top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 3 November 2022

Koos Espach


Filippus en die Etiopiër (4)


By God is die plek waar ons erns maak met blydskap


Hand. 8:39 – “Toe hulle uit die water kom, het die Gees van die Here vir Filippus weggeneem. Die amptenaar het hom nie meer gesien nie en het sy reis met blydskap voortgesit.”


Toe hulle uit die water kom, het die Heilige Gees Filippus skielik weggeneem. Hoe, weet ons nie. Dit is egter ook nie belangrik op hierdie stadium nie. Die Etiopiese amptenaar was so bly oor sy bekering en het hom so verheug oor die verlossing in Christus, dat hy skynbaar nie langer behoefte aan Filippus se prediking gehad het nie. Sy vreugde is nie net veroorsaak deur die blye boodskap van Jesus en die Heilige Gees, wat die Gees van ewige blydskap is nie, (Rom. 14:17; Gal. 5:22), maar ook deur sy besondere ondervinding dat hy, ten spyte van sy liggaamlike toestand, deur die doop en die Gees tot ’n volle lid van die nuwe volk van God geword het.


Filippus se taak was afgehandel en die Etiopiër het voortgereis met die Woord van God in sy hand en ‘n nuutgevonde blydskap. Hy sou nooit weer na Jerusalem terugkeer nie, want hy het nie meer die tempel nodig gehad nie. Hy het nou ‘n Persoon leer ken – wat die nuwe Tempel tot in ewigheid is. Sy lewe het radikaal verander. Hy het op ‘n pelgrimsreis na Jerusalem gekom om geestelik verryk te word, en het toe baie meer as dit gekry – hy het die lewende God en sy Verlosser, Jesus Christus, ontmoet!


Ons hoor nooit weer van hierdie Etiopiër nie. Ons hier in Afrika kan egter hom amper ‘n soort geestelike stamvader noem. Ons kan aanvaar dat hy teruggekeer het na ons kontinent toe met die evangelie in sy hart en ook met sy mond (Rom. 10:9). Twintig eeue gelede was hy moontlik Jesus se eerste “dissipel” en verteenwoordiger van die Christelike geloof in Afrika! Dit beteken dat Jesus vir ons hier in Afrika só belangrik geag het dat Hy deur hierdie Afrikaan, eers in Afrika met die evangelie ‘n draai kom maak het en ons só in God se genade ingetrek het, lank voor dit in die destydse wêreldstede Rome en Antiogië, gehoor is. Dis ‘n besondere voorreg om kind van God te wees – in Afrika!


En só word die Evangelie ook “tot die uithoeke van die wêreld” (Hand. 1:8), ingestuur. Hoe lyk ons geloofsreis? Is ek en jy ook ‘n Etiopiër, of dalk Filippus? Is ons bereid om ons gemaksones te verlaat sodat ons getuienis gehoor kan word in “Samaria”, dié plekke wat vir ons ongemaklik is, waar ons grense van andersheid moet oorsteek. En ons moet dit nie net doen, omdat dit “nice” is nie, maar omdat ons deel van God se gesin is. Dan is dit ons opdrag. Is ons bereid om langs die verstotenes van die samelewing, bv. die gays, die vigs-slagoffers, in te skuif en die evangelie van Jesus aan hulle te verduidelik? Die eerste vraag wat ons dalk moet beantwoord is: Verstaan ons die evangelie sodat ons dit op ‘n eenvoudige manier aan iemand kan verduidelik? Het jy al langs jou kinders gaan sit, jou vrou, jou man, jou pa of ma, broer of suster, kollegas, tuinman, huiswerker, karwag, en oor die evangelie gesels?


Ek het Maandag gesê dis nie maklik nie. Daar is baie gelowiges wat hoor dat hulle teenoor ander mense moet getuig van die verlossing in Jesus. En dan wonder hulle wat op aarde moet hulle sê; die Bybel is só dik en daar is buitendien verskillende standpunte oor alles. Filippus was ‘n gewone mens soos ek en jy. Ek wil amper sê hy is hier deur die Gees uit sy gemaksone uitgedwing in ‘n sendingsituasie in: Gaan loop saam met daardie wa” (v. 29). Dalk kan ons sy voorbeeld volg en by die “Paasgebeure” van Jesus se dood en opstanding begin, dit is immers die kern van ons geloofsinhoud. Dan kan ons soos hy aansluit by die gedeelte in Jesaja 53:7-8 – “Soos ‘n skaap is Hy gelei om geslag te word ...”


Dit is maar al wat ons hoef te sê. “Ons sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor ons kom, en ons Sy getuies is (Hand. 1:8), terwyl ons vertel dat Jesus Christus soos ‘n lam vir ons geslag is en deur die dood gegaan het sodat ons die lewe kan kry. Die Heilige Gees sal die oorredingswerk doen en, soos met die amptenaar, sal God self die dopeling tot by die water bring.


Daar is ’n wonderlike en bekende storie van Franciscus van Assisi. Hy het eenmaal ’n leerling van hom genooi om saam met hom in ’n nabygeleë dorpie te gaan preek. Die jong priester het opgewonde ingestem – hy gaan leer by die meester! In die dorpie het Franciscus eers ’n geselsie gaan aanknoop met die slagter, die skoenmaker, en later gaan inloer by ’n vrou wat haar man onlangs verloor het. Daarna het hy by die skool met die kinders gespeel en na die onderwysers se probleme geluister. Teen die middag sê Franciscus: “So ja, ons is klaar, ons kan maar huis toe gaan.” Die jong priester was stomgeslaan en het geprotesteer: “Met alle respek, Meneer, ons het tog gekom om te preek en ons het nog glad nie dáárby uitgekom nie.” “Het ons nie?” vra Franciscus. “Mense het die hele oggend na ons gekyk en geluister. Elke woord wat ons gepraat het, elke daad wat ons gedoen het, was ’n boodskap. Ons het die hele oggend gepreek!” Daarom dalk die rede vir Franciscus se aanhaling:


“Preek sonder ophou. En as jy regtig moet, kan jy woorde ook gebruik!”


Gebed: Here, maak my pelgrimsreis ‘n preek van blydskap. Hier is ek Heer, U kan my stuur. Amen.

Comentarios


Recent Posts