Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 6 September 2022
Koos Espach
Stefanus se toespraak (5)
Die periode van die aartsvaders – geskiedenis van Abraham (5)
Moenie die vertroue in die toekoms met die geloof van vandag meet nie
Hand. 7:7-8 – “Maar Ek sal die nasie straf wat hulle as slawe aanhou. Verder het God gesê: ‘Daarna sal hulle wegtrek en My op hierdie plek dien.’ God het met Abraham ‘n verbond gesluit waarvan die besnydenis ‘n teken is. So het dit gekom dat Abraham sy seun Isak op die agste dag na sy geboorte besny het. Isak het dieselfde gedoen met Jakob, en Jakob met die twaalf stamvaders.”
Stefanus gaan voort deur aan die Raad te toon dat God te alle tye aan die kant van Sy volk gestaan het, ook wanneer hulle in ‘n vreemde land gewoon het en Hom nie op die gewone wyse soos byvoorbeeld in ‘n tempel kon dien nie. Ons God is mos nie gebiedsgebonde nie. Omdat Israel egter God ook in die tussentyd moes aanbid het, moet ons tot die gevolgtrekking kom dat die plek van aanbidding slegs bysaak was. Ons ken ook die geskiedenis wat met die Egiptenare gebeur het “wat hulle as slawe aangehou het,” voor die volk se uiittog na die beloofde land.
Wanneer Stefanus na die verbond verwys wat God met Abraham gesluit het, was dit ’n “blywende verbond – die Abrahamitiese Verbond – om sy God te wees en sy nageslag en al hulle geslagte” (Gen. 17:7), ‘n blywende verbond wat natuurlik alle gelowiges insluit, my en jou ook. Dit was ‘n verbond waarvan die besnydenis die verseëling en uiterlike teken was. Elke seun onder hulle moes op sy agtste dag besny word (Gen. 17:12).
Vir Stefanus berus Israel se sekerheid van God se seënende genade op die Here se verbond met Abraham en sy nageslag, nie op die tempel of die wet nie. Op die agtste dag het Abraham vir Isak besny (Gen 21:4) en so ook Isak vir Jakob en Jakob vir die twaalf aartsvaders op hulle agtste lewensdag. Die soort vertroue op die Here en Sy woord makeer egter by die Joodse Raad wat natuurlik nie in Jesus as nageslag van Abraham glo nie.
Geloof is om te glo in dinge wat ’n mens nog nie kan sien nie. Geloof het Abraham sy huis laat opgee en agter God se roepstem aan laat trek en in ‘n vreemde land laat woon. Sy geloof het Sara se onvrugbaarheid op 90 jarige ouderdom, en al was die odds teen hom wat al 100 was, verdryf sodat hulle ‘n kind kon kry. Hy het geduldig aangehou met glo. Hoe God dit gaan regkry, het hy nie geweet nie, maar hy het bly glo dat God een of ander tyd getrou sal wees.
Wanneer God ’n belofte aan ons maak, waarvan ons mos die meeste in Sy Woord kry, moet ons by Abraham en Sara leer. Ons moet met alles daaraan vashou en geduldig wees. Al sê die wetenskap wát, glo dat God vir my en jou sal voorsien, al kos dit ’n wonderwerk. Wat God sê, doen Hy op sy tyd. God sal altyd Sy beloftes waar maak. So, wanneer ons in die verlede God ervaar het en Hy sê Hy sal nog dinge in die toekoms doen, kan ons Hom mos maar vertrou. Sy styl is om te doen wat Hy belowe het. Hoekom sal Hy dan nou halfpad van plan verander? Ek en jy moet God net vertrou en alles oorgee in Sy hande.
Daar is só baie egpare wat net soos Abraham en Sara, sukkel om kinders te kry. Dis nie ’n maklike pad nie. Dit wat ons verwag normaal moet gebeur, het nou ’n wetenskaplike, goed beplande en ek wil amper sê, koue proses, geword. Hoe teleurgesteld moet hulle nie wees as die swangerskaptoets elke keer negatief is nie? Wonder hulle ook hoeveel keer gaan hulle nog net een keer probeer? Wonder hulle ook wanneer die geld gaan opraak? Hoe sleg moet dit nie vir hulle wees as hulle hoor van nog ’n kindjie wat geaborteer is nie. Hulle wat so graag met alles in hulle ’n kleine baba wil hê en aan die ander kant, word een sommerso in ‘n vullisblik, puttoilet of ashoop weggegooi, omdat dit nie nou die regte tyd is of net nie nou welkom is nie.
Ai, ons weet nie hoekom is dit nie vir almal beskore om ouers te word nie. Dit bly onverstaanbaar. Dis hier waar ’n mens ’n goeie skoot geloof moet bymekaarmaak. Geloof is om met vertroue die toekoms tegemoet te gaan “en ons vertroue in die Here te stel, dan is ons veilig” (Spr. 29:25). Ons moet hierdie ene onthou. Dis wat vertroue in God doen. Kom ons kyk maar oor ons lewe. Orals sal ons momente sien waar ons gedink het dis nou die einde, en tog het God ons daaruit gered. Raak rustig, en al weet ons nie wat presies gaan gebeur nie, weet dat God op ’n manier ’n haas uit ’n hoed gaan trek, sal God, op Sý tyd, laat gebeur wat moet gebeur. Al kan ons nie al die waaroms beantwoord nie, ken ons deur die geloof dié God wat al die antwoorde het in Jesus Christus.
“Die toekoms behoort aan hulle wat aan God behoort” (John Galsworth).
Gebed: Vader, dankie dat U ’n goeie God is en U nie steur aan die mens se wetenskap of planne nie. Dankie dat U elke keer U beloftes waar maak, al kos dit wat. Help my om op die pad van geloofsvertroue van môre en al die môres hierna, te bly. Ja, “al gaan ek selfs dan deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In U hande is ek veilig” (Ps. 23:4). Amen.
Comments