top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 21 Oktober 2022

Koos Espach


Filippus in Samaria (6)


Kanaal van lewende water


Hand. 8:15-17 – “Petrus en Johannes het toe gegaan en vir die mense daar gebid dat hulle die Heilige Gees mag ontvang, want die Gees het nog nie op een van hulle gekom nie; hulle was net in die Naam van die Here Jesus gedoop. Die apostels het hulle die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.”


Vergelyk ook Joh. 7:37-39 – “Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: ‘As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.’ Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang. Die Gees was nog nie uitgestort nie, omdat Jesus toe nog nie verheerlik was nie.”


Die tyding dat die Samaritane die Woord van God aanvaar het, het die apostels seker groot blydskap besorg aangesien Jesus se opdrag en versekering dat hulle die krag van die Heilige Gees sal ontvang wanneer hulle getuies in Samaria is, (1:8), nou in vervulling begin gaan het. In die dorpie in Samaria bid Petrus en Johannes dat die gelowiges van Samaria ook die Heilige Gees mag ontvang. Die Joodse Christene in Jerusalem het die Heilige Gees as gawe ontvang, wat die kenmerk van hulle Christen-wees was, asook van hulle verbintenis met die verhoogde Christus. Die Heilige Gees maak ook nou woning in die gemeente van die Samaritane, soos Hy in die gemeente te Jerusalem gedoen het.


Ons mag dalk wonder waarom die Heilige Gees nie dadelik in volheid oor die gemeente daar gekom het nie? Waarom moes Petrus en Johannes eers uit Jerusalem kom en daarom bid? God is Almagtig en op hierdie wyse benadruk Hy ook in Samaria, net soos in die wêreld van vandag, dat die lewe in sy Koninkryk die ene genade is. Die uitstorting van die Heilige Gees is nie deel van towerkunste nie, maar ‘n genadegawe wat alleen deur Christus aan Sy kerk gegee kan word. “Die apostels het hulle die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.” Hulle is ook in die “Naam van Christus gedoop,” en langs hierdie weg word hulle die eiendom van Christus. Samaria is nou ook deel van God se genadeheerskappy. Hulle hoef nie meer onder die towerkunste-heerskappy te lewe nie. En die duiwel verloor ook hierdie rondte!

In ons vergelykende teks uit Johannes-evangelie, beklemtoon Jesus die radikale gedagte dat dié wat in Hom glo, kanale van lewende water” sal wees wat ‘n impak in die wêreld sal maak! Ons drink nie net in geloof van die lewende water wat Jesus gee om ons eie dors te les nie, ons word self kanale van lewende water vir ‘n dors wêreld! Uit ons binneste raak die Heilige Gees mense aan met die lewende water van God – verwysend na die Heilige Gees.


Ná Jesus se opstanding, hemelvaart en pinkster, maak die Heilige Gees woning binne-in die lewe van élke mens van elke nasie, wat glo in Jesus Christus as Verlosser en Redder. Deur Sy permanente ononderbroke inwoning, is Jesus sélf in so 'n mens! En omdat die ewigdurende Máker van lewende water ín ons gelowiges woon, vloei die strome lewende water uit ons uit want die Bron daarvan is nader aan my en jou as ons eie asem. Onbeskryflik Goddelik!


Elkeen wat tot hierdie geloofsvertroue in Jesus Christus kom, ontvang die Heilige Gees op so 'n manier! Dit is onmoontlik om in die Here Jesus verlos te wees en nié die Heilige Gees inwonend te besit nie. Paulus bevestig dit: “Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie” (Rom. 8:9).


Geen mens kan sonder water leef nie, daarom is Christus die Één waarsonder geen mens kan leef nie en ook nie durf waag om sonder Hom te sterf nie. Ons eie ervaring van die Heilige Gees begin by die Here Jesus self. En mense rondom ons sal die effek begin voel. “Strome lewende water sal uit ons binneste vloei.” Ek en jy word ‘n kanaal van God se lewende water vir ander. Ons sal nie die water self wees nie, net die kanaal. Maar watter vreugde sal dit nie wees vir mense rondom ons nie?


“Natuurlike water kan ‘n mens se lewe in stand hou, mits daar herhaaldelik gedrink word; maar die ‘lewende water van Jesus’, bring oorvloedige geestelike lewe in hierdie tyd, en dit voer tot die ewige lewe in heerlikheid!” (Onbekend).


Gebed: Jesus Christus, wanneer ek na U toe kom, dan weet ek die Heilige Gees kom neem van my besit en ek kan verwag dat strome lewende water sal begin vloei. Nié omdat ek so voel nie, maar omdat U dit bevestig. Dankie dat dit ’n oorvloediger lewe waarborg en dat die einddoel daarvan is om my by ’n blye eindbestemming te bring, die ewige lewe! Amen.

Opmerkingen


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page