top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 30 September 2022

Koos Espach


Stefanus se toespraak (22)


Die periode van Dawid en Salomo (2)


Heer van ons hele lewe


Hand. 7:46 – “God was vir hom goed, en Dawid het gevra om toegelaat te word om vir God ‘n tempel te bou vir gebruik deur die nageslag van Jakob.”


Dawid het genade in die oë van die Here gevind en die begeerte gehad om ’n waardiger heiligdom vir die Here te bou. Stefanus skets aan die Raad die ironie dat indien die tempel so onmisbaar gewees het soos sy toehoorders gedink het, sou die Here tog seker dit aan Dawid toegestaan het om so iets te bou. Dit was immers Dawid se hartsbegeerte om God op só ‘n wyse te eer dat hy selfs ‘n eed afgelê het: “Ek sal nie in my slaapkamer ingaan nie en nie op die bed wat vir my reggemaak is, gaan lê nie, ek sal my geen slaap gun nie, en sal nie eens insluimer nie, totdat ek ‘n plek vir die Here gereed gemaak het, ‘n woning vir die magtige God van Jakob!” (Ps. 132:3-5).


Waarop Stefanus se argument op neerkom, is dat daar geen haas op die spel was nie, al het Dawid genade by God gevind en al het hy God gesmeek om die tempel te kan bou. As die tempel beslis noodsaaklik was, dan sou die bouwerk dadelik moes begin het. Stefanus laat egter na om te meld dat God wel Dawid se voorneme goedgekeur en hom daarvoor geprys het. Volgens Salomo het God vir Dawid gesê dat sy voorneme goed is om die tempel te bou maar wat Dawid ter voorbereiding gedoen het, is deur Salomo voltooi (2 Kron. 6:8). Alhoewel Dawid die voorbereidings gedoen het, weet ons uit die geskiedenis dat hy nie die tempel mag gebou het nie. God het vir hom gesê: “Jy sal nie vir my Naam ‘n huis bou nie, want jy is ‘n man van baie oorloë en jy het baie bloed vergiet” (1 Kron. 28:3).


Stefanus begin ons teks met “God wat goed was vir Dawid,” maar hy moes ook ervaar dat God sy begeerte om die tempel te bou, omvergewerp het. Hy was seker erg teleurgesteld, maar God se genade is groot. God het hom iets groters gegee. God het hom ‘n vorstehuis gegee, “’n koningshuis wat vir altyd sal vasstaan; ‘n troon wat altyd sal voortbestaan” (2 Sam. 7:8-16). Sy familie sou vir baie eeue in Israel regeer. Uit die geslag van Dawid sou ‘n Koningsfiguur, bekend as die Seun van Dawid, Jesus Christus, gebore word!


Dawid se lus om vir die Here se saak te doen en te gee, het geen perke geken nie. Maar, op die keper beskou, behoort eintlik alles wat hy wou gee, buitendien aan God. Alles was maar net genadegawes, selfs die lewe is ‘n gawe. En dit is miskien die les wat ons hier by Dawid kan leer. Ons moet elke dag vir God in opregtheid dien en gee, nie net wanneer dit met ons goed gaan nie. Die bekende Duitse teoloog, Dietrich Bonhoeffer vertel terwyl hy saam met ander in ‘n gevangenis in Berlyn opgesluit was, ‘n hewige lugaanval, die tronkmure geskud het. Trouens, die bomme het selfs dele van die tronk verwoes.


Een van sy medegevangenes het vreesbevange by Bonhoeffer gepleit om God in gebed te vra vir bystand en genade om die bomaanval te oorleef. Bonhoeffer het egter geweier, want, so het hy aangevoer: “God is nie daar net vir noodsituasies nie. Hy is nie die Een wat net die gate in ons lewe wil toestop nie. Hy is die God wat die volle lewe aan ons gee en wat in die sentrum daarvan wil staan – die Een wat elke dag selfs met die kleinste dingetjie waarmee ons besig is, ons arbeid, ons ontspanning, ons vriendskappe, elke rit wat ons onderneem, gesprek wat ons voer, elke sent wat ons uitgee, teenwoordig wil wees. En as ons Hom nie daar kan ontdek en dien nie, kan Hy beswaarlik in ons nood ‘n toevlug wees.”


Met die aanhoor hiervan, klink Bonhoeffer drasties, veral onder die omstandighede. Maar daarmee wou hy sy medegevangenes, en ook vir ons, aan ‘n belangrike waarheid herinner: “God is nie net ‘n noodoplossing wanneer alles in ons lewe dreig om in duie te stort nie, en ons dan noodgedwonge Hom opsoek nie.” Nee, hoewel Hy ‘n sagte plek het vir almal in nood, wil Hy Here oor ons hele lewe wees. Elke millimeter van ons lewe behoort aan Hom, en dáár wil Hy veral gedien en geëer word. En die kersie op die koek is, ons hoef nie soos Dawid, uit dankbaarheid, ‘n tempel vir God te bou nie. Ons hoef nie God te beperk tot ‘n plek van aanbidding nie.


Sonder dat ons dit besef, kom staan alledaagse dinge tussen ons en God. Stadig maar seker kom druk ons eie drome om bo uit te kom êrens in, en ons skuif God geleidelik uit na die rand van ons lewe. Ons het nie meer tyd nie. Alles is ’n gejaag na wind en voor ek en jy ons kom kry, is dit juis die wind wat ons boom omwaai en ontwortel. God het ons geplant waar ons nou is. God het baie mooi planne vir ons elkeen dáár. Die vraag is of ek en jy dit nog in die oog het? Glo ons nog dat God vir ons ’n plan daar het? Of het ons die pad van die minste weerstand gekies, of gegroei sodat die winde nie so erg waai nie?


“Wie een keer in Jesus Christus die spieëlbeeld van God se Vaderhart gesien het, kyk vir die res van sy lewe met nuwe oë na die wêreld” (Martin Luther).


Gebed: Here, ek weet U het my op ’n spesifieke tyd op ’n spesifieke plek geplaas om ’n verskil te maak. Help my om naby U te bly sodat my wortels diep in U Woord geanker is en sodat geen storm my kan omwaai nie. Dankie dat U ook my Vader is wat my hoor wanneer ek U nodig het. Dankie vir U genade. Amen.

Kommentare


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page