top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 13 Januarie 2023

Koos Espach


Petrus en Kornelius (3)


Petrus se visioen (1)


Die hemel het oopgegaan om nooit weer toe te gaan nie


Hand. 10:9-13 – “Die volgende dag teen twaalfuur die middag, toe hulle op hulle reis al naby die dorp was, het Petrus opgegaan na die dakstoep van die huis om te bid. Hy het later honger geword en hy wou iets hê om te eet. Terwyl die mense die ete klaargemaak het, het hy in geesvervoering geraak. Hy het die hemel oop gesien en iets soos ‘n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word, sien afkom grond toe. Daarin was van al die viervoetige en die kruipende diere van die aarde en van al die wilde voëls. Hy hoor toe ‘n stem vir hom sê: ‘Kom, Petrus, slag en eet.”


Vandag reis ons saam met Kornelius se afvaardiging op pad Joppe toe. Terwyl Kornelius se mense op hulle reis die volgende dag al naby die dorp was, het Petrus om twaalfuur die middag na die dakstoep van Simon die leerlooier se huis, waar hy tuis was, gegaan om te bid. Petrus het baie honger geword, sodat die mense, wat self nie gewoond was om twaalfuur te eet nie, vir hom voedsel moes berei. Terwyl die mense van die huis daarmee besig was, het Petrus in geesvervoering, of in ‘n ander staat van bewussyn, geraak. Soos in die geval van Kornelius, (10:2), word ook die oomblik van die gebed vir hom ’n oomblik van openbaring, en, soos in die geval van Filippus, (8:26), en Saulus, (22:6), het dit om twaalfuur die dag gebeur.


Petrus sien in sy visioen die hemel is geopen en ’n voorwerp is besig om af te daal, iets soos ’n groot doek wat stadig aan vier hoeke neergelaat word op die aarde. In die groot dalende voorwerp was daar van elke soort viervoetige en kruipende diere, of reptiele wat slange, rotte, muise, paddas, akkedisse, ens. van die aarde en van al die wilde voëls van die lug, insluit. Hier was dus geen onderskeid tussen rein en onrein diere nie.

Dan hoor Petrus ‘n stem wat kom uit die geopende hemel. Dit is die stem van die verhoogde Christus vir wie Petrus liefhet en dien en verkondig, wat hom beveel om die diere en voëls te slag en te eet. Petrus het homself as’t ware honger gebid op die dakstoep en terselfdertyd gebruik die Here sy fisieke behoefte om ‘n baie belangrike geestelike les by hom tuis te bring. Wanneer God se stem uit die hemel kom, gebeur iets belangriks – die evangelie moes aan die heidene, volgens die Jode, die onreines, verkondig word, en dit moes baie duidelik wees dat dit volgens die wil van God was.


Jesus het ook uit die hemel met een doel aarde toe gekom, en dit was om vir ons sondes te sterf. Ja, die wete van wat vir Hom voorgelê het, het Hom ontstel – “Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie uur? Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur. Vader, verheerlik u Naam!’ Toe het daar ‘n stem uit die hemel gekom: ‘Ek het my Naam verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik ... Toe sê Jesus: ‘Hierdie stem het nie om my ontwil gekom nie, maar om julle ontwil” (Joh. 12:27-28 en 30). Niemand wil sterf op 33 jarige ouderdom nie en veral nie wreed aan ‘n kruis nie. Jesus het Hom spreekwoordelik “in die skadu van die kruis” bevind en erken dat Hy, as mens, nie verby die ontsteltenis daarvan kan kyk nie.


Daar was vir Hom geen ander pad om te loop nie, daarom vra Jesus dat die Vader Sy plan moet laat verloop soos dit moet. Jesus se spanning maak plek vir sekerheid, Sy lot laat Hom nie terugdeins nie. Die “stem uit die hemel” bevestig soos voorheen, God se teenwoordigheid: “Jy is My geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My” (Mark. 1:11); “Dit is My geliefde Seun. Luister na Hom” (Mark. 9:7b). En nou bemoedig Sy Vader Hom vir die soveelste keer: “Ek het my Naam verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.” In en deur Sy kruis sou Jesus die sonde en die dood vir altyd breek en dit vir alle mense moontlik maak om weer by God uit te kom!


Die verleiding van die wêreld en satan se aanslae bly ongelukkig steeds realiteite in elke gelowige se lewe. Gelukkig het God Jesus se gebed op ‘n aangrypende wyse verhoor. Met ‘n magtige stem uit die hemel het Hy geantwoord dat Hy sy Naam reeds verheerlik het in die optrede en gehoorsaamheid van sy Seun, Jesus. Jesus se kruis beteken ‘n dieper verhouding met God! Jesus het “juis hiervoor gekom, vir hierdie uur, sodat ons Vader se Naam verheerlik kan word!” Laat God dus my en jou vreugde wees. Dankie Jesus, dat U die pad van smart enduit om ons onthalwe geloop het! Ons wil ons lewe saai in U hemelse landerye en daarom kan ons verseker wees van ‘n oes van ewige vreugde!


“God's will meant the Cross and Jesus had to nerve himself to accept it” (Johann Bengel).


Gebed: O Gees van God, laat die kruis elke dag ‘n muur tussen my en sonde bring. Dankie Jesus dat U aan die kruis my sondesmet afgewas het met U bloed. Laat U kruis dieper in my gaan, vorm my totale menswees: hoe ek kyk na dinge om my, hoe en wat ek praat. Verander my gedrag en denke sodat dit tot gevolg het dat ander U, in en deur my optrede sien. Amen.

Commentaires


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page