top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 29 September 2022

Koos Espach


Stefanus se toespraak (21)


Die periode van Dawid en Salomo (1)


Dit is ‘n Bybelse opdrag om die samekomste van die gemeente by te woon


Hand. 7:44-45 – “Ons voorvaders het die tent met die getuienis by hulle in die woestyn gehad. Moses het dit op bevel van God gemaak volgens die voorbeeld wat hy gesien het. Die volgende geslag het die tent ontvang en dit saamgeneem toe hulle onder leiding van Josua die land in besit geneem het waaruit God die inwoners voor ons voorvaders uit verdrywe het. Dit het daar gebly tot die tyd van Dawid.”


Die punt waarby Lukas wil kom deur Stefanus se toespraak, is die tweede vals getuienis en die aanklag teen Stefanus oor sy sogenaamde teenkanting van die tempel (6:13). Uit sy toespraak tot hier, kan afgelei word dat die tabernakel of tempel nie noodsaaklik was om God te dien nie, tog beklemtoon Stefanus wel watter plek dit in die erediens ingeneem het. Hoewel die Here die Israeliete aan die afgodery oorgelewer het deur hulle te laat begaan toe hulle die afgode gedien het, het Hy nogtans Sy hand nie heeltemal van hulle af teruggetrek nie. Hy het aan Sy volk die tabernakel, die “tent van die Getuienis,” gegee en aan Moses die opdrag om dit volgens die model te maak wat Hy aan hom getoon het op Sinai (Eks. 25:21; Num. 9:15). In plaas van die afbeeldings wat die Jode van hulle afgode gemaak het, het Moses ’n afbeelding van wat die Here hom laat sien het, laat bou. Die tent was ‘n getuienis van die Here se teenwoordigheid by hulle, die tent waarin God se wet op die twee kliptafels, binne die ark bewaar is.


Die tabernakel is die tent waar God die volk ontmoet het en waar Hy aan Sy volk deur die wet, Sy wil bekend gemaak het. Hierdie tabernakel het die volk in die woestyn ontvang, wat die klem daarop laat val dat hulle tot in daardie stadium nog geen sentrale heiligdom gehad het nie. Hulle voorvaders het dit saam met Josua ingebring in die land “wat hulle in besit geneem het waaruit God die inwoners voor hulle uit verdrywe het.” Die tent is gebruik tot in die dae van Dawid, 250 jaar later. Gedurende daardie tyd, het God genoeë geneem met die tabernakel as plek van ontmoeting met die volk, en was daar dus nog geen tempel waaroor die Raad soveel waarde aan heg en nou so teenoor Stefanus uitvaar nie.


Die Covid-pandemie het die wêreld baie groot laat skrik. Die wêreld het vir ’n tydjie gaan stilstaan. Met die inperking, moes die kerk oor die wêreld ook vinnig ’n paar aanpassings maak. Die meeste moes nuwe maniere kry om Sondag se erediens by die lidmate te kry. Sommiges het meer gesukkel as ander, maar so hinkepink is die boodskap via die internet uitgestuur. Almal het gewoond geraak daaraan. Dit was ewe skielik lekker om Sondagoggend in jou nagklere op die rusbank of in die bed die boodskap te ontvang.

Die landskap van die kerk het vir ewig handomkeer verander. Maar, die inperkingstyd is intussen opgehef. Ons hoef nie meer vir mekaar weg te kruip agter maskers nie. Ons kan weer die Here loof en prys in die kerk. Tog, blyk dit dat baie lidmate gewoond geraak het aan internet-diens en nie na die kerkgebou terugkeer nie. Dis eintlik ’n opdrag: “Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate (ons) die oordeelsdag sien nader kom” (Heb. 10:25). Ons het God nodig! Ons het mekaar nodig. Dit is nie maklik om in die wêreld op jou eie te oorleef nie. Ons is te swak en het die ondersteuning van medegelowiges nodig. Soms word ons oë verblind en dan het ons juis ons maatjies nodig om ons te wys waar ons van die pad af geloop het en hoe ons weer op die pad moet kom.

Baie lidmate se plekkie in die kerk is steeds leeg. Ja, sommige met goeie rede, soos siekte, krisisse, of skofwerk. Ons kan regtig die gewoonte waarin meeste van ons verval het om, oor watter flou verskoning ookal, nie “die samekomste van die gemeente,” by te woon nie, laat staan. Ek en jy as God se kinders moet ons Koning op die troon huldig, aanbid en dank. Godsdiens beteken nie diens aan myself nie, maar diens aan God. Net so beteken ere-diens dat ons dáár eer aan God toebring! Dit is dáár waar ons sprekende Vader deur Sy Gees onder ons teenwoordig is. Dit is dáár waar ons as gemeente al ons verskeidenheid behoeftes aan ons luisterende God kan oordra en, na die voorbeeld van ons Hoëpriester, vir mekaar kan intree. Dit is dáár waar ons saamwees as huisgesin van God kan vier, mekaar kan waardeer, geniet en versterk.

Ons het mekaar as gemeenskap van gelowiges só nodig. Ons het mekaar se insette in ons lewens nodig. ‘n Bemoedigende hand op die skouer, ‘n liefdevolle aansporing op die regte tyd en plek is ‘n bewys van werklik omgee. Ons moet onthou dat Sondag baie met Maandag en al die ander dae te doen het. Ons het die Here elke dag nodig, by die werk, by die skool, of waar ons ons ookal bevind. Dit is die moeite werd om ons toewyding aan Hom te gee. Hy maak die verskil! Kom ons spoor mekaar aan om ons Bybelse opdrag na te kom. Dis immers ‘n opdrag waarby ons “des te meer namate (ons) die oordeelsdag sien nader kom,” nie kan verbykom nie. Kom ons maak ruimte om ons medegelowiges in die oë te kyk en mekaar te ondersteun om deur hierdie donker en deurmekaar wêreld te stap.


“Die oorsaak van “koue, dooie gemeentes” is nie saai eredienste nie, maar “koue, dooie” lidmate wat warmte vir hul eie lewe soek, in plaas daarvan om in navolging van Christus warmte en lewe in ander mense se bestaan te bring” (Gordon Macdonald).

Gebed: Vader, ek hoor so duidelik dat dit ’n opdrag is om kerk toe te gaan. Dankie dat U voorsien het dat ons mekaar weer kan aanraak en ’n verskil in mekaar se lewens kan maak. Dankie dat U die verskil is! Ek wil U elke dag beter leer ken. In Jesus se Naam. Amen.

Comentarios


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page