Gedagte vir Vandag
Woensdag, 19 Oktober 2022
Koos Espach
Simon die Towenaar en die apostels (3)
Filippus in Samaria (4)
Koninkryk van God vs die ryk van die bose
Hand. 8:13 – “Selfs Simon het gelowig geword. Hy is gedoop en het Filippus orals vergesel. Hy was verstom oor die groot tekens en kragte wat hy gesien gebeur het.”
Van die begin af het die evangelie in die wêreld ’n stryd gehad. In Jerusalem moes dit die aanslae van die hoogmoed van die wettiese godsdiensleiers verduur. Selfs toe die evangelie verder geneem is oor die grense van die Jodedom, het dit te doen gekry met verleiers, kultusse en kulkunste wat ook in Samaria hulle invloed laat geld het. Simon was een van hierdie mense wat die inwoners van Samaria met sy toorkunste verstom (verlei) het (v. 9). Hy het selfs die mense met allerhande goëltoertjies oortuig dat hy “Die Groot Krag van God is” (v. 10).
Simon het in Samaria ’n groot aanhang gehad. Mense het in hom geglo. Simon, die towenaar, is op dié oomblik die man van die dag. Hy was nie net 'n onskuldige goëlaar nie, maar 'n man met mag. Hy het in die oë van die mense beskik oor geheimsinnige goddelike kragte. (Laat my dink aan die magiese krag van toordokters in ons land. Wonder wie en wat verlos hulle???) Maar dit sou heeltemal verkeerd wees as ons op Simon sou fokus. Hy speel regtig nie die hoofrol in hierdie geskiedenis nie. Hy was maar net 'n duidelike voorbeeld van 'n mens wat gevang is in die greep van die duiwel, die opperste leuenaar van hierdie wêreld. Een van die talle voorbeelde wat ons steeds in hierdie wêreld kan raakloop.
Op ‘n dag kom die vlugtende gelowige Filippus, in Samaria aan, die plek waar afgodery en towery hoogty vier. Die duiwel blyk in beheer te wees. Maar ‘n eenvoudige diaken begin daar werk. Filippus het heel moontlik alles net so gelaat toe hy uit Jerusalem gevlug het, maar mens kan ‘n Christen alles ontneem, behalwe die Evangelie. Dit neem jy saam waarheen jy ook al gaan. En Filippus bring daardie Evangelie aan die mense, ‘n boodskap waardeur die Heilige God in die persoon van Jesus Christus voor hulle staan en sê: “Ek het vir jou sondes gesterf. Ek wil jou Verlosser wees. Jou sondes is vergewe. Jy is nou ‘n nuwe mens. Jou lewe, die ware lewe saam met Jesus lê vir jou oop. Vergeet van die “Ryk van die Bose”, dit is nie opgewasse teenoor die “Koninkryk van God” nie.”
Teenoor Simon handhaaf Filippus dat Christus die krag en wysheid van God is. Die mense van Samaria beleef skielik egte wonderwerke. Simon se towerkunste wat die bevolking van sy stad verbyster het, se aansien kwyn en “hulle het gelowig geword, en mans sowel as vrouens is gedoop. Selfs Simon het gelowig geword.” ‘n Wonder gebeur: 'n hele stad is deur Christus verlos uit die mag van die Bose en is met blydskap vervul! Hoe eg Simon se bekering was, weet ons nie. Hy het egter besef dat wat hy sien, nie goëltoertjies is nie, maar die ware Jakob.
Hoe weet ‘n mens of iemand werklik tot bekering gekom het? Verskeie gemeentes ervaar nou in hierdie tyd van die jaar geleenthede waar jongmense belydenis van hulle geloof aflê. Só baie jongmense gaan deur die kategese en verseker die gemeente plegtig dat hulle waarlik die Here Jesus aangeneem het en hulle voortaan vir Hom wil lewe. Maar twee Sondae nadat hulle belydenis van geloof afgelê het, is baie van hulle afwesig by die erediens en sommige verdwyn om eers jare later, hopelik werklik tot oorgawe kom. (In sommige gevalle, verdwyn hulle ouers saam met hulle.) Was kategese maar net ‘n fase wat hulle moes deurworstel omdat hulle ouers dit wou hê? Was dit dan nie eg nie?
Inteendeel, wanneer die Belydenisvrae deur die leraar aan die voornemende lidmaat gevra word, is die antwoord daarop altyd: “Ja!” God is met ander woorde as getuie geroep! Ons kan nie later die eed wat ons afgelê het voor God, verbreek nie! Dis om vir God te lieg! Dis so maklik, asof dit beskou is as lidmaatskap van ‘n rugby- of gholfklub. As ek nie van die reëls hou nie, kry ek ‘n ander klub waar die reëls mý pas. “Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie” (Pred. 5:4). Dit is satan se manier om te probeer om God van Sy troon af te stoot.
Dit word vertel van ‘n predikant wat tydens ‘n preek vir die gemeente gevra het of hulle weet waar die plek in die wêreld is waar daar die heel meeste gejok word? Sy antwoord was skokkend: “Die plek reg voor die kansel waar elke gelowige ten minste driemaal verskyn om ‘ja’ te sê – ‘ja’ met die doopplegtigheid; ‘ja’ met die belydenisaflegging; ‘ja’ met die huweliksbevestiging. En hoe dikwels verander daardie ‘ja’ nie in ’n ‘nee’ nie?” Dit is eintlik die plek waar ons sekerheid moet kry om op ons eie beloftes vas te kan staan in ons geloof, want ons “ja” is voor God wat Sy trou in Jesus Christus bewys het.
Om ‘n leuen te vertel is om satan na te boots. Die leuen is die fondament van opponering teen God, Christus en die waarheid. Christene glo in die waarheid, leef die waarheid, het die waarheid lief en is toegewy aan die waarheid want dit bevry ons. “(Ons) is gered deurdat die Gees (ons) vir Hom afgesonder het en deurdat (ons) die waarheid glo” (2 Tess. 2:13b). Ek en jy bly mos in ons geestelike lewe pelgrims, of eerder, geloofsreigers tot en met die dag van ons dood. Met geloof moet ons die wedloop voltooi waartoe God ons geroep het. Kom ons doen dit dan!
“’n Leuen is ‘n sneeubal, hoe langer jy hom rol, hoe groter word hy” (Martin Luther).
Gebed: Here, maak my woorde en dade vry van oneerlikheid en onopregtheid. Ek bid vir die verleiers wat in ons land en in die wêreld bedrywig is. Vergewe hulle en red hulle uit genade. Laat my van nuuts af volhard in die geloof. Amen.
Comments