Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 8 November 2022
Koos Espach
Filippus en die Etiopiër (7)
Net God kan vrede skep
Hand. 8:39-40 – “Toe hulle uit die water kom, het die Gees van die Here vir Filippus weggeneem. Die amptenaar het hom nie meer gesien nie en het sy reis met blydskap voortgesit. Filippus is later in Asdod aangetref. Hy het daarvandaan deur al die dorpe gegaan totdat hy in Sesarea gekom het, en oral het hy die evangelie verkondig.”
Elke oggend voor ek met Bybelstudie begin, dank ek eers die Here vir nog ‘n geleentheid om dit te kan doen en vra dat Hy vir my insig sal skenk sodat ek kan hóór wat Hy elke dag vir my wil sê. Ek vra dat die insig vir elke leser van die dagstuk, ‘n bron van seën sal wees sodat dit nie maar net nog ‘n stukkie waarheid is waartoe ek en julle bekendgestel word nie, maar ‘n lewensveranderde ervaring wat ons in vreugde kan toepas. Met die samestelling van gister se dagstuk, kan ek nie net aanbeweeg na die volgende perikoop toe nie, kan ek nie anders as om meer perspektief oor God se vrede te wil uitvind in ‘n wêreld waar onvrede die norm geword het nie. Hoe gaan ons “die reis van ons lewe soos die Etiopiese amptenaar, in blydskap voortsit?”
Gister het ek gewonder of dit moontlik is om waarlik God se vrede te ervaar en daarin te lewe te midde van ons en die wêreld se huidige omstandighede? Is dit moontlik om nog die vrede te ervaar wat Jesus 2 000 jaar gelede vir ons beloof het: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie en julle moet nie bang wees nie” (Joh. 14:27). Vrede is nooit vanselfsprekend nie. Vrede is onmoontlik sonder God. Thomas Watson skryf: “As God ons God is, sal Hy ons vrede gee te midde van swaarkry. Waar daar ‘n storm van buite is, sal Hy van binne vrede gee. Die wêreld kan in vrede swaarkry en probleme skep, maar God kan in swaarkry en probleme vrede skep.” Glo mense dit nog?
Ek weet nie of ons besef hoeveel druk daar buite is nie. Ek weet nie of ons besef hoeveel mense geen lig sien nie. Mense wat regtig nie meer een tree vorentoe kan gee nie. Mense vir wie jy nie net ’n teksversie kan gee nie, want dié pleistertjie is net te klein om oor die groot gat in hulle lewe te plak. Dale Carnegie het die trefferboek, “The Power of Positive Thinking” geskryf. Hy het al die tegnieke van selfvertroue en positiewe denke bestudeer en vir duisende geleer hoe om suksesvol te wees, positief te dink en vrede met hulle omstandighede te maak. Tog het hy selfmoord gepleeg?
Ons lewe in ‘n wêreld vol angs, probleme, haat en onrus. ‘n Wêreld waar dit blyk dat vrede ons bly ontwyk. Mense is broos en seer en alleen en onvrede pak ons toe. Ons bene bewe van die swaar laste wat ons moet dra. Sommige besluit om ’n einde aan alles te maak. Die gevolg is ’n pad van verwoesting vir die mense wat agterbly.
Ons is soms bang om iets te sê, want netnou is die teksvers regtig te klein. Maar waar anders sal ons hulp gaan soek? Waar anders kom ons hulp vandaan? Dis net by God waar ons hulp kan kry. Dis net Hy wat ons kan help om deur die storms te beur. Dis net Hy wat ons kan help tot die waters bedaar.
Daarom bid ek met alles in my en ek beroep my op God se Gees om saam te help om die gebed en seën in jou lewe waar te maak. Mag God die dag wanneer jy voel die lewe sy genade verloor het en jy dink jy Hom nie meer kan hoor nie, juis dán na jou toe kom as die God van vrede en rus. Ja, mag jy oorspoel word met God se goedheid. En hoe het ons dit nie elke dag nodig nie! Hier waar ons gekonfronteer word met slegte goeters wat om elke hoek en draai gebeur – mense wat sommer net so op hulle plase doodgemaak word. Ander wie se hele lewe se spaargeld deur selfsugtige en geldgierige bedrieërs gesteel word, en ag, die lys van ongeregtighede en bedrog is net te lank om op te noem. Maar, ons het ‘n langer lys van dankies, want ons is kinders van God (Joh. 1:12).
Ons hele wese smag na God se goedheid. Mag dit ’n realiteit word in ons lewe. Mag God help om die slegte goeters in ons lewe uit te vee en plek maak vir al Sy goedheid sodat die son ook weer oor ons kan skyn. Maar meer nog – mag God se vrede, daai vrede wat heeltemal te veel is vir ons om te verstaan, my en jou hele wese beset. Mag dit die onvrede wat tog so gedurig sy opwagting maak, verdryf.
“Die hart van elke mens soek na ewigdurende vrede en geluk – U het ons vir Uself gemaak, o Here, en ons harte bly onrustig tot dit rus vind in U” (Augustinus).
Gebed: Here, ons het U vrede nodig. Ons wêreld is in ’n groot gemors en ons besef dat ons op ons eie dit nie kan laat werk nie. U is die enigste antwoord. Ons het U vrede nodig – in oormaat. Ons smag daarna met elke asemhaling. Amen.
Comments