top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 15 September 2022

Koos Espach


Stefanus se toespraak (12)


Die periode van Moses (4)


Ons is God se handewerk


Hand. 7:20-22 – “In dié tyd is Moses gebore, en hy was baie mooi. Drie maande lank is hy in sy ouerhuis versorg, en daarna is hy buite aan sy lot oorgelaat. Daar het die farao se dogter hom gekry, en sy het hom as haar eie seun grootgemaak. Moses is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars en hy het uitgeblink in woord en daad.”


Moses se lewe kan in drie afdelings verdeel word wat elk veertig jaar lank duur. Daar is min inligting bekend oor sy eerste veertig jaar van sy lewe behalwe dat hy as baba gered is en in die Farao se huishouding grootgemaak is. God begin die proses van verandering vir Sy volk deur die geboorte van ‘n kind vir die Leviet Amram en die Levitiese Jogebed, Amram se tannie (Eks. 6:19). Die maatreëls van die koning van Egipte wat gerig was op die ondergang van die Israelitiese volk, is deur die Here gebruik om die toekomstige redder van die volk vir sy taak voor te berei.


Hoe subtiel is God se reaksie nie op farao se brutaliteit nie? Onder die neus van farao se volk word ‘n kind gebore wat die leier sal word van die onkeerbare trek van die Israeliete uit Egipte na die land van belofte. Ironies genoeg word Moses deur farao se dogter nóg nader getrek, ná sy eie ma Jogebed, eers toegelaat is om hom te speen, sodat hy saam met farao se kinders grootword in die paleis waar hy “opgelei is in al die wysheid van die Egiptenaars en hy uitgeblink het in woord en daad.”


Dat “Moses in die wysheid van die Egiptenare opgelei is,” word nie spesifiek in die O.T. gesê nie, maar dit kan tog afgelei word uit die feit dat hy as seun van die dogter van die farao opgevoed is. Die Rabbi’s het ook allerlei fantastiese vermoëns aan Moses toegeskryf: Met sy geboorte het die hele huis vol lig geword; hy was ‘n Egiptiese generaal wat die Egiptiese leërs met groot welslae in oorlog teen Etiopië gelei het; hy was die uitvinder van die letterskrif, vader van die wetenskap en grondlegger van die Egiptiese kultuur – die oorsprong van alle beskawing moet by hom gesoek word. Hy sou ook die leermeester van talle Griekse wysgere gewees het. Stefanus wil te kenne gee dat Moses aan die hof van die farao die nodige kennis ontvang het “wat hom in woord en daad laat uitblink het.”


Dit bring ons by die vraag: “Waarom is ons gebore? Waarom is ons deur God geskep? Waarin is ons grootgemaak?” Volgens die Hebreërskrywer het “God, ter wille van wie alles bestaan en deur wie alles ontstaan het, wou baie deel laat kry het aan sy heerlikheid” (Heb. 2:10). Ek en jy is dus vir God se familie geskep. Die hele Bybel is die verhaal van hoe God ‘n familie bou wat Hom sal liefhê en eer en vir ewig met Hom sal regeer. “In Sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al (voor ons geboorte) daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees” (Ef. 1:5).


Wanneer ons in God glo, word God ons Vader en ons word Sy kinders en die kerk word ons geestelike familie. Die Hebreërskrywer sluit by Psalm 8 aan en vertel in Hebreërs 2 hoe belangrik en kosbaar ons in God se oë is. Ons is die hoogtepunt van Sy skepping, Sy meesterwerk, die belangrikste van alles wat Hy ooit geskep het. Ons is na Sy ewebeeld gemaak. Ja, ons is as sondaars geneig om af te dwaal maar God skryf ons nie af nie. Hy het ons kom soek, gevind en toe splinternuut gemaak deur Christus se sterwe aan die kruis. God het “ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood” (1 Pet. 1:3).


Op grond van Sy groot offer dra ek en jy nou weer God se handtekening. Wat ‘n onuitspreeklike voorreg is dit nie om deel van God se gesin te kan wees nie! Rick Warren stel dit dat ons ‘n ryk erfenis het en ‘n klomp verstommende verjaargeskenke ontvang het: Die familienaam, die familie-ooreenkoms, die familie-voordele, intieme toegang tot die familie en die familie-erfenis. Dit alles, net omdat ek en jy gebore is, “En omdat ek en jy sy kind is, het God ons ook sy erfgenaam gemaak” (Gal. 4:7). As kinders van God leef ons in ‘n verhouding van persoonlike liefde en blydskap met Hom. Ons spring elke dag met geloofsvertroue in ons Vader se arms en roep: “Abba Vader!” Is dit nie wonderlik nie: As kinders van God deel ek en jy in God se familiefortuin!


“In ‘n Christen se lewe is daar nie so iets dat jy jou kan terugtrek en hoop dat God jou daar sal ontmoet en seën nie. Jy moet daagliks jou kant ook bring, lewe en groei” (Alan Redpath).


Gebed: My hemelse Vader, dankie dat ek U elke dag, elke oomblik, my Vader mag noem. Jesus, my Verlosser, dankie dat ek as nietige en sondige mens, deur die Heilige Gees U pad kan kies. Dankie Gees dat U die begeerte aan my skenk om reg te lewe en ook seën met die vermoë om geestelik te groei sodat dit moontlik word om so te lewe, want U het vir my, kind van God gemaak. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page