top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 26 Oktober 2022

Koos Espach


Simon die Towenaar en die apostels (8)


Filippus in Samaria (9)


Gebed is die enjinkamer


Hand. 8:24 – “Toe sê Simon vir die apostels: ‘Bid júlle tog vir my tot die Here, sodat niks van wat julle gesê het, my tref nie.”


Hoewel Petrus ’n skerp veroordeling oor Simon uitgespreek het, ag hy tog sy bekering moontlik en spoor hy hom selfs daartoe aan om tot die Here te bid, wie miskien die slegte gesindheid van sy hart sal vergewe (v. 22). Hiermee word die moontlikheid van vergifnis nie onseker gestel nie, maar slegs bedoel dat die verhoring van gebede en die vergifnis van sondes in die hande van die Here is. Die apostels kan nie sonde vergewe nie.


Maar hoe reageer Simon? Hy vra vir Petrus en Johannes: “Bid júlle vir my tog tot die Here, sodat niks van wat julle gesê het, my tref nie.” Aanvanklik klink dit goed en pragtig – Simon vra voorbede van die apostels. Maar dit is glad nie so pragtig nie. Hy kom nog altyd nie self op sy knieë voor God nie. Hy bly vasgevang in sy magiese denke. Hy meen nou dat die gebed van 'n ampsdraer meer by God gewig sal dra as die gebed van 'n ootmoedige gelowige. Hy vra nie om vergewing van skuld nie. Hy het alleen gevra dat hy die oordeel wat Petrus oor hom uitgespreek het, gespaar mag bly. Dit blyk dat hy nie begryp dat hy gesondig het nie – hy toon geen berou nie. Hy is net bang dat hy iets vreesliks sal oorkom omdat Petrus genoem het dat hy saam met sy geld sal vergaan. Hy verhard hom dus in sy sonde en blyk onbekeerlik te wees.


Lukas vertel nie verder wat met Simon gebeur het nie. ‘n Mens kan dink dat hy met sy toorkunsies sou voortgaan en die pas gestigte gemeente in Samaria in onreg bring, maar hy verdwyn van die “verhoog” af. Ons hoor nooit weer van hom nie. Christus raak eenvoudig van hom ontslae – hy sal beslis nie die oorwinningsgang van God se Koninkryk keer nie. As hy maar net Petrus se raad gevolg het, hom bekeer het van sy dwaling en tot die Here gebid het vir vergifnis. Dan sou hy ook die Heilige gees ontvang het en God hom die genade geskenk het om lewenskragtig te word en elke dag effektief ‘n getuie van die lewende Christus kon wees.


As hy maar net gebid het ...! Dit is so waar. En so onverstaanbaar. As die honger knaag, weet ek daar sal kos wees wanneer ek die yskas oopmaak. Dan is dit mos logies dat wanneer ek my honger wil stil, moet ek net die yskas se deur oopmaak. By die yskas kry ek alles. Dit stil my honger en gee my petrol om nog ’n paar ure aan te gaan. Hoe dom sal dit wees om te weet ek moet net die yskas se deur oopmaak, maar ek doen dit nie? Een of ander tyd sal my petrol opraak en sal ek eenvoudig net gaan staan.

Dieselfde kan gesê word van gebed. Ons bid te min. Ons bid te min vir mekaar. Ons bid te min dat God se wil in ons lewens ’n realiteit word. Ons bid te min, daarom is ons werke so kragteloos. Dis soos om die kragprop by die kragsok in te druk en nooit die skakelaar aan te skakel nie. Dit klink eintlik nou lekker stupid, maar is dit nie presies wat met ons min gebede of geen gebede gebeur nie? Ek wonder of ons nog bid met ’n verwagting dat Iemand aan die ander kant hoor, wat nog te sê iets met die gebed doen?

Corrie ten Boom, ’n Nederlandse tannie wat saam met haar familie, Joodse families in hulle huis vir die Nazi’s weggesteek het, het gesê dat gebed die enjinkamer van die gemeente is. As die enjin nie gesond is en teen sy volle spoed hol nie, gaan die wiele die een of ander tyd afkom. In hoeveel kerke het die wiele nie al afgekom nie? Kerkgeboue staan leeg, sonder dat daar enige verskil in die wêreld gemaak word!


Wanneer ek en jy sukkel om die pad reg te stap, kan en moet ons op ons knieë gaan en met God gesels. Dis juis hier in gebed waar ons uit die wêreld geneem word, waar ons rustig word en in tune kom met God. Dis hier waar ons anders word, om anders te lewe daar buite in die wêreld. Mag ons nooit die krag van gebed vergeet nie. Mag ons nooit ophou om te bid vir mekaar, vir ons geliefdes, vir ons vriende en kollegas nie. Mag ons glo dat gebed ’n kragtige uitwerking het. Mag ons onthou dat gebed ook die enjinkamer van ons lewe is en dat ons die enjin die heeltyd aan die gang moet hou. Glo en doen dit elke dag.

“Gebed is soos ‘n elektriese skakelaar. Dit skep nie die stroom nie, maar skep die kanaal waardeur die stroom kan vloei” (Max Handel).


Gebed: Ek bid vir U krag in my lewe, Gees van God, sodat ek elke dag al hoe meer soos Jesus my Verlosser sal wees en al hoe nader na Hom sal groei. Amen.

Comentarios


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page