top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 31 Augustus 2022

Koos Espach


Stefanus se toespraak (1)


Die periode van die aartsvaders – geskiedenis van Abraham (1)


Abraham se geloof is die troef


Hand. 7:1-4 – “Die hoëpriester vra toe vir Stefanus: ‘Is dit waar?’ Toe sê Stefanus: ‘Broers en vaders, luister na my! God, aan wie al die eer toekom, het aan ons voorvader Abraham verskyn toe hy nog in Mesopotamië was, voordat hy in Haran gaan woon het. God het vir hom gesê: ‘Trek uit jou vaderland uit, weg van jou familie af, en gaan na die land toe wat ek jou sal wys. Abraham het toe die land van die Galdeërs verlaat en in Haran gaan woon. Ná sy pa se dood het God hom daarvandaan laat trek na hierdie land toe waarin julle vandag woon.”


Vergelyk ook Rom. 4:3 – “Wat sê die Skrif? ‘Abraham het in God geglo, en daarom het God hom vrygespreek” (vgl. Gen. 15:6).


In ‘n verstommende goeie oorsig oor die geskiedenis van die volk Israel van Abraham en Moses se dae af tot by Salomo en die tempel, wys Lukas deur Stefanus aan die Joodse Raad uit hoe hulle nou, soos deur die eeue, hulle eie geskiedenis verontagsaam het. Hy vat veral hulle misplaaste vertroue op die tempel aan in plaas daarvan om op God self te vertrou. Dit is een van die redes waarom Jesus voorspel het dat die tempel vernietig sou word. Dit het die geleentheid geskep dat die ware aanbidding van God ’n kans sou kry, iets wat baie maklik verlore gegaan het in die amperse verafgoding van die tempel onder die Jode.

Die hoëpriester as voorsitter van die vergadering van die Sanhedrin, lei die verhoor en vra wat Stefanus te antwoord het op die aanklagte wat teen hom ingebring is. Stefanus antwoord deur die lede van die Raad eerbiedig as “broers en vaders” aan te spreek. Sy toespraak is eintlik nie ’n direkte antwoord op die aanklag teen hom nie, maar ‘n frontaanval op die manier waarop die Joodse leiers deur die eeue die profete wat die Here na hulle gestuur het, net soos vir Jesus, verwerp het. Sy toespraak is vol aanhalings en sinspelings op die Ou Testament.


Ter inligting wil ons meld dat die roepingsgeskiedenis van Abraham verskil van Genesis 11:27-32 se gebeure en jaartalle. Ons gaan egter nié vergelykend lees of op verskille van Lukas wat in Genesis staan, fokus nie. Wat vir ons wel belangrik is, is dat Lukas aan ons wil wys dat Stefanus nie in sy toespraak pleit vir sy lewe nie, maar wel die lyn wat van “ons voorvader Abraham” tot by Jesus loop, beklemtoon, en dat Israel telkens die leiers uit die verlede wat God oor hulle aangestel het, in die steek laat.


Hy begin met God se openbaring aan Abraham in Mesopotamië en noem Hom “die God van die heerlikheid.” Stefanus herinner sy hoorders dat die openbaring van God aan Abraham, in ‘n heidense land geskied waar geen tempel bestaan het nie – God se teenwoordigheid en Sy verering is dus nie aan ’n tempel gebonde nie. Die wet kom ook meer as 400 jaar ná Abraham se roeping. Wat Stefanus egter wil duidelik stel aan die Raad, is dat die God wat verskyn het aan Abraham, steeds dieselfde God is vanaf die begin van Israel se geskiedenis as volk van God, én God is wat die hele geskiedenis van die wêreld verander.


Abraham word beveel om sy familie en sy vaderland te verlaat, en na die land te gaan wat die Here vir hom sou wys. Vir Abraham het die opdrag van die Here beteken dat hy in geloof en vertroue op die Here die vreemde moes in, en hom moes oorgee aan die daaglikse leiding van die Here, sonder om te weet waar hy uiteindelik sou eindig.


Om nakomelinge van Abraham te wees, verander ons nie outomaties in kinders van God nie. Abraham se kindskap, geloof en vertroue van God, word nie outomaties aan iemand oorgedra nie. Hierdie parallel word vandag nog deurgetrek deur baie mense wat glo omdat hulle voorgangers, byvoorbeeld ‘n oupa of familielid, wat getrou was of nog is, aan God en volgens Sy voorskrifte leef, vir hulle ook ‘n plek in die hemel waarborg. Geen mens kan op enige ander mens se geloof, in Jesus Christus deel in die saligheid nie. Ons moet eerder daardeur geïnspireer word om onsself te bekeer (Luk. 3:8). As Jesus se Vader my en jou Vader ook is, is ons deel van hierdie eksklusiewe gesin omdat Hy, deur genade, ook ons Here is.


Doen wat God vra, dan vloei Sy koninklike bloed gedurig deur ons are. Ons hoef nie te presteer vir ons saligheid nie, ons kan God se vryspraak uit genade met dankbaarheid omhels. Ons bevind ons dan in die Drie-enige God se magsgebied – “Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik” (1 Kor. 6:19-20).


“Wanneer ons kinders van God geword het, moet ons nog leer om soos hulle te leef en te praat ook”

(Robert Battles).


Gebed: Dankie Jesus dat U gesorg het dat U Vader my Vader ook is. Ek behoort nie meer aan myself nie want U het my duur gekoop en daarom probeer ek immers om ons Vader te verheerlik. Dankie Vader dat U genade uitgestort het in my hart. Nou kan ek vrug dra wat bewys dat ek U kind is. Dankie o Gees van God dat U vir my die onderskeidingsvermoë gee om tussen die waarheid van Christus en die leuen van die duiwel te onderskei. By U wil ek skuil o Heer, Oorwinnaar oor die bose. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page