Gedagte vir Vandag
Maandag, 12 September 2022
Koos Espach
Stefanus se toespraak (9)
Die periode van Moses (1)
God se doel met ons
Hand. 7:17-21 – “Teen die tyd dat God die belofte wat Hy aan Abraham gegee het, sou uitvoer, het die volk in Egipte reeds tot ‘n groot getal aangegroei. ‘n Nuwe koning, wat nie vir Josef geken het nie, het egter in Egipte aan die bewind gekom, en hy het ‘n slim plan teen ons mense beraam en ons voorouers wreed behandel. Hy het hulle verplig om hulle babatjies buite aan hulle lot oor te laat, sodat hulle nie aan die lewe sou bly nie. In dié tyd is Moses gebore, en hy was baie mooi. Drie maande lank is hy in sy ouerhuis versorg, en daarna is hy buite aan sy lot oorgelaat.”
In die tweede gedeelte van sy toespraak wys Stefanus ook op die betreklike waarde van die tempel en die tempeldiens. Wanneer God sy guns aan Israel bewys, is Hy nie aan ’n bepaalde plek gebonde nie. Dit was in Egipte waar die volk vermeerder het. Dáár is Moses gebore en deur God vir sy taak opgelei. Hoe ironies dat Stefanus juis aangekla is dat hy Moses en sy wet verwerp (6:13), (in werklikheid is dit eintlik God se wet), en nou ter verdediging wys dat hy die hoogste respek vir Moses het. Sy toespraak oor Moses wys dat hy ten volle op hoogte was van Moses se sterk punte en swakhede, die gevare wat die babaseuntjie Moses bedreig het en hoe die Here sy lewe gespaar het.
Die nageslag van Jakob en sy twaalf seuns wat uit Kanaän na Egipte getrek het, word duidelik as die Israeliete, geïdentifiseer (Eks. 1:1). Jakob se nageslag was só vrugbaar in die vier eeue van hulle verblyf daar, dat hulle “teen die tyd wanneer God se beloftes aan Abraham in vervulling sou gaan, die volk in Egipte reeds tot ’n groot getal aangegroei het.” Die volk moes toeneem om as volk na Kanaän te trek, en God het hulle in Egipte geseën waar daar geen tabernakel of tempel was nie. Dit was immers die primêre rede vir hierdie tyd in Egipte. God wou die uitgebreide families van Abraham, Isak en Jakob tot ‘n nasie uitbou sodat hulle as Godsvolk die beloofde land uiteindelik in besit kon neem. Josef het lank terug alreeds Egipte as deel van God se sorg vir dié volk uitgespel: “Hy het gesorg dat ’n groot volk nou in die lewe gebly het” (Gen. 50:20). Weens God se seën het hulle in Egipte ‘n mag geword om mee rekening te hou.
Maar, die herinnering aan die groot rol wat Josef gespeel het, het begin vervaag. “’n Nuwe koning, wat nie vir Josef geken het nie, het egter in Egipte aan die bewind gekom” en die uitdaging van die vermeerdering van die volk probeer beperk. Die farao volg drie strategieë om sy vrees te besweer: Hy probeer deur op ‘n geweldadige manier slawerny en dwangarbeid die mans onderdruk en verneder, maar dit het nie gewerk nie. Hy probeer deur twee gelowige Hebreeuse vroedvroue, Sifra en Pua – waarskynlik verteenwoordigers van ‘n groter groep vroedvroue – die manlike geslag uitwis deur opdrag te gee dat elke seuntjie wat gebore word, vermoor moet word. Hulle tree egter uit ontsag vir die Here op en laat die kinders lewe. Hy probeer einde ten laaste deur sy hele volk te beveel om elke pasgebore Israelitiese seuntjie in die Nyl moet verdrink.
Die farao se probleem is natuurlik dat hy op ‘n menslike vlak die vermeerdering van die Israeliete raaksien en dink dat hy met sy brutale onderdrukking en gewelddadige behandeling van die Israeliete iets daaraan kan doen. Waarvan hy egter nog nie bewus is nie, is dat dié vermeerdering aan God se werk onder sy volk te wyte is. Dit is waarom farao se strategieë nie geslaag het nie. Nie die slawerny, dwangarbeid of selfs die kindermoord kon God se bedoelinge en beskerming van Sy volk in die wiele ry nie.
Niemand kan die geveg met God wen nie. Dit is dié God wat ons steeds aanbid, die Een wat sy verbond nakom en sy volk uit hulle verdrukking verlos en vestig op dié plek wat Hy vir hulle uitkies. Ons verstaan nie altyd mooi waarom dinge oor ons kom nie. Dit sou nog meer sinneloos gewees het as ons nie geweet het dat God steeds in beheer is nie. Hy laat soms groot beproewings oor ons pad kom, maar dis alles deel van Sy plan om ons voor te berei vir groter dinge. Elkeen van ons kan terugkyk oor ons lewe as ons wil verstaan waarheen God met ons op pad is, en uiteindelik besef dat dit deel was om ons toe te rus om by Sy doel met ons en Sy planne met ons, aan te pas. Ek en jy moet God net toelaat om Sy tyd te neem wat Hy nodig het om ons voor te berei. Kom ons vertrou Hom om Sy volmaakte wil in ons uit te werk.
“God se wil vir ons is die weg wat ons nóú reeds loop. Sy wil vir ons is dat ons elke dag op Hom en Sy krag sal vertrou, dat ons Hom op die golwe van ons lewe sal sien loop, al is geen kus nêrens in sig nie. Sy wil vir ons is die sekerheid dat alles reg is omdat Hy reg langs ons is” (Oswald Chambers).
Gebed: Alomteenwoordige Here, ek verstaan dikwels nie waarom dinge met my gebeur nie, maar ek weet U het ‘n doel daarmee. Gee vir my ore om te hoor, ‘n hart om te vertrou en hande om te werk wanneer U met my praat. Neem weg die versoeking om my eie planne uit te voer en U planne tot later te los. Werk in my lewe deur u Heilige Gees. Skep die beeld van Christus in my sodat ek die gepaste karakter sal ontwikkel om U stem te hoor en U wil te gehoorsaam. Amen.
Comments