Gedagte vir Vandag
Woensdag, 23 November 2022
Koos Espach
Saulus in Jerusalem (2)
Medewerkers in diens van God
Hand. 9:29-31 – “Hy het ook met die Griekssprekende Jode gepraat en met hulle geredeneer; maar hulle het hom probeer vermoor. Toe die gelowiges dit agterkom, het hulle hom na Sesarea toe geneem en hom daarvandaan na Tarsus toe weggestuur. In die hele Judea, Galilea en Samaria het die kerk ‘n tyd van rus en vrede belewe. Dit het gevestig geraak en in gehoorsaamheid aan die Here gelewe. Die kerk is deur die Heilige Gees versterk, en die ledetal het toegeneem.”
Gedurende sy verblyf by Petrus, word Saulus deur Petrus, en moontlik Jakobus, ingelig oor alles wat Jesus gesê en gedoen het, veral oor Jesus se dood, opstanding, hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees. Hy ontvang ook ‘n lys van persone aan wie Jesus ná Sy opstanding verskyn het, en Saulus voeg laastens sy naam ook op die lys – hy het waaragtig die lewende Jesus op pad na Damaskus, ervaar (1 Kor. 15:5-9).
Tydens Saulus se verdere optrede in Jerusalem, redeneer hy met die Griekssprekende Jode. Voor sy Damaskus-ervaring was hy natuurlik ingesluit by hulle en het hulle dieselfde geglo dat Jesus nié die Seun van God, die Christus en Messias is nie. Hulle was moontlik dieselfde mense as dié met wie Stefanus te doen gehad het (6:9). Hulle haat wat vroeër op Stefanus gerig was, is nou op Saulus oorgeplaas en dit sou hom vir die res van sy loopbaan as apostel agtervolg. Hulle het hom, net soos die Griekssprekende Jode in Damaskus, as ’n aartsverraaier beskou, wat tot elke prys om die lewe gebring moes word.
Die gelowiges van Jerusalem, het van die moordplan van die Griekssprekende Jode gehoor. Aangesien hulle uit ondervinding geweet het waartoe hierdie mense in staat was, het hulle Saulus na Sesarea, ‘n Romeinse stad aan die kus van die Middellandse See, begelei om hom teen die aanvalle van sy vyande te beskerm. Saulus het ingewillig omdat, soos hy self later vertel, hy in Jerusalem in die tempel tydens gebed in geesvervoering geraak het, die Here gesien het wat vir hom sê: “Maak gou en gaan dadelik uit Jerusalem weg. Die mense hier sal nie aanvaar wat jy oor My getuig nie. Jy moet hiervandaan weggaan, want Ek wil jou ver weg stuur, na die heidene toe” (Hand. 22:17-21).
Dit is die laaste wat ons van Saulus hoor tot hy tien of twaalf jaar later deur Barnabas in Tarsus gehaal en na Antiochië gebring is. In Tarsus sou hy hom kon voorberei vir die groot taak wat op hom gewag het. Met Saulus weg uit Jerusalem het die kerk ’n tyd van rus en vrede belewe. Toe die vervolgings nie aanhou nie, kon talle vlugtelinge terugkom en het die kerk gevestig geraak. Daar het ’n kerklike lewe ontstaan waar gelowiges “in gehoorsaamheid aan die Here gelewe het, deur die Heilige Gees versterk is, en die ledetal laat toeneem.”
Hier was beslis nie ‘n gebrek aan eenheid in die gemeente nie. Elke lid het besef daar lê ‘n groot verantwoordelikheid op die skouers van almal. Elkeen, sterk of swak, is soos ‘n bouer wat aan God se kerk help bou. As enige “bouer” verkeerde of swak boumateriaal gebruik, gaan sy bouwerk nie hou nie. Behalwe dat sy bouwerk onsuksesvol is, doen hy “afbreuk aan die werk van God” (Rom. 14:20). Wanneer ons kyk wat Paulus in Efesiërs 4:1-16 oor die eenheid van die kerk sê, besef ons dat wanneer ons “kerk” sê, ons eintlik sê “ons” – óns is die kerk. En die kerk is die liggaam van Christus, die plek waar ons mekaar nodig het. Die kerk is ‘n liggaam wat uit verskillende ledemate bestaan, elkeen met sy eie gawe en funksie, maar wat mekaar bystaan.
Die kerk is nie ʼn gebou waarheen mense gaan nie. Nee, kerk is iets om te wees. Dit is ʼn lewenswyse. Baie lidmate sien hulleself as kliënte van die kerk, 'n plek waarin verbruikersmentaliteit aan die orde van die dag is – die kliënt is altyd reg. Ék betaal, so ék bepaal. Ek wil waarde vir my geld hê. Ek betaal nie om dit of dat te doen nie want dit bring my niks in die sak nie. Die kerk is ʼn instansie wat in hulle behoeftes moet voorsien. Hulle het hier aangesluit om diens te kry, besoek te word, geken te word en bedien te word. As die diens nie is soos wat hulle dit wil hê nie, stop hulle hulle betalings en gaan soek ʼn ander kerk wat meer en beter diens lewer. Hulle skuif net hulle besigheid na iemand anders toe.
Dit is die Here se kerk en nie die mense se kerk nie. Ons ís die kerk, die liggaam van Christus. Die Here en sy eer moet in die middelpunt staan en nie ek en my behoeftes nie. Dit gaan nie oor my nie. Dit gaan ook nie oor die kerk van die Here nie. Dit gaan in die eerste plek oor die Here van die kerk. Ons is bouers in God se span wat die regte boumateriaal moet gebruik want ons is besig met ewigheidswerk. Die regte boumateriaal is die Woord en gebed, daarmee sal ons ‘n gebou kan bou wat vir ewig sal bly staan, kérk wees en nie kerk speel nie.
“Ons kan gerus wegdoen met die idee dat die kerk ‘n gebou is, dit is niks anders as ‘n groep sondaars nie” (Ruth Etchells).
Gebed: Here, ek wil so graag belangrik wees, ek wil so graag raakgesien word, ek wil so graag geag word, ek wil so graag ʼn ereposisie beklee. Here, ek wil langs U op u troon sit. Maar dan sê U: “Nee, dit is soos dit in die wêreld werk. In die kerk werk dit anders: As jy groot wil wees in God se Koninkryk moet jy bereid wees om te dien. As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was” (Joh. 13:14). Dankie Here “ek sal my beywer vir die dinge wat onderlinge vrede en opbou van U koninkryk bevorder” (Rom. 14:19). Amen.
Comments