top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 11 Oktober 2022

Koos Espach


Epiloog en Stefanus se steniging (6)


Die dood bly ‘n realiteit


Hand. 7:59-60 – “Terwyl hulle vir Stefanus stenig, het hy geroep: ‘Here Jesus, ontvang my gees!’ Toe het hy op sy knieë neergesak en hard uitgeroep: ‘Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie!’ Met hierdie woorde het hy gesterwe.”


Stefanus word volgens die eise van die Joodse wet buite die stad geneem, en die vereiste getal getuies wat die kwaad gesien of gehoor het, kan die eerste klippe werp. Stefanus sien nie die moorddadige uitdrukking in sy teenstanders se gesigte nie. Inteendeel, terwyl hy gestenig is, het hy die Here Jesus in die gebed aangeroep en gevra dat Hy sy gees moes ontvang, net soos Jesus ook gedoen het toe Hy sy gees in die hande van sy Vader oorgegee het, (Luk. 23:46). Stefanus het op sy knieë geval om te bid terwyl die klippe op hom reën en met ’n luide stem, om bo die lawaai van die klipgooiers gehoor te word, uitgeroep: “Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie!”


So het Jesus ook met ’n luide stem gebid toe die soldate Hom aan die kruishout vasgespyker het: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Luk. 23:34). Stefanus se woorde herinner aan die kruiswoord van Jesus, maar as sondige mens bid hy in ’n ander orde as wat Jesus gedoen het. Hy bid naamlik eers vir homself as sondige mens, en daarna vir die klipgooiers. Met hierdie woorde het hy op ‘n kalm wyse gesterf, in skrille teenstelling met die woede van sy vyande.


Stefanus se sterfdag breek op die wreedste denkbare manier aan. Dit maak van hom die heel eerste persoon wat sy lewe weens geloof in Jesus Christus verloor het. Dit gebeur aan die einde van 'n lang toespraak voor die Sanhedrin, die hoogste hof van die Jode. As mens van vandag, sou ons reaksie heel moontlik een van verwyt wees: “Wel, Stefanus het daarvoor gesoek. Hy het die Joodse Raad onnodig gekwets. Geen wonder hulle was woedend nie. Miskien moes hy nie so konfronterend gewees het nie en meer sy luisteraars se gevoelens ook in ag geneem het.”


Helaas, al sou sommige mense van vandag, Stefanus se toespraak moontlik as haatspraak beskou, was dit vir hom meer as sy lewe wat op die spel was. Hy was gefokus op God. Hy het moontlik geweet as hy lewe, is dit tot voordeel van die kerk. As hy sterwe, is hy by Christus. Dis nie werklik die klipgooiers wat sy lewe en geluk bepaal het nie. Inteendeel, Christus doen dit. Midde in die chaos het hy verby almal gekyk en “die hemel geopen gesien en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan” (7:56). Daarom kon hy met vergifnis in sy hart en verlange na die Here sterwe. Hy het immers sy eindbestemming duidelik gesien – hy kon homself onvoorwaardelik in Jesus se hande toevertrou!


Stefanus het hom nie verwerdig om homself te beskerm teen die vals bekuldigings nie, hy het eerder die Raad en die volk se skynheilige praktyke ontmasker. Sy toespraak het hulle bloed laat kook. Ek wil nie veralgemeen nie, maar vandag probeer meeste leraars om só ‘n reaksie te vermy deur maar liewers glad nie oor sonde te preek nie, en eerder die vrede probeer bewaar. Het dit nie dalk tyd geword om mense uit hulle “geestelike slaap” wakker te maak nie? Miskien het dit nodig geword om juis op ‘n paar liddorings te trap deur reguit te praat oor sonde, veral as jy omgee vir jou gemeente. Indien die pediking soms mense se bloed laat kook, en hulle die kerk verlaat en ‘n gemeente soek waar die leraar nie oor sonde (of oor geld) preek nie, is dit dalk beter as om toe te laat dat lidmate dalk op pad hel toe is. Miskien moet ons meer gereeld vir ons leraars bid dat hulle die moed sal hê om God se boodskap helder en duidelik en sonder omhaal, oor te dra.


Dit kos ‘n prys om een van Jesus se moderne volgelinge te wees, sê Prof. Stephan Joubert. Skriftuurlike prediking is Christus se instrument om die ou mens in my en jou dood te maak, daardie harde harte van klip te verbrysel. Wanneer dit voel asof die prediking ons afbreek, is dit God se instrument om ons op ons knieë te bring, vol berou. Dis dáár waar Stefanus Jesus aan God se regterhand sien staan het. Ek en jy dien dieselfde Here as Stefanus. Wat betaal ons elke dag vir hierdie ongelooflike voorreg? Doen dit enigiets aan ons geloof? Stefanus sterf triomfantelik met ‘n loflied op sy lippe. Hy sien “die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan”. As ons die ou mens in ons afsterf, dan sal ons ook in geloof, Jesus daar sien staan. Wanneer ek en jy met ons mond bely dat Jesus die Here is, kom die nuwe mens in ons tot lewe, daar waar die ou mens afsterf – dan is ek en jy op koers – na die regte eindbestemming!


"Die bloed van die martelare is die saad van die evangelie" (Kerkvader Tertullianus – 160-230 A.D.).


Gebed: Dankie Vader dat ek die genade ontvang het om Jesus Christus te kan bely. Dankie dat ek met sekerheid kan weet dat ek in sy Naam, na my ewige adres sal verhuis. Amen.


Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page