Gedagte vir Vandag
Vrydag, 11 November 2022
Koos Espach
Saulus se bekering (3)
Vrywillige onderwerping
Hand. 9:5-8 – “Wie is U, Here?’ vra hy toe. ‘Ek is Jesus,’ antwoord Hy. ‘Dit is vir My wat jy vervolg. Maar staan op en gaan na die stad toe. Daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.’ Die mense wat saam met hom op pad was, het sprakeloos gestaan. Hulle het die stem gehoor, maar niemand gesien nie. Toe Saulus van die grond af opstaan en sy oë oopmaak, kon hy nie sien nie. Hulle het sy hand gevat en hom na Damaskus toe gelei.”
Saulus is tot die grond toe verneder. Terwyl hy daar in die ligglans in die stof lê, het hy pas gehoor hy het met die lewende Jesus te doen en hy vra Hom: “Wat moet ek doen, Here?” (Hand. 22:10). Jesus antwoord hom om “op te staan en na die stad toe te gaan. Daar sal vir hom gesê word wat hy moet doen.” Volkome gehoorsaamheid word van ’n man gevra wat ’n tydjie vantevore nog so selfversekerd was. Sy lewe verander drasties op daardie oomblik, vir altyd. Met hierdie opdrag vanuit die hemel word Saulus se opdrag van die hoëpriester en sy Raad, heeltemal gekanselleer. ‘n Apostel van die Sanhedrin, word ‘n apostel van Jesus Christus.
Die man wat soos ‘n besetene, Damaskus toe is om die mense wat glo dat Jesus uit die dood opgestaan het te gaan arresteer, word nou as ‘n hulpelose blinde, Damaskus ingelei deur die mense wat saam met hom op pad was. Hulle was stomgeslaan van skrik en vrees, want “hulle het die stem gehoor, maar niemand gesien nie.” Voortaan sal Jesus, Saulus lei en sy Opdraggewer wees. Hy kan maar die “bekendstellingsbriewe” (9:2), van die hoëpriester en sy Raad vernietig en sy bedankingsbrief by hulle gaan inhandig. Sy lewe, wat hy tot nou toe self beheer het, sal nou deur Jesus beheer word. Hy is nie meer ‘n vervolger van Jesus nie, maar ‘n volgeling – ‘n pos wat hy hierna, lewenslank beklee het.
Saulus se vervolging-sending is uit die hemel beëindig. Die wrede Christenjagter, word nou die “leier” van die einste mense wat hy wou vernietig! Indien ons Saulus se ervaring op die Damaskuspad sou oorvertel, dink ek dit sal effens verwytend wees: “Dit is jou verdiende nederlaag Saulus. Jy kan nie teen Jesus in opstand kom nie, Hy sal jou met Sy asem neervel! Jy is oorwin! Geregtigheid het geseëvier.” Jesus hanteer Saulus egter heeltemal anders. Soos ‘n besorgde moeder wat haar kind wil reghelp, begin Jesus hom aanspreek: “Saul, Saul …”, en dan die opdrag: “Staan op en gaan na die stad toe. Daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.”
In ’n oogwink is Saulus se lewe oorgeplant in die lewe van Jesus van Nasaret. Hy word deel van Jesus se liggaam, ’n medewerker wat Jesus se werk op aarde voortsit. Niks sou weer dieselfde wees nie. Soos Stefanus in sy sterwensoomblikke, het Saulus met sy aardse oë, ’n hemelse werklikheid gesien – “Het ek nie vir Jesus, ons Here, gesien nie?” (1 Kor. 9:1). Sy vervolgingsverhaal na Damaskus word in Damaskus verander in ‘n roepingsverhaal – “Daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.”
Wat gebeur met ’n mens wat die heerlikheid van God sien? Dit is binne Jesus se mag om teenstand in ’n oogwink uit te wis. Dié teenstand kom dikwels uit die kring van gelowige mense, soos Saulus vroeër, wat groot passie vir God het, maar mislei is en die passie of energie verkeerd aanwend. Die veranderde, bekeerde Saulus leer vir ons dat Jesus sy liggaam, die kerk, versorg. In die felle oomblikke van vervolging, bewaar Jesus sy kerk en deur die wonderwerk van verlossing, word Saulus oombliklik verander van ‘n eiesinnige, geharde Fariseër na ‘n nederige en toegewyde getuie, wat die evangelie na die uithoeke van die wêreld dra.
Maar wee my en jou as ons nie gehoorsaam is en ‘n Jesus-volgeling word, nadat ons die heerlikheid van God gesien het nie. Jesus sal nooit gehoorsaamheid afdwing nie, maar as ons sou weier, het ons reeds die doodsertifikaat van die Seun van God in ons siel onderteken. Ongeag van ons verkeerde weë, dit doen nie afbreuk aan God se genade nie – solank ons net na die Lig toe kom.
‘n Lewe in Jesus se Lig is ‘n keuse by elke mens, dit is nie vanselfsprekend nie, hoewel God dit so wil hê. Dit is ‘n keuse wat ons daagliks moet herhaal, tot aan die einde van ons lewe hier op aarde. Satan en sy bose magte se hoofdoel is om ons buite die ligkring van God se genade te kry en as hy eers sy voet in die deur gekry het, hou hy nie op met sy pogings nie. As ons in die lig wil bly moet ons die deur gesluit hou en as mense van die lig lewe. Is die genade van die Here nie verrassend groot nie? Hierdie selfde lewende Here werk ook deur my en jou, solank ons in Sy lig lewe. Wonderlik!
“God het aan die mens ‘n eie wil gegee, maar hy moet dit gebruik om die regte keuses te maak”
(Fulton Sheen).
Gebed: Here, maak my bereid om die sonde wat donkerte bring, te vermy. Dit is asof die donkerte my so maklik wil oorheers terwyl ek eintlik in die lig wil wees. Help my asseblief deur U Gees om daagliks in U lig te bly en die duisternis my nooit oorwin nie. Amen.
Comentarios