top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 9 Januarie 2023

Koos Espach


Goeiemôre liewe vriende,


Welkom terug aan die begin van nog ‘n jaar. Iemand het eendag gesê dit is dié tyd van die jaar wanneer jongmense droom oor al die moontlike nuwe verwagtinge, en oumense onthou van die goeie ou dae en hoop dat ‘n nuwe jaar, sommige van daardie goeie ou dae se sprankelende oomblikke sal herleef.


Na twee jaar van COVID, is baie mense ook dankbaar 2022 wat die belofte ingehou het, ‘n beter “normale” jaar gaan wees, is finaal verby. Vir sommige mense was dit ’n moeilike jaar. Vir ander dalk nie so lank en ongemaklik nie. As ek so terugkyk oor die jaar wat verby is, was die pad by tye afdraende, maar meer gereeld, erg hobbelrig, en tog, oomblikke van vreugde ook.


Al het die jaartelling nog ‘n keer verander, bly so baie dinge steeds dieselfde – dieselfde hartseer, dieselfde vrae, dieselfde probleme, dieselfde uitdagings en dieselfde mense – ook dieselfde ek en jy! Maar, dankie tog, Jesus is ook nog dieselfde: "Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid" (Heb. 13:8).


Ons is dankbaar om dan vandag, soos ons belowe het voor die feesgety, weer die dagstukkies kan begin uitstuur. Dankie dat ons Maandae tot Vrydae daar by jou kan kuier. Dankie dat jy toelaat dat die Heilige Gees met jou hierdeur woel. Dankie vir elkeen wat saampraat, vir elke bemoediging, vir elke dankie. Onthou net asseblief, dit gaan nie oor ons nie, maar oor Hom wat vir ons die krag en insig gee om hierdie geestelike bus aan die gang en op die pad te hou, al is dit soms ‘n erg hobbelrige pad. Sonder die Heilige Gees se “brandstof” sal ons nie kan voortgaan om die huidige 1, 012 adresse bereik nie.


Ek en jy het soveel genade en vrede nodig, want dis asof die wêreld daar buite alles by ons kom steel. Hier diep binne-in ons het die vrede en vreugde plek-plek weggeraak en seer het hom lekker kom tuismaak. Ons is moeg vir die voortslepende krag- en politieke probleme, moeg vir swak dienslewering en ander goeters wat ons feitlik elke dag die harnas injaag. Daar is nie ’n pleister wat ’n mens kan plak om dit te genees nie. Dis net God wat dit kan beter maak – waarlik, “ons hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het” (Ps. 121:2). Ons het elke oomblik van die dag God se guns in ons lewe nodig. Ek dink nie ons besef regtig hoe nodig ons vir God, Jesus en die Heilige Gees het om deur die lewe te gaan nie. Die lewe is die heeltyd vol uitdagings. Daar kom gereeld ’n curve ball uit een of ander hoek van die lewe en baie keer is ons te stadig om te koes.


Gelukkig is God daar om ons gedurende 2023 met Sy sagte aanraking te vertroos. Daarom moet ek en jy sorg dat ons vanjaar daar is waar Hy aan die werk is met Sy krag en liefde! Ek wil dit waag om te sê dat een van die belangrikste plekke om vanjaar te wees, is daar waar die Woord van God is en daarom wil ons jou weer opnuut uitnooi om onder andere, die dagstukkies as ‘n stilhouplek te gebruik in jou Godwaardse groei. Moet egter nie jou eie Bybelstudie nalaat nie.


As jy van iemand weet soos kinders, familie en vriende wat ook baat kan vind by die dagstukkies, stuur asseblief hulle name en e-pos adresse of selfoon nommers, en ons plaas hulle met liefde op die poslys. Gryp elke oomblik aan om stil te hou langs die lewenspad waar jy, keer op keer lewende water uit God se Woord kan raakloop om jou dors te les en nog ‘n stukkie brood ook te kry om jou “honger” te stil. Gebruik elke kosbare oomblik tot jou beskikking om die Here se liefdevolle arms om jou te voel en Hom hoor fluister: “Ek is by jou al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matt. 28:20b).


Here, met ons lofprysinge dank ons U vir ‘n nuwe jaar wat U aan ons lewe toegevoeg het. Dit is vir ons ‘n onuitspreeklike voorreg om hierdie jaar as U kinders aan te pak en te beleef. Daarom bid ons in diepe afhanklikheid van U om krag en inspirasie, om raad, insig en leiding, om U liefde en troue sorg vir 2023. Soos kinders wat opkyk na hulle ouers, kyk ons met verwagting en opgewondenheid op na U as ons Vader en sien ons U uitgestrekte arms wat na ons toe reik. Wil U gee dat ons in hierdie nuwe jaar wat voorlê, nooit sal vergeet Wie se kinders ons is nie. Here, maak ons dankbaar en nederig en wys ons elke moontlike geleentheid waar ons U Naam kan prys. Amen.


Geseënde 2023


Koos en Renette Espach namens die Leraarspare en Kerkraad van NG Fochville-Noord Gemeente.

Комментарии


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page