Gedagte vir Vandag
Maandag, 5 September 2022
Koos Espach
Stefanus se toespraak (4)
Die periode van die aartsvaders – geskiedenis van Abraham (4)
Kies die Lewe sodat ons kan lewe
Hand. 7:5-6 – “God het hom geen eiendom in hierdie land gegee nie, selfs nie ‘n handbreedte daarvan nie. Maar Hy het wel belowe om dit as besitting vir hom te gee, en ná hom vir sy nageslag, alhoewel hy nog nie ‘n kind gehad het nie. God het só gesê: ‘Sy nageslag sal bywoners wees in ‘n land wat aan ander behoort. Daar sal hulle slawe wees en vir vier honderd jaar lank baie swaar kry.”
Stefanus is besig om die Joodse Raad daarop te wys dat God se eerste openbaring aan Abraham in ’n heidense land plaasgevind het. God se teenwoordigheid en die ware Godsverering is dus nie aan ’n tempel gebonde nie. (Asof ‘n mens God kan beperk tot een plek!) Die Here het vir Abraham belowe dat Hy die land Kanaän aan hom sou gee om te besit (Gen. 12:7), maar gee egter geen erfdeel in die land aan Abraham tydens sy lewe nie, nie “eers ‘n handbreedte daarvan nie.” Hoe dan nou? Hoe kan God nie Sy belofte aan Abraham nakom nie? Nee, God het vir Abraham en sy nageslag ‘n groter plan!
Abraham het self niks ontvang nie, maar hy moes glo dat God dit aan sy nageslag sou gee. Hy moes glo dat sy kinders dit sou ontvang, selfs toe hy nog geen kinders gehad het nie. So het Abraham die land in die geloof ontvang en dit aan sy kinders in die geloof nagelaat. Hy het geen tempel gehad nie, alleen die belofte van God, wat vir hom voldoende moes wees. Stefanus beklemtoon dus die feit dat Abraham, die vader van Israel, geen vaste tuiste in die beloofde land gehad het nie, die land wat die Jode só hoog ag.
Al wat Abraham gehad het toe hy as vreemdeling in Kanaän rondgeswerf het, is “die Here se belofte” van ’n groot nageslag en die besitting van die hele Kanaän (Gen 17:1-8). Dit was nog voor God die wet gegee het en die tabernakel in Moses se tyd laat oprig het, meer as 400 jaar na Abraham. Daarby belowe die Here vir Abraham se nageslag 400 jaar se slaweskap, as vreemdelinge in ander se land waar die ander mense hulle sleg sal behandel. Stefanus verwys dus hier na die volk se verblyf in Egipte wat deur God voorspel is en Sy wil vir die volk was. Eers na hulle slawerny in Egipte sal die Here se belofte vervul word en sou hulle die wet en die tabernakel van Hom ontvang. Deur die eeue word die volk van die Here geroep om in geloof in God en Sy woord te lewe.
Selfs met hierdie spesiale kind van God het dit nie altyd voor die wind gegaan nie. God vra van Abraham om baie op te offer. En hier kom hy uiteindelik by die nuwe land aan, maar niemand ontvang hom met ope arms nie. Inteendeel, hy word as ’n vreemdeling gesien en dienooreenkomstig behandel. In hierdie vreemde land woon hy en Sara soos vreemdelinge in tente, flappende simbole van hulle swerwersbestaan. Hy het seker verskeie kere oor die barre aarde gekyk en dit vergelyk met die groen valleie van sy geboorteland, verskeie kere gedink dat God darem nie reggemaak het met hom nie.
Maar, Abraham het bly glo en besef dat dit maar net ’n golfie is wat onder die skip slaan en dat sy God, die Een wat hom geroep het en baie planne met hom het, veel groter is. Met sy geloofsoog het hy die buitelyne gesien van die “stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is” (Heb. 11:10) – “die heilige stad, die nuwe hemelse Jerusalem” (Op. 21:2). Hy het besef dat die deel van sy beloofde land, eers later sal kom nadat hy gesterf het.
Mag ons dit ook besef. Die lewe is vol branders wat ons wil probeer omgooi. Ons moet egter onthou dat ons God veel groter is. God het ‘n perfekte wil en plan vir elkeen van Sy kinders. En daardie perfekte wil en plan is Jesus Christus. Hy wil hê ons moet soos Jesus word: “So sal ons uiteindelik almal deur geloof en deurdat ons die Seun van God ken, ‘n eenheid vorm, ‘n volmaakte mens, wat aan die standaard van Christus se volmaaktheid voldoen” (Ef. 4:13 – NLV). Ek en jy is natuurlik vry om ons lewe te leef soos ons wil, maar dit is beslis beter om binne hierdie plan wat God vir ons het, te leef – kies die Lewe sodat ons kan lewe!
Jesus is “die lewe” omdat Hy gekom het om die lewe te bring: “In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense” (Joh. 1:4). Omdat Jesus in die volstrekte sin “die weg en die waarheid en die lewe is” (Joh. 14:6), is Hy die enigste weg na die Vader. Ek en jy is in ons geestelike lewe, nes Abraham iewers heen onderweg. Alle roetes, behalwe één, is doodloopstrate. Volgens Jesus is daar net één pad wat ‘n goeie eindbestemming het, en dit is die pad van die lewe wat Hy kom bou het. Ons verdien dit nie, ons verstaan dit nie, ons kan dit, net soos Abraham, alleen in geloof ontvang en aanvaar. Dit is beloftes dat ons noú in Jesus die weg kan ken van waarheid en van ware lewe. Dit is nie alleen iets wat ek en jy ééndag sal ontvang nie, maar iets wat Jesus nóú reeds vir ons kom gee, naamlik om ‘n totaal ander kwaliteit van lewe te kan leef. Doen dit dan!
“Ons kan op geen manier God se guns wen of Sy vryspraak verdien nie, en ons hoef ook nie. Van begin tot einde is dit ‘n saak van genade. Aanvaar dit met verwondering en met geloof in Christus Jesus en vier dit met dankbaarheid” (William Barclay).
Gebed: Dankie Here Jesus dat U die Weg is omdat U die enigste brug na God toe is. Dankie dat U die Waarheid is omdat U God aan my bekend kom maak het. Dankie dat U die Lewe is omdat U as Verlosser my voete op die pad na die ewige lewe kom plaas het. “Leer my om te lewe want by U is daar oorvloedige blydskap. Uit U hand kom daar net wat mooi is” (Ps. 16:11). Amen.
Comentarios