Gedagte vir Vandag
Woensdag, 30 November 2022
Koos Espach
Petrus in Lidda en Joppe (4)
Die opwekking van Tabita (3)
God is op pad na die hele wêreld
Hand. 9:41-43 – “Petrus het Tabita met die hand help opstaan, die weduwees en ander gelowiges geroep en haar lewend voor hulle gebring. Die hele Joppe het hiervan gehoor, en baie mense het tot geloof in die Here gekom. Petrus het geruime tyd daar in Joppe gebly by ‘n sekere Simon, ‘n leerlooier.”
Die gelowige Tabita maak haar oë oop, die eerste teken van lewe. Toe sy Petrus sien vir wie sy waarskynlik geken het, het sy regop gesit – hy het deur Jesus, haar na die lewe teruggebring. Dieselfde man wat op ‘n dag begin sink het toe hy op die water na Jesus toe moes loop en sy geloof hom in die steek gelaat het, het nou die geloof gehad om die dood se kake oop te bid om Tabita aan haar hartseer weduwee-vriendinne terug te gee.
Dit is geen wonder dat die hele Joppe van die opspraakwekkende opwekking gehoor het nie, en die gevolge daarvan is verruklik! Joppe is groter as Lidda, en hoewel nie almal tot die geloof in die Here gekom het nie, was daar tog baie wat wel gelowig geword het. Dit kon ook nie anders nie, ’n God wat mense kan gebruik om selfs dooies weer lewend te maak, is ‘n God in wie ‘n mens kan glo! Die Heilige Gees werk deur sy opwekking van Tabita, om geloof in Jesus by mense te wek – “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God” (Ef. 2:8).
Petrus het sekerlik die grootste wonderwerk van sy eie lewe in die Naam van Jesus Christus hier in Joppe verrig. Maar Petrus weet dis nie sy vermoë wat die dood oorwin het nie, en miskien was dit die rede waarom hy ’n geruime tyd daar gebly het. Ons weet nie hoe lank nie, maar hy het “by ‘n sekere Simon, ‘n leerlooier”, gaan bly. Dit is nogal betekenisvol. Aangesien leerlooiery by die Grieke en Jode tot een van die veragte beroepe behoort het. ‘n Jodin kon ‘n egskeiding aanvra as sy sou uitvind haar man is ‘n leerlooier.
Dit was so, omdat ‘n mens in die beroep verplig was om die dooie liggaam van diere aan te raak en sodoende onrein geword het (Lev. 11:39). ‘n Leerlooier se huis of werkplek moes daarom op die buitewyke van die dorp wees as gevolg van die stank wat met die leerwerk gepaard gegaan het. Dit is heel moontlik waarom Simon se huis by die see was (10:6).
Petrus bly by so iemand oor. Dit was waarskynlik sy eerste tree op die pad om later saam met heidene te eet. Aangesien die leerlooiers deur die Grieke en Jode verag is, getuig hierdie optrede van Petrus reeds van die vryer opvattings wat hy gehuldig het teenoor sy volksgenote. Hiermee begin hy hom reeds van die vooroordele van sy volksgenote losmaak. Sy verblyf by Simon berei hom voor vir sy ontmoeting met Kornelius in hoofstuk 10.
En hier in Joppe gaan Petrus voort met sy werk. God is op pad met Sy groot sending met een van Sy groot apostels – en die pad loop deur die huise van die “onreine wildsbokkie” wat dood was, en die leerlooier wat met dooie diere werk! So werk God – en so mag ons nooit die geringstes verby gaan nie, maar nederig in geloof, dien. Om nie in die strik van hoogmoed te trap nie, moet ons Jesus se nederigheid onthou. Hy was ewe tuis by geleerdes in die tempel as by die Samaritaanse vrou by die put van Jakob (Joh. 4:5-7).
So mag ek en jy ook nooit dink ons “stinkende” huis is nie goed genoeg nie. Op elke terrein van die lewe vind ons hoogmoedige mense wat voel dat hulle posisie in die samelewing hulle die reg gee om hoër geag te word as ander. Hulle dink dan ook dit gee aan hulle die reg om neerbuigend op te tree teenoor dié wat hulle as hul minderes beskou. Onthou: “Met hooghartige spotters dryf Hy die spot, maar Hy is goed vir dié wat beskeie is” (Spr. 3:34).
Alleen wanneer ons, soos Jesus, ons hoogmoed en sosiale status vergeet en voetewassers word (Joh. 13:1-17), kan ons verwag om ‘n bydrae te lewer tot die uitbreiding van Sy koninkryk. Om soos Jesus te wees en Hom te volg, moet ons offervaardig wees – instrumente in Jesus se hand wat Hy kan gebruik soos Hy goeddink. Ons moet bereid wees om diensbaar te wees, in nederigheid beskikbaar te wees, soos Jesus af te buk en uit liefde en dankbaarheid vir wat Hy vir ons gedoen het, “voete te was”, sonder vergoeding. Jesus se liefdesdiens slaan niemand oor nie, Sy liefdesdiens is eenders vir almal. Hy was almal se voete, selfs Judas s'n.
Ons is almal saam aan tafel - níémand se voete is skoon nie. Ons bewandel dieselfde sondige paaie, volg dieselfde afdraaipaaie, nie één van ons se voete is skoon nie. Daarom is ons mekaar se voetwassers! Jesus roep ons op tot konkrete en praktiese dade van diens en nederigheid teenoor mekaar (Joh. 13:17). Geen mens is ooit vereer vir wat hy ontvang het nie, maar slegs vir wat hy gegee het. Wat gee ons vir Jesus? Was ons ander se voete, selfs Judas s’n? Of was ons eerder ander se koppe?
“Die Evangelie maak ons vry van skuld, vry van onwaardigheid, bereid om die wêreld vas in die oë te kyk … As Christus gestalte in ‘n mens kry, is jy almal se dienaar, maar niemand se vloerlap nie” (Ferdinand Deist).
Gebed: Here, ek plaas nie net my onreine voete in U skottel nie, maar my hele liggaam. Dwing my op my knieë en skenk my die krag, sodat ek diensbaar kan wees, diensbaar om deur U genade, in U raamwerk in te pas. Amen.
Комментарии