top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 9 September 2022

Koos Espach


Stefanus se toespraak (8)


Die periode van die aartsvaders – geskiedenis van Josef (3)


‘n Nuwe begin met kinderlike vertroue in God


Hand. 7:15-16 – “Jakob het na Egipte toe gegaan en daar het hy en ons voorvaders gesterwe. Hulle liggame is na Sigem toe gebring en begrawe in die graf wat Abraham vir ‘n som geld daar in Sigem by die nakomelinge van Hemor gekoop het.”


Vergelyk ook Heb. 11:20-22 – “Omdat Isak geglo het, het hy Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms. Omdat Jakob geglo het, het hy op sy sterfbed albei die seuns van Josef geseën en tot God gebid terwyl hy op die knop van sy kierie leun. Omdat Josef geglo het, het hy kort voor sy dood melding gemaak van die uittog van die Israeliete en opdrag gegee in verband met sy liggaam.”


Dit is net onmoontlik om die geskiedenis van Jakob, Josef en sy broers af te sluit met hulle afsterwe in Egipte, sonder om die Hebreërskrywer se bydrae ten opsigte van die aartsvaders by te voeg. Isak, Jakob en Josef staan baie prominent in die ry van die Hebreërskrywer se geloofshelde. Nie een van hulle was bevoorreg om die vervulling van God se Kanaänbelofte aan Abraham te beleef nie, maar hulle het bly glo aan die toekoms wat God vir sy volk gereedmaak. Selfs in Jakob en Josef se sterwensuur het hulle steeds nie aan God se belofte getwyfel nie, dit terwyl hulle nie meer in Kanaän was nie, maar in Egipte. Ek sê weer: Josef se geskiedenis onderstreep dat die Here sy reddingsplan deurvoer teen alles wat die mens as onwaarskynlik beskou.


Josef is deur sy broers aan Ismaelitiese handelaars verkoop en dit was juis hierdie “weggegooide” broer in wie “hulle ‘n afkeer gekry het” (Gen. 37:8b), wat hulle gered het. Toe hongersnood hulle land tref, het hulle sak en pak by hom ingetrek en vir die res van hulle lewe lekker in Egipte gewoon. Selfs toe Josef op sy sterfbed gelê het, het hy aan sy broers gedink: “Dieselfde het met Josef gebeur, want hy het ook in God geglo. Toe hy begin voel dat die dood nader kom, het hy die Israeliete vertel hoe God sal sorg dat hulle uit Egipte sal trek. Hy het selfs gereël wat hulle met sy lyk moes maak” (Heb. 11:22) – Die Boodskap).


Josef se broers was heel waarskynlik onseker oor wat met hulle en hul gesinne gaan gebeur as hy nie meer daar is nie. Maar Josef los hulle nie daar nie, hy bied vir hulle troos. Hy gee vir hulle hoop. Hy gee vir hulle die visie dat die volk eendag na die land van melk en heuning sal trek. Om hierdie visie te kon oordra, was een bestanddeel nodig: ’n sak vol geloof en volle vertroue in God. Hy kon hulle slegs hiermee bemoedig en laat rustig word, omdat hy geweet het God kom Sy beloftes na en God sal aanhou om Sy beloftes na te kom. Volle vertroue in God beteken dat ek en jy vertrou dat God weet wat die beste is in ons lewe.

Josef kan hoop gee vir die hopelose. Josef kan ’n lig aansteek vir sy broers wat donker tye sonder hom ingaan. Josef bied sekerheid vir sy broers wat moontlik onseker is. Hoekom? Want hy het hope van die grootste bestanddeel wat nodig is om ander te help: Geloof. Hy glo en vertrou God, die Waarmaker van beloftes. Dit het ons die afgelope tyd gereeld gehoor. God kom Sy beloftes na! Hy doen soos wat Hy sê Hy gaan doen op Sý tyd. In ons eie lewe het ons dit al ervaar. Elke maand sorg die Vader vir ons. Hoekom sal Hy dan nou volgende maand dit anders doen? Daarom kan ons met 100% sekerheid glo dat ons aan die einde van volgende maand weer op ons knieë sal gaan en dankie sê dat Hy weereens vir ons voorsien het.

God roep ons elkeen op om soos Josef, ander mense uit die modder van die lewe uit te trek. Ons moet hoop gee vir die hooplose. Ons moet die lig aanskakel vir die wat in die donker wêreld vasgeval het. Ons moet sekerheid vir ander bied wat in onsekerheid rondploeter sodat hulle ook God kan vertrou. En ons kan dit doen, wanneer ons sélf in God glo, wanneer ons sélf God vertrou. Dan kan ek en jy ons ondervinding gebruik om ander te bemoedig. God is ons geen verklaring of rede verskuldig hoekom ons in Hom moet glo of vertrou nie, en ook nie vir enigiets wat Hy ons vra om te doen nie. Begrip kan wag, maar nie gehoorsaamheid nie. Josef het God in sy lewe ervaar. Daar in die put het God ’n uitkoms gebring. Daar in die vreemde land waar hy onskuldig in die tronk sit, het God vir Josef verhef tot net onder die koning. Elke keer as dit lyk asof die gevaar hom gaan oorrompel, het God Sy beloftes gehou en vir Josef gered. En dit is met die sak vol ervaringe wat hy van God ontvang het, dat hy sy broers kon bemoedig.

Mag ek en jy dit ook doen. Mag ons hoop en sekerheid gee en die lig vir ander aanskakel, omdat ons as kinders van die lewende God, ons hemelse Vader in gehoorsaamheid wil behaag. Wanneer ons God behaag, raak ons eie hart vol vreugde. God glimlag wanneer ons Hom vertrou. “Hy stel prys op dié wat Hom dien, dié wat hul hoop vestig op sy trou” (Ps. 147:11).


“Waarom is dit dan nodig dat ons elke dag van nuuts af moet leer om God te vertrou? Het Hy dan nie gister Sy betroubaarheid bewys nie? En eergister? En die dag tevore?” (C.S. Lewis).


Gebed: Hemelse Vader, help my om aan U en die beloftes in U Woord vas te hou. Dankie dat ek seker kan weet dat U my vertroue waardig is, dat U my vandag en môre sal help soos U dit gister en eergister gedoen het. Dankie dat U nooit ontrou kan wees nie maar altyd absoluut getrou bly. Dankie vir mense in my lewe wat ek kan vertrou. Help my om so te lewe dat ek U en hulle vertroue waardig sal wees. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page