Gedagte vir Vandag
Vrydag, 16 September 2022
Koos Espach
Stefanus se toespraak (13)
Die periode van Moses (5)
God sal ons nie drop nie
Hand. 7:23-25 – “Op veertigjarige leeftyd het die verlange by hom opgekom om te gaan kyk hoe dit met sy mense, die volk Israel, gaan. Toe hy sien dat een van hulle deur ‘n Egiptenaar mishandel word, het hy die slagoffer gaan help en die misdaad gewreek deur die Egiptenaar dood te slaan. Hy het gemeen sy mense sou begryp dat God hom wou gebruik om hulle te red, maar hulle het dit nie verstaan nie.”
Moses het van sy Hebreeuse herkoms geweet, maar volgens Calvyn het God hom dit op die hart gelê om eers op veertigjarige leeftyd na sy volk te gaan. Daarmee het hy sy bevoorregte posisie in die weelde van die farao se paleis prysgegee: “Omdat Moses geglo het, het hy toe hy groot geword het, geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter. Hy het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ‘n kortstondige genieting van sonde te hê” (Heb. 11:24-25).
“By sy eie mense, het Moses gesien dat hulle dwangarbeid verrig” (Eks. 2:11). Hy het gesien dat een van die Israeliete deur ’n Egiptenaar geslaan word en hy het die slagoffer verdedig. Hy het die onreg gewreek deur die Egiptenaar dood te slaan. Hy het verwag dat die Israeliete hieruit sou aflei dat God, deur hom, aan hulle bevryding wou gee. Maar die volk het dit nie begryp nie.
Stefanus beklemtoon hier in sy toespraak, die Raad se onvermoë om dit ook te begryp. Sy verwyt is dat God hier begin het om sy volk te verlos, sonder tabernakel of tempel. Die volk van Israel het dieselfde Moses wat hulle nou so hoog vereer, en vir Stefanus daaroor aankla, aanvanklik nie aanvaar nie. (Is daar nie ’n merkwaardige ooreenkoms met die verwerping van Jesus deur die Jode nie?) Stefanus wys die Raad daarop dat dit nie met hulle en die volk moet gaan soos met die Israeliete in die dae van Moses nie. “Hy het gemeen sy mense sou begryp dat God hom wou gebruik om hulle te red, maar hulle het dit nie verstaan nie.” Hulle het Moses nie begryp nie en ook nie sy goddelike sending raakgesien nie, net soos die Jode vroeër ook nie hulle Messias en Verlosser herken het nie (Luk. 4:28-29).
“Moses was ‘n uiters sagmoedige man, meer as enigiemand anders op aarde” (Num. 12:3). Tog was daar aan hierdie sagmoedigste man op aarde, ‘n ysterkant. Hy staan op vir wat reg is. Die wêreld het standvastige mense nodig wat voor stap en wys hoe maak ’n mens die regte keuses in die lewe. Geloof help ’n mens om die regte keuses in die woeste wêreld daar buite te neem. Hiervan is Moses ’n goeie voorbeeld. Hy het lekker sag grootgeword in die paleis en alles gehad wat hy wou hê. Maar hy het ook God geken. Toe hy dus moes kies of hy in die sonde en skande as ‘n geëerde Egiptiese paleiskind gaan baljaar of om oor te loop na ‘n veragte, vernederende slawevolk, kies Hy laasgenoemde. Binne sy verhouding met God, kon hy die moeilike keuse maak, want hy het geweet God sal vir hom voorsien.
Ons is bang vir môre. Ons is bang vir die uitdagings om die draai. Ons is onseker oor die keuses by die kruispaaie van ons lewe. Ons is onseker of God régtig vir ons sal voorsien. En die rede is dat ons verhouding met God van so ’n aard is dat ons Hom nie regtig ken nie. Ons is geneig om te aanvaar daar is nie iets waarop ek en jy ons vertroue kan bou nie. Ons wil eerder kontant hê as om Hom te vertrou om Sy beloftes na te kom. Ons voel soms alleen in die lewenstryd en ons weet eintlik hier in die agterkop dat ons dit nie op ons eie kan maak nie. Ja, dit voel soms of die uitdagings van die lewe eenvoudig net te groot is en ons kragte te min om op te staan. Soms so min, dat ons nie meer kan baklei nie. Vir sulke tye is daar ook ’n belofte van God: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie” (Heb. 13:5).
God los ons nie alleen om net in ons eie hande te wees nie, want op ons eie is ons krag te min. God los ons nie alleen om teen die aanvalle van Satan te baklei nie, want God ken sy skelmstreke en Jesus het hom in ieder geval aan die kruis oorwin. God los ons nog minder alleen in die wêreld met allerhande lekker versoekings, want God ken ons swakpunte en weet waar ons sal glip en gly. Selfs wanneer ons ‘vervaldatum’ aangebreek het, hoef ons nie alleen deur die bangmaak-dood te stap nie – Jesus het hier ook oorwin! God sal ons nie alleen los nie. Hy is Immanuel – God by ons. Hy sal ons nie drop nie!
“Al wat ons nodig het, is ‘n gelowige hart. God sal ons as’t ware met die hand lei – daarom moet ons meer konsentreer op ons liefde vir Hom as op ons vrees vir mislukking” (Francois Fénelon).
Gebed: Kom my ongeloof tot hulp o Heer. Help my om te midde van elke onsekerheid te onthou dat U die laaste sê het. “U is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? U is my toevlug, vir wie sou ek vrees?” (Ps. 27:1). Dankie dat U my nooit sal drop nie. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Comments