Gedagte vir Vandag
Donderdag, 6 Oktober 2022
Koos Espach
Epiloog en Stefanus se steniging (3)
Jesus bring ‘n beter bedeling vir almal
Hand. 7:56 – “Kyk,’ het Stefanus gesê, ‘ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan.”
Vergelyk ook Heb. 8:1-2 – “Die hoofsaak van wat gesê is, is dit: ons het ‘n Hoëpriester, Een wat gaan sit het aan die regterkant van die troon van die Majesteit in die hemel. Hy is bedienaar van die heiligdom, die ware verbondstent, wat deur die Here opgerig is en nie deur ‘n mens nie. ”
Normaalweg is die heerlikheid van God bedek vir mense se oë. Stefanus síén egter Jesus staan! Hier is geen visioen ter sprake nie! Jesus sit nie soos gewoonlik aan die regterhand van God nie. Dat Stefanus op die oomblik in die besonder deur die Heilige Gees vervul is, het hom in staat gestel om die geopende hemel te sien, die ligglans wat uit God straal en dié Jesus wat die Raad en Jode vermoor het, opgestaan het uit die dood en, soos Hy aan hulle beloof het, aan die Regterhand van God is (Luk. 22:69). Dié Jesus wat op aarde was, geniet tans die heerlikheid in die hemel en Hy staan, so asof Jesus vir Stefanus by God intree. Soos ‘n vader wat sy kind in ‘n moeilike geveg wil bystaan, staan Jesus gereed om in te gryp. (Eintlik is dit nie nodig nie, want Stefanus, “vol van die Heilige Gees,” bevind hom reeds in die teenwoordigheid van God!)
Volgens die Hebreërskrywer het ‘n nuwe bedeling aangebreek sedert Jesus Christus sy posisie aan die regterhand van God ingeneem het. Alles het toe verander – God se nuwe verbond het aangebreek – ‘n splinternuwe verbond omdat die ou verbond tussen God en Israel, gebrek gehad het. Hierdie gebreke was nie God se skuld nie, maar die mens s’n. Hulle het nie hulle kant van die verbond, nagekom nie. Hierdie verbond is ‘n ooreenkoms of kontrak waarvan God die beherende aandeel het, dit is eensydig. Ek en jy kan nie vir God sê daar is dele van die ooreenkoms waarvan ons nie hou nie, en verander moet word om ons te pas nie. God het egter besluit om die vorige verbond te kanselleer, en ‘n nuwe verbond daar te stel wat in werking getree het toe sy Seun Jesus, sy lewe as offer vir ons gegee het.
Verandering is deel van ons lewe en ons moet dankbaar wees vir al die veranderings wat die lewe vir ons makliker gemaak het. Net so moet ons vreeslik dankbaar wees dat God nie meer “vasgekeer” vir die gewone mens in die Allerheiligste van die Tabernakel, of Jerusalem se tempel sit nie. Dit was mos die plek waar die hoëpriester een keer per jaar kon ingaan om ‘n dier se bloed as offer te sprinkel vir die mens se verlossing. Jesus het ’n groot verandering gebring. Jesus het die gordyn geskeur, die muur tussen mens en God afgebreek, Sy bloed gestort. Ons kan nou by God uitkom. Vir hierdie verandering moet ons so dankbaar wees: “In die heilige plek waar God is, is Jesus besig om as Hoëpriester vir ons te doen wat vir ons nodig is om ook by God te wees” (Heb. 8:2 – Die Boodskap).
Die veranderings het nie gestop toe Jesus die aarde verlaat het nie. Jesus het ’n nuwe “werk” in die hemel aanvaar en dit is om by God in te tree vir ons. Die rol van die hoëpriester was om ’n koei of ’n skaap of ’n duif te offer, sodat ons nie geoffer of doodgemaak hoef te word vir die sondes wat ons aangevang het nie. Toe Jesus Sy liggaam, Sy bloed, Sy wese aan die kruis geoffer het, was dit oorgenoeg. Daar hoef nooit weer ’n offer vir ons sonde gebring te word nie. Met respek, Jesus as ons Hoëpriester, vat die shots namens ons. Hy “staan” elke keer gereed om ons te verdedig.
Dankie tog dat dinge nie dieselfde gebly het nie. Dankie tog dat dinge verander het en oor en oor, vir die beste na ons kant toe. Dit is net moontlik gemaak deur Hom wat die posisie van Hoëpriester ingeneem het. Jesus sit daar langs God en verdedig ons, pleit vir ons (Rom. 8:34). En, bowenal, die nuwe verbond is nie net ‘n ooreenkoms op papier nie. Die inhoud van God se kontrak is nou op ons harte oorgeskryf wat deur die toedoen van die Heilige Gees, ons verstand verlig met die waarheid!
Ons moet só dankbaar wees vir Jesus. Sy offer aan die kruis maak dat God nie meer aan ons sondes dink nie. Daar het ‘n beter bedeling vir elkeen aangebreek wat in Jesus Christus glo. God het eensydig besluit om ‘n beter kontrak op te stel tussen Hom en ons, en Goddank, ons name is ook nou as begunstigdes in hierdie nuwe kontrak bygevoeg. Ons is nie meer aangeklaagdes nie, maar kwytgeskeldes! Ek en jy tel nou onder diegene wat vrygespreek is en deur God se genade, hierdie voorreg geniet. Wat ‘n voorreg!
“Jesus het geword wat ons is, sodat Hy ons voor God kon maak wat Hy is” (Athanasius).
Gebed: Jesus, dankie vir die verandering wat U gebring het. Dankie dat U elke dag by ons Vader sit en ons saak namens ons daar stel. Dankie dat ons kan weet dat ons plek in die hemel voorberei is. Aan U kom al die eer toe! Amen.
Comments