Gedagte vir Vandag
Donderdag, 27 Oktober 2022
Koos Espach
Filippus in Samaria (10)
Ons is deel van God se extreme makeover-program
Hand. 8:25 – “So het die apostels dan kragtig getuienis gelewer en die woord van die Here verkondig. Hulle het na Jerusalem toe teruggegaan en onderweg die evangelie in baie dorpe van die Samaritane verkondig.”
Nadat die apostels ’n tyd lank in hierdie stad van Samaria die woord van die Here met groot erns verkondig het, het hulle na Jerusalem teruggekeer. Onderweg het hulle die blye boodskap in baie dorpe van Samaria verkondig. Lukas sluit hierdie gedeelte van sy vertelling af en fokus op die Samaritane sonder ‘n towenaar-Simon wat verhard het in sy sonde, maar die voortgang van die Evangelieprediking orals in Samaria. Geen pion van die duiwel kan die Evangelie keer nie. Eeue later is daar nog baie Simons, soms net met ander name, maar almal met dieselfde agenda om die Evangelie te probeer stop of kelder. Hulle sal weliswaar daar wees tot op die laaste dag, maar Jesus Christus is sterker as al die antichriste saam!
Hoe en waar pas ons vandag as sendelinge in hierdie koninkryk in? Arbeiders in diens van die Here verskil van mekaar in oorleg en opdrag, maar sáám werk ons vir dieselfde groot saak, naamlik, om geestelik te groei en te help bou aan die koninkryk van God. Daarom word ons saamgebind deur gemeenskaplike blydskap en aangespoor om elkeen op sy eie terrein getrou aan die werk te bly. In die proses saai sommige en ander oes, tog bly dit dieselfde oes van die Here.
Om geestelik te kan groei, moet ons eers die vraag beantwoord: Aan wie behoort ons – aan God of aan onsself? Indien die antwoord ‘onsself’ is, kan ons krag kry om hierdie selfbehebtheid te oorwin: “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here” (Rom. 7:24-25). Die opgestane Christus lê Sy verlossende hand op ons verlede en doen dit steeds elke dag, om ons vry te maak van alle hindernisse sodat ons geestelik kan groei en vrug kan dra en sodoende, uit die sonde-slawerny verlos kan word.
Indien die antwoord is dat ons aan God behoort, moet ons voortsit wat Jesus aan die gang gesit het en wat Sy apostels daarna begin het. Dis nie opsioneel nie. God hou my en jou verantwoordelik as die Evangelie nie die ongelowiges om ons bereik nie: “Wanneer Ek vir ‘n goddelose sê hy gaan sterwe, en jy waarsku hom nie, jy praat nie en jy waarsku nie die goddelose teen sy bose optrede om hom so in die lewe te hou nie, dan sal hy deur sy sonde sterwe, maar Ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood” (Eseg. 3:18).
Die evangelieboodskap kan nie stilgehou word nie, en om dit bekend te maak, hou bepaalde gevolge in. Dit laat my dink aan ‘n ou TV-reeks, “Extreme Makeover Home Edition”. In die program het ’n groep kundiges ’n afgetakelde huis heeltemal oorgedoen of selfs in sekere gevalle die hele ou huis platgeslaan en dan ’n nuwe een gebou, terwyl die huisgesin met vakansie gestuur is. Wanneer die makeover voltooi is, is hulle teruggebring. Die gesin se verbasing en vreugde is dan luidkeels en met trane van verbasing, uitgeskree! Die ou vervalle huis, is omgebou in ’n droomhuis en elkeen se behoeftes is aangespreek. Voorwaar ’n splinternuwe ervaring om nou terug te keer na hulle ou-nuwe huis.
Jesus was ook deel van so ’n program, maar Sy program is net soveel groter. ’n Program wat nie uitgesonder is vir ’n paar gelukkige individue nie. Nee, Jesus se Extreme Makeover-program is daar vir elkeen wat in Hom glo en Hom as hulle persoonlike Verlosser aanvaar. Hierdie program van Jesus het begin toe Hy aarde toe gekom en mens geword het (Joh. 1:14). Hy het deur die stofstrate van Israel geloop en aan die mense Sy Extreme Makeover-program bekendgestel. Hy het presies verduidelik hoe die ou “huis” vervang gaan word met ’n nuwe een. Baie mense wat dit gehoor het, kon dit nie verwerk nie. Hulle kon dit nie glo nie en het gedink dit is onmoontlik. Die kerk van daardie jare het selfs Hom tot leuenaar gemaak en die staat gevra om Hom dood te maak.
Gelukkig was daar ’n groepie wat geroep was om agter Hom aan te stap en hulle het ingekoop in die Extreme Makeover-program. Die klimaks van die program was nie, en is steeds nie, vir een van Sy volgelinge maklik nie, maar dis juis hier waar die extreme makeover begin: “God het ons Here Jesus uit die dood laat opstaan. Deur die bloed van hierdie Jesus het daar ’n nuwe ooreenkoms tussen God en ons tot stand gekom. Die ooreenkoms sal vir ewig en altyd bly staan” (Heb. 13:20 – Die Boodskap).
Deurdat Jesus se bloed aan die kruis gevloei het, hoef ek en jy nie meer te swoeg om in die hemel in te kom nie. Ons moet net “met ons mond bely dat Jesus die Here is, en met ons hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, dan sal ons gered word” (Rom. 10:9). Die beste wat ek en jy vir ander kan doen, is om hulle te vertel hoe hulle ook deel daarvan kan word. Ons het die beste nuus in die wêreld en die grootste genade wat ons iemand kan betoon, is om dit met hulle te deel! Watter groter voorbeeld is daar van ’n extreme makeover?
“Die beste gebruik van ‘n lewe is om dit aan iets te bestee wat dit gaan oorleef – net God se koninkryk gaan hou, al die res gaan oplaas verdwyn” (William James).
Gebed: Sjoe, Vader. Hoe kan ’n mens anders as om nie oorrompel te word deur die nuwe ooreenkoms nie? Dis so ’n groot teken van U liefde vir ons. Help my om dit uit te leef orals waar ek gaan. In Jesus se Naam. Amen.
Comments