Gedagte vir Vandag
Maandag, 19 September 2022
Koos Espach
Stefanus se toespraak (14)
Die periode van Moses (6)
God verander ons roete
Hand. 7:26-nn – “Toe hy die volgende dag op twee Israeliete afkom wat baklei, wou hy vrede maak en hy sê: ‘Mense, julle is tog broers! Hoekom baklei julle dan met mekaar?’ Maar die een wat met die bakleiery begin het, stamp vir Moses opsy en sê: ‘Wie het jou as ons leier en as regter oor ons aangestel? Wil jy my ook doodslaan, soos jy gister die Egiptenaar doodgeslaan het? Toe Moses dit hoor, het hy gevlug en ‘n bywoner in Midian geword. Dáár is vir hom twee seuns gebore.”
Die volgende dag keer Moses terug na die Israeliete en sien twee van die volk wat met mekaar baklei. Hy wou vrede tussen hulle maak deur daarop te wys dat hulle broers is en vra waarom hulle mekaar onreg wil aandoen. Maar Moses word opsy gestamp en gevra wie hom as leier en regter oor hulle aangestel het en of Moses hom ook wou doodslaan soos hy die Egiptenaar die vorige dag om die lewe gebring het? Van betekenis is hier dat die Joodse Raad moet insien dat hulle nie soos hulle voorvaders moet sondig nie. Die onregverdiges in Jesus se tyd het Hom ook nie as Leier en Regter oor hulle aanvaar nie. Hulle wou Jesus nie as Koning erken nie, en het liewer die Romeinse keiser as hulle enigste koning gesien (Joh. 19:15).
Moses se gewelddadige identifikasie met sy eie mense bring hom egter in die moeilikheid by hulle en die farao soek ook na Moses om hom dood te maak. Daarvolgens vlug Moses en laat hom in Midian skuiling gaan soek. Dit is baie betekenisvol dat Moses na Midian vlug en daar ‘n tuiste vind. Dit was ‘n plek waar God aanbid is, en waar Moses nie net in kontak kom met God en die tafel dek vir sy latere ontmoeting met Hom nie, maar ook ‘n tydperk wat hom waardevolle ervaring van die woestyn bied.
Die Israeliet se aanvallende aanmerking was die aanleiding tot Moses se vlug. Soos putte in die verhoudings van talle van die aartsvaders ‘n rol gespeel het, (vgl. die verhale van Rebekka en Ragel), speel ‘n put weer ‘n match-making rol in die lewe van Moses en Sippora, ’n dogter van die priester van Midian, Jetro. Uit die huwelik van Moses en Sippora, word twee seuns, Gersom en Eliëser, daar gebore. Gersom, is verwant aan die Hebreeuse woord vir vreemdeling: “Want,” het hy gesê, “ek woon as vreemdeling in ‘n vreemde land” (Eks. 3:22). ‘n Naam wat ‘n baie betekenisvolle insig vir ons gee in sy ervaring van hierdie tyd van ontwrigting en ontbering, maar ook die begin van die nuwe visie van die roeping wat God vir hom het om die vreemdelingskap van die Israeliete te beëindig deur hulle te begelei na die beloofde land en dit in besit te neem.
Moses kon besluit om in die huis van die farao groot te word en vir die res van sy lewe, soos ’n prins gelewe het en al die voordele geniet wat daarmee saamgaan. Hy sou nooit ’n steek werk hoef te doen nie en al die wêreld se lekker om van te kies en te keur sal op skinkborde aangedra word vir hom, maar hy maak die keuse “om te gaan kyk hoe dit met sy mense gaan” (v. 23). Sy verkeerde optrede deur ‘n Egiptenaar dood te slaan, dwing hom om te vlug.
Baie keer as moeilike omstandighede ons skouers krom druk, dan wil ons die lewe daarvoor blameer. Elke dag word ons gedruk om ’n klomp keuses te maak. Sommige is maklik, ander bietjie moeiliker en sommige keuses maak ons vir onsself moeilik.
Dit is dan ook wanneer ons eksterne faktore daaraan wil koppel – dit is die duiwel; dit is iemand anders se skuld; God wil my beproef; dis my agtergrond en die manier wat ek grootgeword het ...! Alhoewel hierdie dinge `n bydraende faktor kan wees tot dit wat ek en jy in ons lewens ervaar, is dit nie die oorsaak nie. Is dit nie wat ek en jy elke dag ervaar a.g.v. die keuses wat ons maak nie? Ons is mos mense met ‘n eie wil en soms maak ons verkeerde keuses wat lynreg teen God se wil ingaan. Wanneer ons kies om in sonde te volhard, is ons op ons eie en swem ons in gevaarlike waters.
Maar die goeie nuus is dat God op bonatuurlike wyse ingryp ten spyte van al die gemors wat ons aanvang. Wanneer ons kul en knoei, mekaar vertrap, skinder, en noem maar op, breek ons feitlik elke wet en reël van God en kortom, verdien ons God se straf een honderd persent! Tog, omdat Hy ‘n genadige en liefdevolle God is, omdat Sy hart warm klop vir mense, al verdien ons dit nie, skryf Hy ons nie sommer af nie. God stap keer op keer terug na Sy kinders toe. Keer op keer gee Hy ons nog ’n kans, en net soos vir Moses, seën Hy ons met Sy ope genadehand. Hy is selfs bereid om ons lotgevalle tot sy eer en ons heil te verander. Wat ‘n wonderlike God dien ons nie! Kom ons prys Sy Naam!
“Wanneer jy deur die meule gaan, is dit jóú keuse hoe jy anderkant gaan uitkom: fyngemaal of blink gepoleer” (Elizabeth Kübler-Ross).
Gebed: Genadige God, verander ook my lot tot U eer. Hoe wonderlik dat U my liefhet om Christus ontwil. Amen.
Comments