Gedagte vir Vandag
Donderdag, 12 Januarie 2023
Koos Espach
Petrus en Kornelius (2)
Kornelius se visioen (2)
God beweeg hemel en aarde om ons te vind
Hand. 10:5-8 – “Stuur nou dadelik mense na Joppe toe en laat daar ‘n sekere Simon haal wat ook Petrus genoem word. Hy is tuis by ‘n ander Simon, ‘n leerlooier, wat by die see woon.’ Nadat die engel wat met hom gepraat het, weggegaan het, het Kornelius twee van sy huisbediendes en een van sy lyfwagte, ‘n godsdienstige soldaat, geroep. Hy het hulle alles vertel en hulle na Joppe toe gestuur.”
Die Here ontmoet Kornelius, ‘n welgestelde Romein, in ‘n visioen en gee hom ‘n opdrag om Petrus, ‘n eenvoudige Israeliet te laat haal. In die geloof moet hy ’n wildvreemde man laat haal. Selfs die naam en plek van verblyf van die man wat hy moes laat haal, word duidelik genoem. Uit die besonderhede van die omskrywing van Petrus blyk dit dat Kornelius nog niks van hom of sy omstandighede geweet het nie. Dit bevestig ook dat hy nog nie van Jesus Christus gehoor het en dat die gemeente in Sesarea nog nie ’n heiden in hulle geledere opgeneem het nie. Oor die doel van wat Petrus moet kom doen, bly Kornelius in die duister as toets vir sy gehoorsaamheid aan die opdrag van die Here. Kornelius moes God in geloof vertrou.
Na die engel wat met hom gepraat het se vertrek, roep hy twee van sy persoonlike slawe, (daar moes dus meer as twee gewees het), en as hulle beskermer, een van sy persoonlike soldate wat aan God toegewy gelewe het. Die mense in sy diens sê vir ons hoe welgesteld Kornelius was. Al drie is sy vertrouelinge en godvresendes nes hy. Kornelius vertrou aan hulle al die besonderhede toe van wat met hom gebeur het en die opdrag wat hy van die engel gekry het. Hy stuur hulle na Joppe, ongeveer 50 kilometer suid van Sesarea, om Simon Petrus wat tydelik by Simon die leerlooier as gas oorbly, te gaan haal. Die mans moes dadelik vertrek, voordat Petrus die adres verlaat.
Net so het ons vertroue in enige verhouding nodig, sodat albei partye daaruit gedien kan word. Vertroue is nodig vir ’n gesonde verhouding. Hierdie hoofbestanddeel was beslis deel van die verhouding tussen God en Kornelius. Dit is waar die verhaal begin. By God wat hemel en aarde beweeg om ‘n man te bereik wat met oorgawe gebid het tot Hom. Hy was gedurigdeur in gebed en het baie liefdadigheid bewys, sê Lukas vir ons. Soos Kornelius God gedurigdeur in sy gedagtes gehou het, só was Kornelius ook in God se gedagtes. En God besluit om iets aan die saak te doen.
Dit is onmoontlik om in ’n verhouding met God te staan as ons Hom nie 100% vertrou en glo dat Hy ’n werklikheid is en tot ons redding sal kom nie. Hoe sal ek en jy vir God kan dien as ons nie eintlik weet of Hy wakker is en ons swaar sien nie? Of hoe sal ons in Hom kan glo as ons wonder of Hy regtig die vermoë het om iets aan die berg voor my en jou kan doen? Geloof behaag God, sê die Hebreërskrywer: “As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon” (Heb. 11:6).
Geloof in God is ’n onmisbare bestanddeel in ’n gesonde verhouding tussen mens en God. Die onderstreepte gedeelte van ons Hebreërs teksvers staaf dit. Kornelius se soektog na God was eintlik nog in ‘n spartelende verhouding met Hom. Hy het nog nie geweet van die nuwe lewe in Jesus Christus nie, van Sy opstanding uit die dood, van die ewige lewe wat as beloning vir sy geloof in die Weg, die Waarheid en die Lewe is nie (Joh. 14:6). Kornelius het nog iets gemis! Het Kornelius na God gesoek? Gewis, en God het hom beloon! En só sien God ons ook raak, soos vir Kornelius. Ons moet Hom net onophoudelik soek!
Die vertrekpunt van geloof is die aanvaarding “dat God bestaan” en dat ons Hom sal soek as die enigste werklike beslissende Iemand in ons lewe. En hoe soek ons Hom? Een van die maniere is deur gebed. Ware gebed is ‘n persoonlike ondervinding van die teenwoordigheid van die lewende Jesus – nie alleen net in ons stiltetyd nie, maar ook dwarsdeur ons bedrywige dag. Die “beloning” is die vreugde wat gebring word deur die wete dat Christus altyd met ons is, soos Hy belowe het in Matteus 28:20. Dit is ‘n versekering dat ons in Hom leef en Hy in ons (Joh. 15:4). Ware gebed vereis dat ek en jy sal glo dat God op ons gebede sál antwoord. Dit vra dat ons in geloof gewillig sal wees om, wat Hy ook al antwoord en gee, te aanvaar. Hy alleen weet immers wat op die ou end vir ons die beste sal wees. Ons sal nooit tevergeefs soek na Hom nie. Glo dat Hy altyd daar is vir ons!
“Hou aan glo en bid, maar hou ook daarmee rekening dat God se antwoorde wyser sal wees as jou versoeke – en dat dit nie altyd vir jou só sal lyk nie” (Dag Hammarskjöld).
Gebed: Vader, ons is so gewoond daaraan dat mense ons teleurstel en dink dan dat U dit ook sal doen. Maar U is God. U is heilig en betroubaar. Help my om dit met my hart en verstand te glo en in geloof U altyd sal behaag en verbly. Dankie dat U ‘n God is wat U laat vind en bemoeienis maak met my. Amen.
Comments