top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 1 Desember 2022

Koos Espach


Petrus en Kornelius (1)


Kornelius se visioen (1)


God wil aan ons net goed doen – dis Sy styl


Hand. 10:1-4 – “In Sesarea was daar ‘n man met die naam Kornelius, ‘n kaptein in die Italiese regiment. Hy was godsdienstig en godvresend, hy en sy hele huisgesin. Hy het baie gedoen om die armes onder die Joodse volk te help en het gereeld tot God gebid. Een middag teen drie-uur het hy in ‘n gesig duidelik ‘n engel van God na hom toe sien kom wat na hom roep: ‘Kornelius!’ Kornelius het hom verskrik aangekyk en gevra: ‘Wat is dit, Meneer?’ Die engel sê toe vir hom: ‘God het gelet op jou gebede en op wat jy vir die armes doen, en Hy het aan jou gedink.”


Lukas tel die draad van sy verhaal weer op in Sesarea waar hy afgesluit het in hoofstuk 8. Die bevolking van Sesarea het hoofsaaklik uit heidene bestaan, hoewel daar ook baie Jode was. Kornelius was ‘n hoofman oor honderd, ’n Romeinse keurgroep van soldate, afkomstig uit Italië. Kornelius word beskryf dat hy saam met sy hele huisgesin (wat sy familie en ook sy slawe ingesluit het), godsdienstig toegewyd en godvresend was. Heel moontlik het hy van die God van Israel gehoor by Filippus wat die evangelie verkondig het in Samaria waar Sesarea geleë is.


Godvresendes was heidene wat nie gemoedsrus in hulle eie godsdiens gevind het nie, en, sonder om hulle te laat besny, hulle toevlug tot die Joodse geloof geneem het. Hulle het hulle aan die verskillende Joodse voorskrifte onderwerp, gereeld die sinagoge besoek en die God van Israel gedien. Die Joodse vroomheid van Kornelius kom hierin tot openbaring dat hy ook die Joodse gebedstye onderhou, en baie gedoen het om die armes onder die Joodse volk te help. Dit is treffend dat die eerste nie-Jood met wie Jesus in die Evangelies te doen gekry het, ook ’n hoofman oor honderd was van wie Hy gesê het: “Dit verseker Ek julle: Ek het nog by niemand in Israel so ‘n groot geloof teëgekom nie. Ek sê vir julle: Baie sal van die ooste en die weste af kom en saam met Abraham, Isak en Jakob aan tafel gaan in die koninkryk van die hemel” (Matt. 8:10b-11). Hierdie woorde het nou t.o.v. ’n ander hoofman, in vervulling gegaan.


Kornelius verteenwoordig ‘n baie interessante situasie: Dié van ‘n goeie godsdienstige mens wat selfs met die Jode en Christene kan identifiseer – ‘n goeie godsdienstige mens, maar nie ‘n Christen nie. Dit is seker een van die gevaarlikste posisies om in te wees ... tensy die Here deur Sy genade ‘n wonder laat gebeur! In Kornelius se hart was daar ‘n opregte begeerte om God te ontmoet, en die Here laat dit gebeur – “die engel sê vir hom: ‘God het gelet op jou gebede en op wat jy vir die armes doen, en Hy het aan jou gedink.” Wanneer God aan ‘n mens dink, gebeur daar iets. God se gedagtes word ‘n daad van redding.


God wil vir ons goed doen. God wil plekkies soek om vir ons spesiale dinge te laat gebeur. God onthou ook daardie kere wat ons goed gedoen het en “Hy dink aan ons.” Hy het ‘n onfeilbare geheue! Die Hebreërskrywer beaam dit: “God is regverdig. Hy sal julle werk nie vergeet nie en ook nie die liefde wat julle vir sy Naam betoon deurdat julle julle medegelowiges gedien het en nog dien nie” (Heb. 6:10). God wil ons toevou met Sy stortvloed van seën en dit oor ons laat reën. Dis Sy styl.


Ek glo ons doen nie aan ander goed, sodat God vir ons goed kan wees nie. Ons doen dit mos uit liefde vir God. Ons doen dit uit dankbaarheid vir alles wat God vir ons doen en reeds gedoen het. Om goed te doen aan ander gelowiges, is ’n outomatiese uitvloeisel as ’n mens God se verlossing aan jou lyf ervaar. En God “onthou” dit, “Hy sal dit nie vergeet nie, Hy is regverdig ...” Dit beteken dat Hy ons aktief sal onthou om aan ons goed te doen, op ‘n heerlike wyse aan ons erkenning gee.

God stop egter nie daar nie. God skenk ons Sy genade – nie net as ons eendag van die aarde af vertrek nie, maar ook nou, terwyl ons hier lewe. God wil nóú ook vir ons spesiale ervarings gee. God wil ook vir ons spesiale goeters gee. Dis Sy styl. Ja, ons doen nie goed om te verdien nie. Maar ek en jy mag vir spesiale oomblikke vra. Dieselfde gebeur wanneer God aan ons “dink”. Wanneer die moordenaar vir Jesus aan die kruis “vra om aan hom te dink wanneer Hy in die koninkryk kom ...” (Luk. 23:42-43), dink Jesus inderdaad aan hom, en daar gebeur iets skeppends: die veroordeelde misdadiger word ‘n begenadigde paradysganger – saam met Jesus in die hemel, vir altyd!


Wat ‘n ongelooflike geskenk! Om vir ‘n oomblik se aandag van Jesus te vra en dan die ewigheid se aandag in antwoord op jou versoek te kry! So is Jesus. Dis Sy styl! Hy staan gereed om ons hartsbegeertes op ‘n ongelooflike wyse te vervul. Hy skenk baie meer as waarop ek en jy kan reken. Ons kan ook waag om met ons versoeke na Hom toe te gaan – “Hy let op ons gebede en op wat ons vir die armes doen, hoe gering ook al, Hy dink aan ons.” Een opregte gebed is genoeg om die hemel oop te sluit. Glo dit. Doen dit!


“Gebed is nie ‘n manier om van God gebruik te maak nie; dit is ‘n manier om onsself aan God te gee sodat Hy óns kan gebruik” (William Barclay).

Gebed: Vader, U is so goed vir ons. U wil net die beste vir U kinders hê. Ek glo dat U elke dag spesiale oomblikke vir my beplan. Help my om dit raak te sien. In Jesus se Naam. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page