top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 13 Oktober 2022

Koos Espach


Saulus vervolg die kerk (2)


Jesus hou Sy kerk in stand


Hand. 8:3 – “Saulus het die kerk probeer uitroei. Hy het van huis tot huis gegaan, mans en vrouens laat uitsleep en hulle in die tronk laat sit.”


Hoewel Saulus nie direk saamgewerk het om Stefanus om die lewe te bring nie, was hy tog indirek daaraan aandadig. Hy het die daad goedgekeur (8:1) terwyl hy die klere van die klipgooiers opgepas het. Hy verbreek later die Joodse huisreg deur van huis tot huis in Jerusalem te gaan om Christen-gelowiges uit te snuffel en tronk toe te sleep. Hy het gepoog om “die Jesus-beweging” te vernietig, “die kerk van die Here uit te roei”, mans sowel as vrouens. Hy het geweet dat vroue ’n groot rol in geloofsake speel.

Saulus se aanvanklike lewensdoel was om die kerk te stop, en geweld was die enigste manier om dit reg te kry. Stefanus se bloed was nog nie eers koud nie, toe het Saulus al begin met sy missie! Skrikwekkend om te dink dat ‘n gewone mens probeer om teen die Almagtige God te kan opstaan en Sy kerk sommer net laat verdwyn, die kerk van Jesus van die aardbol af weg te vee! Dis nou Paulus se BC (before Christ) dae. Paulus was ’n fanatiese Jood en het die kerk van daardie tyd slaafs nagevolg en met alles in hom verdedig. Hy sou enigiets doen aan iemand wat iets anders as sy kerk sê en doen.


Hy het geglo in die wet van God en niks anders nie. Alhoewel hy nie vir Jesus ontmoet het nie, het hy dit op homself geneem om Jesus se volgelinge in hulle spore te stop. Hy het dit op homself geneem om dié “sekte” tot ’n val te bring en hier sou hy nie mooi te werk gaan nie. Inteendeel, hy het selfs vir Jesus belaster, (1 Tim. 1:13). Maar hy het hom misgis met die Here van die kerk. Christus hou self Sy kerk in stand. Niks of niemand kan Sy kerk se stem ooit stil kry nie.


Merkwaardig hoe sy lewe verander het. Saulus wat later Paulus word, is die ou by wie ons so baie leer, by wie se voete ons jare lank sit om te leer van Jesus en hoe ons vandag moet lewe. Sy verlede maak nie ’n mooi prentjie nie. As ons na dié prentjie kyk, lyk Paulus nie na die beste kandidaat om Jesus se storie en die manual vir die volgende eeue vir Jesus se volgelinge vas te pen nie. Ek is seker daarvan dat daar baie beter mense met baie beter CV’s was om die werk te doen. En tog kies God vir Saulus om hom daar op die Damaskus pad te ontmoet en hom te oorspoel met Sy liefde. Soveel so dat God selfs sy naam verander en toelaat dat hy vir ’n paar dae nie kon praat of sien nie.


Dís wat kan gebeur as ’n mens in God vasloop. Paulus getuig verder: “Maar God was genadig teenoor my omdat ek in ongeloof nie geweet het wat ek doen nie” (1 Tim. 1:13b). Paulus het gedink hy doen die regte ding. Dis dan vir die kerk wat hy veg. Hy probeer die kerk skoonhou van al die sektes. Gelukkig help God vir Paulus. Ten spyte van dit wat hy aangevang het, kry God hom jammer en gaan ontmoet hom op die pad na die lewe.

God maak onbevoegde mense bevoeg. God gebruik mense wat op ’n ander pad is om op Sy pad te kom werk. God gebruik mense ten spyte van wat hulle al alles aangevang het om vir Hom ’n verskil in die wêreld te maak. God kan my en jou ook gebruik in die omgewing waar ons woon, werk en speel, want dáár is ek en jy die beste man of vrou vir die job. Ons ken daardie “stofstrate” en ons ken die mense. Ons weet hoe hulle dink. Ons weet waar hulle van die pad af is. Nes ons dalk ook al was. Ons ken hulle taal en manier van lewe. Wanneer ons praat, hoor hulle, want ons is een van hulle. God roep ons, al lyk my en jou verlede hóé en al dink ons wát. God wil ons gebruik, daar waar ons is.


“Die evangelie is nie net iets waarvoor jy kerk toe gaan om te hoor nie, maar iets waarvoor jy uit die kerk uitgaan om te gaan oorvertel en uit te leef” (Vance Havner).


Gebed: Here, dankie dat U ook my verlede kan gebruik om vandag ’n verskil in ander mense se lewens te maak. Gebruik my Here, waar U besig is, om ander van U te vertel, ander beter te verstaan en te help. Amen.

Comments


Recent Posts