top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 10 November 2022

Koos Espach


Saulus se bekering (2)


Genade is nie vergeefs nie


Hand. 9:3-5 – “Toe hy op reis naby Damaskus kom, het daar skielik ‘n lig uit die hemel op hom gestraal. Hy het op die grond neergeval en ‘n stem vir hom hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’ ‘Wie is U, Here?’ vra hy toe. ‘Ek is Jesus,’ antwoord Hy. ‘Dit is vir My wat jy vervolg.”


Saulus se ywer om die volgelinge van Jesus uit te roei het nie bedaar nie, en hy wil as offisiële gesant van die hoëpriester ook in die hoofstad van Sirië voortgaan om sy haat en moordlus teen die gelowiges te stil. Voorsien van sy bekendstellingsbriewe van die hoëpriester en vergesel van ’n aantal mans van die tempelwag, het Saulus op reis na Damaskus gegaan, ongeveer agt dagreise te voet van Jerusalem af, 216km Noord van Jerusalem.


Hoe Saulus gedink het dat hy al die Christene wat gevlug en verstrooi is – deur sy eie Jodegenote (8:1) – in Damaskus kon gevange neem en in Jerusalem kon kom stilmaak deur hulle daar in die gevangenis te gooi, weet net hy alleen. Dit was ‘n desperate poging wat nooit kon slaag nie.


Terwyl Saulus en sy manne op pad is na Damaskus om sy plan uit te voer, gryp Christus self in. Skielik het daar ’n lig uit die hemel, die Oosterse middagson die gebied rondom Saulus en sy reisgenote verblindend helder verlig. Hoewel dit helder oordag is, was die lig helderder as die son (Hand. 26:13). Die lig het so plotseling verskyn en was só sterk, dat Saulus en sy reisgenote op die grond neergeval het.


Saulus se mag word gebreek! Een oomblik het hy nog die mag en die posisie gehad om die Christene te vervolg, nou lê hy magteloos op die grond en hoor: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” Sy stryd teen die Christene was in wese ‘n stryd teen Jesus self, soos Jesus in Lukas 10:16 sê: “Wie na julle luister, luister na My; wie julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het”. Dit is nie nou meer die magtige Saulus teenoor die magtelose en vlugtende Christene nie, maar dit is die mens Saulus teenoor die verhoogde Christus, Seun van God, God self!


Saulus is nog nie heeltemal seker met Wie hy te doen het nie en vra beangs: “Wie is U, Here?” Hy was nog een oomblik vurig om tot die uiterste toe te vervolg. Nou lê hy in die stof soos ‘n arend met ‘n gebreekte vlerk en spreek Jesus aan as Here, ’n respekvolle aanspreekvorm vir meneer, of eienaar, of heerser wat gesag uitoefen oor mense. En dan die geweldige skok – “Ek is Jesus, dit is vir My wat jy vervolg.” Saulus het gedink hy beywer hom geheel en al vir God en die wettiese godsdiens van Israel. Nou hoor hy uit die hemel dat hy teen die Here self optree. Hy het hom seker boeglam geskrik!

“Jesus! Maar … dis mos nie moontlik nie! Ons het Hom dan aan ‘n kruishout gehang, ons het Hom doodgemaak, toegeseël in ‘n graf. Ons het dan nog sy graf laat bewaak … En nou praat Hy met my vanuit ‘n goddelike lig! Die verhaal wat ons versprei het dat sy dissipels in die nag sy liggaam kom steel het, (Matt. 28:13), is nie waar nie. Hy het waarlik uit die dood opgestaan! ... En Stefanus het die waarheid vertel toe hy getuig het dat Hy Jesus, die Seun van die mens, aan die regterhand van God sien staan het (Hand. 7:56) ... En Gamaliël was reg toe hy gesê het dat ons die apostels moet laat staan, want as hierdie beweging ‘n goddelike oorsprong het, dan kan ons dit nie keer nie (Hand. 5:38-39). Hierdie beweging hét ‘n goddelike oorsprong, want Jesus, die gekruisigde, leef!”


Vir Saulus was Jesus se graf in Jerusalem nog vol, in elk geval tot nou waar hy onderweg is na Damaskus om die Christene daar te gaan vervolg, en skielik deur ‘n hemelse lig tot sy sinne geruk is en seker besef het – die vervloekte houtpaal is kaal, die graf is leeg soos Sy volgelinge vertel het en die hemel is weer vol – Jesus van Nasaret praat met hom uit hierdie verblindende hemelse lig! En Saulus word tot die grond toe verneder, letterlik en figuurlik! Sy lewe verander drasties op daardie oomblik, vir altyd.


Jesus kan my en jou ook uittrek uit enige situasie waarin ons dalk vasgevang sit. Ons moet dan die geleentheid aangryp met albei hande. Dit is nooit te laat nie, vra maar vir Saulus. Hy was waarskynlik reeds 40 jaar oud toe die Here sy lewe, (en naam), verander het. Die raadsplan van God en die beheer oor die ganse heelal is nou in Jesus se hande. Dit is Hy wat sy Naam en sy Vader se Naam op alle verlostes skryf (Op. 14:1-2) en ons name in die boek van die lewe opteken (Op. 13).


In Getsemane het Jesus finaal ja gesê vir Sy pad van lyding wat doodgeloop het by Golgota se houtkruis. Omdat Jesus 2 000 jaar gelede ja gesê het, kan ek en jy nou leef as mense wat saam met Hom opgestaan het in ‘n splinternuwe lewe. Ja, ‘n lewe tot anderkant die dood. Kom ons buig voor Hom uit dankbaarheid en bely ons redding wat van Hom afkomstig is – Prys die Naam van die Drie-enige Heer!


“Christus aanvaar ons soos ons is ... maar wanneer Hy ons só aanvaar, beteken dit glad nie dat ons moet bly soos ons is nie” (Walter Trobisch).


Gebed: Dankie Jesus dat U in staat is om die grootste sondaars te red. Omdat U opgestaan het uit die dood en leef, is daar hoop vir my en elkeen wat in U glo as Here en Verlosser. Ek loof en prys U heilige Naam. Amen.

 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page