Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Sep 14, 2022
- 4 min read
Woensdag, 14 September 2022
Koos Espach
Stefanus se toespraak (11)
Die periode van Moses (3)
Die pitstop vir vrede is by Jesus
Hand. 7:20-21a – “In dié tyd is Moses gebore, en hy was baie mooi. Drie maande lank is hy in sy ouerhuis versorg, en daarna is hy buite aan sy lot oorgelaat.”
Vergelyk ook Joh. 14:27 – “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.”
Gister het ons na die wrede behandeling van die Israeliete onder ‘n nuwe koning wat nie vir Josef geken het nie, en die vrees wat by hulle geheers het, gekyk. Dit is duidelik dat die farao niks kon doen teen die vermeerdering van die volk en die vrede wat daarmee gepaard gegaan het nie. Al het hy dit met lis probeer bekamp, deur dwangarbeid wat hy hulle opgelê het en hulle verplig het om hulle kindertjies buitekant te sit sodat hulle kon doodgaan (v. 19). In hierdie omstandighede het dit gelyk of die vervulling van die belofte wat God aan Abraham gegee het, onmoontlik geword het.
Die volk het waarskynlik menigmaal gewonder waar God is – “Die Here wat hulle sal seën en hulle beskerm; die Here wat tot hulle redding sal verskyn en hulle genadig sal wees; die Here wat hulle gebede sal verhoor en aan hulle vrede sal gee?” (Num. 6:24-26). Wanneer God egter sy seën gee en besig is om aan die vervulling van Sy belofte teenoor Abraham te werk, kan die verset van die vyande van God, nie Sy werk stuit nie.
Is dit nie maar tans die tendens in die wêreld en veral in ons eie land, dat ons ook soms wonder waar God is nie? Ek raak nou bietjie moeg vir die nuus, want die oorgrote meerderheid is slegte nuus. Hoekom word die mens so aangetrek deur negatiewe nuus? Dit stig tog nie. Inteendeel, dit steel ’n mens se vrede en voor jy jou kom kry, is jy neerslagtig. Die petrolprys styg gedurig. Die regering wil grond vat. Misdaad is buite beheer. Korrupsie is aan die orde van die dag. Die regering warra-warra net en glo as hulle klaar gewarra en kommissies aangestel het, is alles opgelos. Intussen gaan die land se bestuur al hoe meer agteruit. Die probleem is dat dit nie help om net die nuus af te skakel om weer vrede te kry nie, want op ander plekke sukkel die vrede ook om deur te breek. Baie keer sukkel ons om vrede te bewaar in ons huwelike ... en ... en ..., die slegte-nuus-lys hou net nie op nie.
Nou waar kry ek en jy vrede? Jesus gee vir ons die antwoord in Johannes 14:27. Jesus maak dit so duidelik soos daglig. Daar is net een pitstop vir vrede en dis by Hom. As ek en jy vrede in die wêreld gaan soek, gaan ons sukkel. Dit is nie daar te vind nie. Ja, baie belowe alles, maar wanneer die tekkie die teer slaan, is dit weg soos mis voor die son. Baie koop ’n Lotto kaartjie en hoop en bid selfs, om te wen, want dan sal die vrede oor hulle neerdaal. Maar tog is selfs hierdie miljoene te lig in die broek om ware vrede te bring. Die vrede wat die wêreld gee, hang af van omstandighede, ‘n vrede wat kortstondig en onseker is; gewoonlik niks meer as ’n tydelike hoop op vrede nie.
Maar Jesus skenk die vrede as ’n werklikheid wat nie aan omstandighede gebonde is nie. As gelowiges kry ons ‘n ander perspektief op die lewe – ons sien ander dinge raak wanneer ons na ons eie lewe kyk, want, as kind van God kyk ons deur die oë van God. Die aardse dinge is skielik dan nie meer belangrik vir ons nie maar eerder hoe my en jou verhouding met God daar uitsien: Pas ons by God aan of verwag ons God moet by ons aanpas? Ek weet God het my lief, maar hou Hy van my? Om vandag te oorleef, moet ons by Jesus se voete bly. Ons moet sorg dat ons verhouding met Hom aanhou groei. Hoe nader ons aan Hom groei, hoe meer sal ons soos Hy word. Dan sal ons besef waar alles vandaan kom en waarheen ons op pad is. Dan sal ons weet en glo en leef dat Hy die enigste antwoord op al ons vrae is. En die gevolg? Vrede!
Tydens die seereis van die lewe bevind ons onsself soms op onstuimige waters terwyl die golwe van satan en sy bose trawante, onophoudelik poog om ons lewensbootjie stukkend te slaan. Tog is ons gelowiges, diep in ons wese, deel van Jesus se vrede, die vrede wat ons by die voet van die kruis ontvang het. “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle”. Dít is Jesus se nalatenskap in Sy testament wat Hy aan ons as gelowiges gegee het, niemand kan hierdie vrede van ons af wegneem nie want Sy testament is bindend!
“Die vrede wat die wêreld gee, is die vrede van ontvlugting. Dit is tydelike vrede wat in raadsale en verdrae “gekoop” word om konfrontasie te vermy. Die vrede wat Jesus gee, is nie vrede van ontvlugting nie, maar van oorwinning. Dit is ‘n vrede wat geen konflik of probleem ons kan ontneem nie” (William Barclay).
Gebed: Vredevors, Raadsman, die wêreld om my is oorweldig met onrus en geweld wat werklike vrede net ‘n begrip maak en nie meer ‘n waarheid nie. Ons smag na vrede, daardie vrede wat van Uself kom. Skenk vir ons vrede in ons mooi land sodat ons opnuut u liefde, kalmte en vreedsaamheid sal ervaar. Verwyder die aggressie, onrus en liefdeloosheid van ons mense, hulle wat glo dat opstande en verwoesting van eiendom, ‘n oplossing sal bring. Skenk U vrede ook aan hulle. Amen.
Recent Posts
See AllVrydag, 25 Maart 2025 Koos Espach Die wet en die sonde (2) Die wet ontmasker die sonde Rom. 7:9-12 – “Voorheen, toe die wet nie daar...
Donderdag, 24 April 2025 Koos Espach Die wet en die sonde (1) God voorsien in ons behoeftes Rom. 7:7-8 – “Wat is dan ons gevolgtrekking?...
Woensdag, 23 April 2025 Koos Espach Bevry van die wet en in diens van God, diensbaar aan Christus (3) Diens vir my en jou is nie...
Comments