Gedagte vir Vandag
Donderdag, 24 November 2022
Koos Espach
Saulus in Jerusalem (3)
Die Heilige Gees skep eenheid in die kerk
Hand. 9:31 – “In die hele Judea, Galilea en Samaria het die kerk ‘n tyd van rus en vrede belewe. Dit het gevestig geraak en in gehoorsaamheid aan die Here gelewe. Die kerk is deur die Heilige Gees versterk, en die ledetal het toegeneem.”
Ná alles wat gebeur het, die dood van Stefanus, die vervolging deur Saulus, en wie later self vervolg is, het daar ’n tydperk van vrede in die kerk deur die hele Judea, Galilea en Samaria aangebreek. Dit was ’n periode van rustige ontwikkeling van die kerk wat opgebou is deur die innerlike krag van die Heilige Gees. Die gemeente het dus in hierdie tyd van vrede, geestelik vooruitgegaan en dit in hulle alledaagse lewe tot openbaring gebring. “Die kerk is deur die Heilige Gees versterk, en die ledetal het toegeneem.” God was deur die Heilige Gees in hierdie gemeente teenwoordig en werksaam. Die groei van die kerk word dus nie aan menslike aktiwiteite toegeskryf nie, maar aan die Heilige Gees wat die predikers besiel het en die toehoorders tot gehoorsaamheid aan die evangelie opgewek het. Die kerk het verder ook na buite, in gehoorsaamheid aan God, hulle lewenswandel probeer inrig.
Wat is die funksie van die Heilige Gees in die kerk? Hoe “versterk die Heilige Gees die kerk?” Hoe raak ek en jy bewus van die werking van die Heilige Gees in die kerk? Moeilike vrae wat verseker ‘n verskeidenheid antwoorde tot gevolg kan hê. Maar wat sê die Bybel? Een van die merkbare maniere waarop die Gees in ons Christene, gemeenskap openbaar, was die sigbare eenheid in die kerk waarvan Paulus praat: “Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe” (Ef. 4:3). Soos die Gees destyds “die kerk versterk het,” versterk Hy ons steeds om ‘n eenheid te wees, ‘n eenheid as “deel van die liggaam van Christus” (1 Kor. 12:27), ‘n eenheid wat in vrede met mekaar lewe en nie bederf mag word nie.
Indien ons dus nie in ‘n sigbare eenheid saam loop nie, kry die wêreld nie die prentjie van wat God met ons wil doen nie en is daar geen getuienis wat saak maak vir mense wat buite die geloof staan nie. Hierdie eenheid tussen gelowiges moet gehandhaaf word deur die eksterne aanvalle van die Bose en ongelukkig ook, te midde van die interne aanvalle van gelowiges wat nie die eenheid genoegsaam koester nie, te vermy. ‘n Christen is nie belangrik van wie hy of sy is nie, maar op grond van wat God ons gemaak het. Wat die wêreld dus in die veranderde lewe van ons Christen-gelowiges moet sien, is die teenwoordigheid van die lewende God!
Die leefwyse van ons gelowiges onderling, vertoon ’n eenheid wat vreemd is aan die leefwyse van die wêreld waar onenigheid, twis en haat die kenmerke is. Die wêreld moet sien dat daar in die lewe van ons gelowiges iets plaasgevind het waardeur ons ’n ander gehalte van lewe deelagtig geword het. En aangesien hierdie vernuwing die vrug is van die geloof in Jesus Christus, word die wêreld gedwing om “te glo” of te erken dat Jesus deur God gestuur is om hierdie herskepping en verandering tot stand te bring.
Jesus het geweet dat dit vir ons ‘n uitdagende, en selfs, ‘n amper onmoontlike taak sal wees om te verhoed dat onenigheid en skeuring, die eenheid van die kerk, sal verbreek. Daarom smeek Jesus ons Vader om tog die eenheid te bewaar: “Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees ..., sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet.” (Joh. 17:21-23). Wat ‘n wonderlike gebed. Natuurlik is dit verhoor, want Jesus is die Seun van God. Daarom kan ek en jy vandag nog uit hierdie gebed leef! Dít is die groot verskil tussen godsdiens en Christenskap: Jesus Christus! Geen ander godsdiensvorm het die Here Jesus nie! Dit spreek boekdele oor die eenheid van die kerk waarvan ek en jy deel is, ‘n eenheid wat die Gees bewerkstellig en Christus se begeerte dat sy kerk, één sal wees!
“Jesus prayed for unity of personal relationship, not a unity of administration or organization. Real unity between all Christians would be a ‘supernatural fact which would require a supernatural explanation.’ It is the tragic fact that it is just that united front that the Church has never shown to men” (William Barclay).
Gebed: Heilige hemel Vader, beskerm ons teen die bose wat altyd sal probeer om ‘n wig tussen ons Christen-gelowiges in te dryf. Help my om persoonlik by te dra tot die eenheid van U liggaam op aarde. Laat hierdie eenheid as sodanig ’n getuienis uitgaan in die wêreld, en die getuienis dwing tot eerbied vir God en vir Christus. Amen.
Comments