top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 16 Augustus 2022

Koos Espach


Stefanus word gevange geneem (1)


Benut Godgegewe geleenthede om van Christus te getuig


Hand. 6:8-10 – “Stefanus, aan wie God baie genade en krag gegee het, het groot wonders en tekens onder die volk gedoen. Party van die lede van die Sinagoge van die Vrygelate Slawe, soos dit genoem is, wat bestaan het uit Jode wat van Sirene en Aleksandrië afkomstig was, het toe saam met Jode wat van die provinsies Silisië en Asië gekom het, met Stefanus begin redeneer. Hulle was egter nie opgewasse teen die wysheid wat hy van die Gees ontvang het en waarmee hy gepraat het nie.”


Lukas beskryf hier ’n nuwe fase en moontlik die hoogtepunt in die geskiedenis van die vroeë Christelike kerk in Jerusalem. Aan die positiewe kant sien ons die verdere ontwikkeling en organisasie van die kerk met die kiesing van die sewe, terwyl die negatiewe ons voorberei vir die vervolging en die definitiewe breuk wat daar tussen die Jodedom en die Christene sou ontstaan. Van hier af sou dit moeiliker gaan om die Woord van God te verkondig en sou die vervolging en verstrooiing van die Christene begin.


Stefanus, een van die verkose sewe diakens, het reeds ’n prominente plek in die kerk begin inneem. Hy is beskryf as “’n man met ‘n vaste geloof en vol van die Heilige Gees” (v. 5). God het aan Stefanus “soveel uitnemende gawes van genade en krag gegee” vir die prediking van die evangelie en selfs om wonders en tekens onder die volk te doen, dat sy geestelike lewenswyse deur almal waargeneem is. Strydig met dit waarvoor hy gekies is, doen Stefanus wat die apostels doen.

Die verset teen Stefanus het waarskynlik van die kant van ongelowige Griekssprekendes gekom, en nie Hebreeus- of Arameessprekendes nie, (Helleniste), en benewens die tempel hulle eie sinagoge gehad het. Tydens die ballingskap en die diaspora (verspreiding) van die Jode oor die hele Romeinse ryk, het Jode in die stede waar hulle gewoon het, begin bymekaarkom in sinagoges wat hulle gebou het. Hulle het Stefanus dinge hoor sê wat hulle in opstand teen hom gebring het. Ons weet nie wat hy presies gesê het nie, maar dit moet sy prediking van die opgestane Jesus wees, asook die wonders wat hy in die Naam van Jesus gedoen het. Belangrik is dat hy, net soos Jesus, in die sinagoge van sy eie mense, tussen sy eie mense uit die diaspora, wat na aan hom moes gestaan het, die heftigste teenstand ondervind het.


Jesus het belowe dat Hy aan die apostels “woorde en wysheid sal gee wat deur geeneen van hulle teenstanders teengespreek of weerlê sou kon word nie” (Luk. 21:15). Alhoewel hy nie een van die twaalf apostels was nie, het Stefanus van Jesus getuig en het hierdie belofte van Jesus nou met sy optrede in vervulling gegaan. Sy teenstanders “was egter nie opgewasse teen die wysheid wat hy van die Gees ontvang het en waarmee hy gepraat het nie.” Waar die Gees werk, is die mens nie in staat om weerstand te bied nie. Dit het beteken sy teenstanders het eer verloor en hulle moes dit weer ten alle koste terugkry. Hoe hulle dit gedoen het, sal ons later sien.


Christus se aardse bediening is gekenmerk deur ‘n gees van liefde en barmhartigheid. Hy het ook altyd in gebed die wil van sy Vader gesoek en gehoorsaam gedoen wat God van Hom verwag het. Ná Sy kruisdood en triomfantlike opstanding en hemelvaart, het Hy hierdie bediening aan Sy apostels oorgedra (Matt. 28:19-20). Vandag nog is hierdie bediening God se opdrag aan almal wat Christus as Heerser en Verlosser erken, en bereid is om hulle lewe en arbeid aan Hom te wy. Dit sluit my en jou in!


As betroubare getuies is ons deel van elkeen wat praat uit eerstehandse kennis ten spyte van teenstand. Maar, alleen as ons ‘n ontmoeting met Jesus Christus gehad het, kan ons van Hom getuig. Die Heilige Gees bewerkstellig hierdie ontmoeting en net soos vir Stefanus, sal die wêreld ons woorde, dade en gesindheid van ons getuienis beoordeel. As Christene is dit uit dankbaarheid ons plig en voorreg, om dit wat Jesus vir ons gedoen het, elke geleentheid te benut en ons Christelike geloof uit te leef in ons woorde, dade en gesindhede. Wanneer ek en jy dit doen in die krag van die Heilige Gees, dra ons by om van die plek waar God ons geplaas het, ‘n beter plek te maak.


Dit gaan nie maklik wees nie. ‘n Gegewe situasie kan dalk vir een mens ‘n nagmerrie wees, maar vir ‘n ander ‘n Godgegewe geleentheid. Een val onder die druk en weier om weer op te staan; ‘n ander gee sy of haar allerbeste en behaal saam met die Here oorwinning. Watter een is ek en jy? In ons gelowige toetrede tot die stryd moet ons biddend opsien na God aan wie die oorwinning behoort en vashou aan Sy belofte: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees ...” (Hand 1:8).


“Die meeste mense laat wonderlike geleenthede om van Christus te getuig, onbenut verbygaan, omdat dit dikwels ‘n oorpak dra en soos werk lyk” (Thomas Edison).


Gebed: Here, help my om geen geleentheid tot diens ter ere van U van die hand te wys en ompaadjies te soek nie. Wees asseblief my Medereisiger op die opdraandes van die getuiepad sodat ek ‘n betroubare getuie kan wees. Gebruik my as ambassadeur om die blye boodskap uit te dra aan almal om my, in U heilige Naam en tot U eer alleen. Om Jesus ontwil en met danksegging. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page