Gedagte vir Vandag
Vrydag, 24 Junie 2022
Koos Espach
Die gebed van die gelowiges (3)
Die seën van die bloedbevlekte pad
Hand. 4:27-29 – “Toe hulle dit hoor, het hulle almal saam tot God gebid en gesê: ‘Dit is wat werklik in hierdie stad gebeur het. Herodus en Pontius Pilatus het met heidennasies en die volk Israel saamgespan teen U heilige Dienaar, Jesus, wat deur U gesalf is, en hulle het alles gedoen wat U vooruit beskik en besluit het. En nou, Here, kyk hoe dreig hulle ons. Gee dat u dienaars met volle vrymoedigheid u woord sal verkondig.”
Die apostels en gelowiges van die eerste gemeente verduidelik met gebed tot God, hoe heersers teen Jesus saamgespan het. Die profesie van Psalm 2 het inderdaad in vervulling gegaan in wat in Jerusalem gebeur het en nog besig was om te gebeur. Die leiers se optrede teenoor Jesus is ‘n herhaling van wat Dawid eeue tevore ervaar het. Dit was in Jerusalem, die heilige stad van God, wat deur Dawid, verower is en tot koningstad verhef is, dat die volk saam met die heidense Romeine, sinlose planne teen “Jesus, God se Gesalfde beraam het.”
Hierdie verset was ernstig, omdat dit “teen God se heilige Dienaar, Jesus,” was. God het Hom gesalf en só toegerus met die gawes van die Gees vir die vervulling van Sy taak. Die konings word deur Herodes Antipas verteenwoordig, wat weliswaar slegs viervors, regeerder oor ’n kwart van Palestina was, maar in die volksmond koning genoem is. Die heersers word deur Pilatus verteenwoordig (v. 26). Hulle is die volke en nasies waarvan Psalm 2 praat. Hoewel Herodes Antipas en Pilatus vyande van mekaar was, het hulle tog teen Jesus saamgespan, “Herodus en sy soldate het Jesus met veragting behandel ... en teruggestuur na Pilatus. Op daardie dag het Herodus en Pilatus vriende geword” (Luk. 23:11-12).
Die “gebedsgroep” verander dan hul toon van gebed. Dit gaan nie meer om wat die mense gedoen het nie, maar oor wat God bepaal het. Die gebedsgroep van apostels en gelowiges, besef dat die skote, wat gelaai is met dreigemente, hulle volgende gaan tref. Hulle kruip egter nie bang weg of skram weg van Jesus se Groot Opdrag van Matteus 28:19 nie, maar laat in gebed, hulle “vyande” se dreigemente aan God oor, om dit te verydel soos Hy wil. Dit is opmerklik dat die gebedsgroep nie vra dat God hulle teenstanders wat “húlle nou dreig,” moet straf of magteloos maak nie. Hulle bid om die voortgang van die werk van God en vir Sy versterking, sodat hulle, die apostels en ander, die evangelie met vrymoedigheid en sonder vrees kan verkondig. Hulle roep God aan wat hulle deur Christus beveel het om te getuig, en vra van Hom dat Hy dit vir hulle moontlik sal maak.
Wat beteken dit vir jou en my? Dit is vandag steeds ‘n risiko om oor Christus te praat. Mense is geneig om ons aan te vat, en ons kan selfs in die moeilikheid beland, soos wat met die apostels gebeur het. Dit staan vas dat die wêreld, wat onder heerskappy staan van “satan, die owerste van die wêreld” (Joh. 16:11), die volgelinge van Jesus sal haat omdat ons die Naam van Jesus bely. Dit is nie iets nuuts wat oor ons kom nie, maar die volgehoue houding van die wêreld teenoor Jesus. Die feit dat die wêreld ons haat, is die bevestiging dat ons aan Christus behoort.
Ons as dissipels van Jesus, het mooi getuienisse en word verag want ons het die groot leuen oor ongelowigheid ontbloot. Wanneer ongelowiges die lig gewys word, verkies hulle eerder die donkerte. Hulle is so diep ingedompel in hul verkeerde dade dat hulle nie daar gesteur wil word nie: “En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hul dade was sleg. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie” (Joh. 3:19-20).
Dit is vir die kerk van die Here belangrik om byvoorbaat te besef dat ons die skyf van die haat van die wêreld is. Maar teenstand is geen rede om die geloofspad te verlaat en die kruis van navolging eenkant toe te gooi nie. Deur al die eeue heen gebruik ongelowiges verskeie metodes om te probeer om die kerk van Jesus Christus te vernietig. Ons gelowiges se oë is egter gevestig op God se toekomsbelofte, nie op korttermyn resultate nie. God se belofte hou vir ons ‘n ewige erfenis in! “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug, want jul loon is groot in die hemel” (Matt. 5:10-12a). Niemand, ook ek en jy, ly ooit tevergeefs vir Christus nie.
“Daar is geen kroondraers in die hemel wat nie kruisdraers op aarde was nie” (Charles Spurgeon).
Gebed: Here, dankie dat ek weet dat U by my is wanneer ek beledigings moet verduur omdat ek ‘n dissipel van U wil wees. Vader, maak my gewillig om sonder enige klagtes onder die kruis in te buk wat U my oplê en dit met vrymoedigheid agter die groot Kruisdraer aan te dra. Amen.
Kommentarer