalleraars en skynheilige leuenaars verbied mense om bepaalde soorte kosse te eet. Maar God het die voedsel gemaak, sodat dié wat glo en tot die kennis van die waarheid gekom het, dit met danksegging kan gebruik. Alles wat God gemaak het, is immers goed” (1 Tim. 4:2-4). Ons moet oppas dat ons nie om die bos gelei word nie. So maklik verval ons weer in reëls en regulasies wat al ons vryheid kom steel. Só maklik wil die “heilige gelowiges” almal reghelp om te dink en doen soos hulle. Dan begin hulle ’n klomp reëls en wette opmaak om mense in lyn, in hulle geskepte lyn, te bring. Dis net hier waar God se genade en liefde by die deur uitvlieg en ‘n eie “godsdiens” gebore word en die werk van Jesus aan die kruis onnodig word.
Die Here laat Hom nie stuit deur ek-het-nog-nooit-nie! Dit is slegs binne ’n intieme verhouding met Jesus waar ons nie reëls en regulasies nodig het om ons in lyn te hou. Binne dié verhouding is dit juis die taak van die Heilige Gees om ons met Sy sagte stem op die pad te hou. Hier word ons vryheid beskerm. Hier word die handrem losgemaak en so gelos. Hier mag ek en jy die vryheid wat Christus gebring het, geniet en mag ons dit met almal om ons deel. Kom ons doen dit dan!
“Geen daad is as sodanig goed óf sleg; reg of verkeerd nie. Dit is die motief daaragter wat dit so maak” (Dietrich Bonhoeffer).
Gebed: Here, U het U lewe vir my opgeoffer sodat ek nie die straf wat my sonde verdien, self hoef te dra nie. Dankie dat U bloed my vrygemaak het van menslike tradisies en ek in ‘n liefdesverhouding met U mag wees. Geen reëls en regulasies kan dit regkry soos hierdie liefde nie. Amen.
Comentarios