Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 20 September 2022
Koos Espach
Stefanus se toespraak (15)
Die periode van Moses (7)
God se genade is vir ons genoeg
Hand. 7:30-34 – “Veertig jaar later het ‘n engel eendag in die woestyn by Sinaiberg in die vlamme van ‘n brandende doringbos aan Moses verskyn. Moses was baie verbaas oor wat hy sien, en toe hy nader gaan om te kyk wat dit is, hoor hy die stem van die Here: ‘Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob.’ Moses het gebewe en dit nie gewaag om te kyk nie. En die Here sê vir hom: ‘Trek jou skoene uit, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond. Die mishandeling van my volk in Egipte het Ek gesien. En hulle gekerm het Ek gehoor. Daarom het Ek gekom om hulle te red. Kom nou nader; Ek wil jou na Egipte toe stuur.”
God werk op Sy eie tyd en op Sy eie wyse. Ná nog veertig jaar het God weer ingegryp en verder met die vervulling van die belofte aan Abraham gegaan. ’n Engel het in die woestyn by die berg Sinai in die vlamme van ’n brandende doringbos aan die tagtigjarige Moses verskyn. Hy het die stem van die Here gehoor, wat aan hom gesê het dat Hy die God van sy voorvaders is, die God van die verbond wat onwankelbaar vasstaan. En in die handhawing van die belofte van die verbond, sal Moses as instrument gebruik word om die volk uit Egipte uit te lei.
Die pas van verandering begin vir Moses ná veertig jaar in die woestyn, hier by Sinaiberg te versnel. Die Here het vir Moses gesê om sy skoene uit te trek, aangesien die grond waarop hy gestaan het, heilige grond was. “Moses het gebewe en dit nie gewaag om te kyk nie.” Stefanus wys aan die Raad dat Moses eerbied moes toon soos ’n mens in ’n tempel sou doen. Die Israelitiese priesters het immers in die tempel hulle diens verrig sonder om skoene te dra. By die brandende doringbos was geen tempel nie, maar heilig omdat die Here Hom daar geopenbaar het. Terwyl die Jode alleen die tempel as “heilige grond” beskou het, moet elke plek waar God teenwoordig is, heilig genoem word, selfs wanneer daardie plek buite Palestina was.
Die Here het nie net “die mishandeling van Sy volk gesien” en verstaan nie, Hy het afgekom om Sy volk uit die mag van Egipte te bevry. God se mag is nie slegs tot Palestina beperk nie, maar strek oor die hele aarde, daarom word Moses na Egipte gestuur.
Wie dus kies om die Here se pad te volg waar Hy teenwoordig is, en Hy is áltyd teenwoordig, het wel baie keer die ervaring dat hulle op plekke kom waar dissipelskap opofferings vra, maar weet ook dat dit by verre beter is om in die Here se teenwoordigheid te lewe. En Hy maak altyd Sy beloftes waar, ook dié van die beloofde land, soos Jesus veel later sou sê: “Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het … Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee” (Matt. 6:32b-33).
Ons is skatryk van hemelse seëninge want ons aanbid ’n lewende God wat baie vir ons omgee! Wanneer ’n mens besef wat jy alles het, kyk jy die lewe anders in die oë. Dan lig ons gemoed en sien ons weer kans vir die berg voor ons. Dan kan ons met ’n huppel in ons stap die moeilike dae aanvat. Soms moet ons net terugsit en bo-oor al die geraas kyk en raaksien wat ons het en sommer net dankbaar wees vir elke dag se genade wat deel van ons erfporsie is. Kom ons gaan leef dit en wys dit vir die mense wat so verstrengel is in wêreldsgoed. Kom ons maak hulle jaloers op dié dinge wat geld nie kan koop nie en vertel hulle dat hulle óók deel kan hê aan die skatte in die hemelse bank.
“Moenie bekommerd wees oor al die dinge wat jy graag wil hê nie; wees dankbaar dat jy nie die dinge het wat jy nie wil hê nie” (Onbekend).
Gebed: Here, geld maak die lewe soms makliker, maar dit het niks uit te waai met ware vrede en vreugde nie. Ek is ryk in genade, U genade wat nie ophou om oor ons te reën nie. Here, ek besef dat ek nie altyd die genade wat ek elke dag ontvang, raaksien nie. Ek ontvang so baie. Dankie daarvoor. Dankie vir alles wat ek het want dit kom van U af. Help my om tevrede te wees daarmee. Dankie dat U so goed is vir my. U Naam ter eer. Amen.
コメント