top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 18 Oktober 2022

Koos Espach


Simon die Towenaar en die apostels (2)


Filippus in Samaria (3)


Daar is geen towerformules op God se pad nie


Hand. 8:12-13 – “Maar toe Filippus die evangelie van die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus aan hulle verkondig het, het hulle gelowig geword, en mans sowel as vrouens is gedoop. Selfs Simon het gelowig geword. Hy is gedoop en het Filippus orals vergesel. Hy was verstom oor die groot tekens en kragte wat hy gesien gebeur het.”


Dit is dalk raadsaam om ‘n paar feite van Samaria uit te lig. Tydens Jesus se aardse lewe was Palestina ongeveer 193 kilometer vanaf Noord na Suid. Die drie gebiede het bestaan uit Judea in die Suide en Galilea in die Noorde met Samaria in die middel. Samaria is in 722 vC deur Assirië verower en al die leiersfigure is as bannelinge weggevoer. Assiriërs is ingevoer en ondertrouery het in Samaria plaasgevind wat die bevolking nie meer suiwer Joods gelaat het nie. Die Jode het die Samaritane daarom as onsuiwer “Basters”, wat onrein geleef het, beskou. Die Samaritane was weer glad nie beïndruk daarmee nie. Hulle het gevoel hulle het in die land agtergebly en daarom het hulle godsdiens suiwerder gebly.


Lukas bring nou vir Filippus en Simon die Towenaar saam op die verhoog. Simon is nou nie meer die hoofrolspeler en die man met die aanhang in Samaria nie, “maar Filippus wat die blye boodskap” teenoor die toorkunste van Simon verkondig het, triomfeer. Wat is die blye boodskap wat Filippus verkondig het? God se koninkryk is groter as die Romeine s’n; die Naam van Jesus Christus is bo alle name en Hý is die Koning van hierdie koninkryk!


In Filippus se preek staan die heerskappy en die reg van God voorop teenoor die sataniese invloed van Simon. Jesus se werk is trouens die handhawing van die heerskappy van God teenoor Satan – “... wie aanhou sonde doen, behoort aan die duiwel, want die duiwel hou van die begin af aan met sondig. En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak” (1 Joh. 3:8). Nou kon die Samaritane, wat selfs deur die Jode as “honde”, ook hoor dat daar ’n evangelie van die koninkryk van God is. God handhaaf sy reg nie deur alle sondaars te verdelg nie, maar deur hulle te red. Daarom, wie Jesus Christus in die geloof aanvaar, aanvaar die koninkryk van God tot verlossing en seën.


Dit is veelseggend dat die blye boodskap wat Filippus verkondig het, daar mans sowel as vroue gedoop is soos hulle tot bekering gekom het. Anders as die Jode se besnydenis van seuns en mans alleen, is Jesus se verlossingswerk vir álle mense om hulle lewe te onderwerp aan die koninklike heerskappy van God se Christus, die Gesalfde Koning aan God se regterhand (Luk. 22:69) – “God het hierdie Jesus wat die Jode gekruisig het, Here en Christus gemaak!” (Hand. 2:36). Selfs ou Simon het gelowig geword. Hy het hom ook laat doop en “was so verstom oor die groot tekens en kragte wat hy gesien gebeur het, dat by Filippus oral vergesel het.”


God se krag moet nie met towery verwar word nie. God is die Almagtige wat Hom nie verlaag tot die doen van ‘n klomp toertjies om mense te beïndruk nie. Hy is God wat selfs towenaars uit die pad vee sodat die evangelie kan voortgaan op sy oorwinningspad deur die wêreld! As Jesus nie as Here erken word nie, val die boom van die evangelie uit, dan is dit nie meer die evangelie, die blye boodskap nie. God gee om vir die hele wêreld – “God het die wêreld so liefgehad ...” (Joh. 3:16). Reg van die begin af wou God ‘n familie hê uit elke nasie wat Hy geskep het: “Uit een mens het Hy al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon. God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind ...” (Hand 17:26-27).


Ons bevind ons in ‘n wêreld waar baie mense nie meer erg het aan die waarheid dat “God die wêreld so lief gehad het dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” Tyd word ingeruim vir wêreldsdinge en baie leef asof hul vir ewig gaan leef. Jesus is in ‘n kompartement geplaas waar Sondae, en in baie gevalle, slegs sommige Sondae, aan Hom afgestaan word in ‘n formele kerkdiens of sommer oor die radio of TV te luister. Die weg na die Vader is ongelukkig nie deur politieke partye, geleerdheid, wetenskaplike eksperimentering, towery of enige wêreldsdinge nie.


Petrus het duisende jare gelede al gesê: “Jesus bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie” (Hand. 4:12). Ek en jy is immers wat ons geestelike lewe betref, iewers heen onderweg. Dit is daarom nodig dat ons besef dat al die roetes waarop ons ons begeef, behalwe één, niks anders as doodloopstrate is nie. “Hy is die weg, die waarheid en die lewe” (Joh. 14:6). Slegs wanneer my en jou voete op daardie weg is, is ons op die pad van die lewe, want God self gee aan almal wat hierdie weg bewandel, die ewige lewe!


“Jesus se pad stop by die voordeur van dié met stukkende lewens – nooi Hom in” (Prof. Stephan Joubert).

Gebed: Hemel Vader, dankie dat U my só liefgehad het dat U vir Jesus aan my as geskenk gegee het. Daardeur het U agteroor gebuig om my volmaak te red. Dankiedankiedankie! Amen.


Comments


Recent Posts