top of page

Gedagte vir Vandag

11 Januarie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING.

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se vierde toespraak; Verhoudings tussen gelowiges.

(Matt. 18:1-35)


‘n Broer wat sondig (2)

(Luk. 17:3)

Beskerm jou medemens!


Matt. 18:16 – “Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word.”


Vergelyk ook 1 Tim. 2:3-4 – “So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.”


Ons het teen hierdie tyd, meer en meer tot die besef gekom dat Jesus ‘n briljante Leermeester en mensekenner is. Hy weet dat die “verkeerde optreder” nie gaan reageer op ‘n een tot een vermaning nie, daarom bring Hy ‘n tweede stap in wat by Deuteronomium 19:15 aansluit: “Daar mag nie net een persoon teen iemand getuig nie … ‘n Beskuldiging kan net bewys word deur die getuienis van twee of drie getuies.” Die doel is nie dat hulle van die oorspronklike oortreding moet getuig nie, maar om pastoraal die vermaner se gesag te versterk terwyl daar steeds na God se wil gesoek en die oortreder se belange ook beskerm word. Tog vervul hulle ook ’n regsfunksie aangesien hulle in die proses se voortgang as getuies van die verloop van sake betrokke kan wees.


Dit is nogal ‘n toets vir elkeen van ons wat van plan is om iemand wat veral “teenoor jou verkeerd opgetree het” (v. 15), te gaan konfronteer. Die mag van die gewoonte van ons is om, in plaas van getuies saam te neem soos Jesus voorstel, heeltemal anders op te tree! Gewoonlik sal ons dit dadelik met iemand deel, of ‘n gespanne stilte handhaaf; selfs konfronteer met ‘n emosionele uitbarsting en die oortreder daarna vermy.


Jesus wil dit egter anders hê. In plaas daarvan om die oortreder “terug te kry”, wil Jesus dat ons mekaar eerder terugwen! Die primêre oogmerk is om die broer of suster terug te wen en nie verlore laat gaan nie. Al is daar net “een skaap van die honderd wat afgedwaal het” (v. 12), is hy vir God belangrik genoeg om teruggevind te word, weer deel van Sy gesin te word. Geen afgedwaalde gelowige mag as gevolg van sy sondige optrede as nutteloos laat vaar word nie. Dit is elkeen van ons gelowiges in Christus, se verantwoordelikheid om die eenheid van die kerk te beskerm, die eenheid van die gemeenskap van gelowiges, in ere te hou.


Ons wat deel van God se gesin is, moet eerder klem lê op wat ons in gemeen het, as om te fokus op verskille. Daarom is dit nodig om die oortreder, of afgedwaalde, met sy of haar verskille, te herinner dat ons as gelowiges deel “een Here, een liggaam, een doel, een Vader, een Gees, een hoop, een geloof, een doop en een liefde” (Ef. 4:4). As kinders van God (Joh. 1:12), deel ons dieselfde verlossing en dieselfde toekoms, en dít is belangriker as enige verskille wat kan bestaan! Hierdie faktore wat God vir ons in sy Woord deur Paulus vir ons stel, is in elk geval belangriker om op te konsentreer as persoonlike verskille.


Maar ai tog, gewoonlik wil die oortreder nie na jou of enige getuies luister wat saamgebring is nie, en verlaat hy of sy die kerk en gaan net na ‘n ander kerk toe. En as ons nou eerlik met mekaar wil wees, is daar geen volmaakte kerk waarheen jy kan uitwyk nie – elke kerk het sy eie swakhede en probleme, want ek en jy wat die kerk is, is nie volmaak nie! Verstaan dit mooi: Die mens kan niks doen om reg te maak wat hy verkeerd gedoen het nie. Daar is nie ’n sonde uitveër tot die mens se beskikking nie. Dit is ’n nare storie met ’n nare einde.


Op ons eie kan ons eenvoudig nie van die las van sonde ontslae raak nie. Sonde het gemaak dat ons nie by God kan uitkom nie. Sonde veroorsaak dat ons eintlik die heeltyd wegbeur van God af. Jesus was die énigste oplossing vir die mens se groot penarie. Jy sien, slegs ’n persoon sonder enige sonde kon kwalifiseer vir hierdie taak en dis net Jesus wat dié posisie kon vul. Hy het die hoogste prys betaal en die kruis as uitveër gebruik om die sonde uit te vee en sodoende gesorg dat niemand wat in Hom glo, verlore gaan nie. Hy wil hê Sy kerk moet beskerm wees teen vernietigende skade wat verdeling, konflik en disharmonie veroorsaak. Daarom is dit my en jou se verantwoordelikheid om eenheid te behou: “Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe. (Ef. 4:3).


“Christene is ‘n teken vir die wêreld dat, hoewel ons nie al die antwoorde het nie, ons weet van vrae en omgee vir hulle wat dit vra” (Billy Graham).


Gebed: Vader, hoe groot is U liefde vir my nie? Hoe klein klink ’n dankie dan nie nou nie. Uit dankbaarheid wil ek van nou af elke oomblik leef. Ek wil orals waar ek gaan plekkies gaan soek om my dankbaarheid vir U liefde te gaan uitleef. Dankie Vader dat U Uself nie kon keer om tot my redding te kom nie. Dankie Jesus dat U bereid was om die brug te bou tussen God en my sodat ek ’n kans het om die ewige dood vry te spring. Help my Heilige Gees, om medegelowiges wat my teleurstel, “in liefde te verdra, beskeie, vriendelik en geduldig te wees (Ef. 4:2), en hulle saam oor daardie brug te neem. Amen.


Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page