top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 20 Junie 2022

Koos Espach


Petrus en Johannes voor die Joodse Raad (12)


Ons is verteenwoordigers van die hoogste Gesag


Hand. 4:18-20 – “Daarna het die Raad die apostels weer laat inkom en hulle beveel om glad nie verder in die Naam van Jesus iets te verkondig of te leer nie. Maar Petrus en Johannes het vir hulle gesê: ‘Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.”


Die apostels word deur die Raad na binne geroep en hulle word “beveel om glad nie verder in die Naam van Jesus iets te verkondig of te leer nie.” Om te leer, was die werk van die skrifgeleerdes, en die apostels word ten strengste verbied om hulle daarmee besig te hou, veral as dit in verband met Jesus se Naam te doen het. 'n Mens sou dink dat Petrus-hulle van verligting sou sug en dink: “Sjoe, dit was amper. Byna was ons ook gekruisig nes Jesus.” Maar Petrus en Johannes laat hulle nie met hierdie vertoon van gesag afskrik nie. Hoe kan hulle swyg oor die wonder van God se mag en heerlikheid as hulle dit self gesien en ervaar het? Boonop gaan dit vir hulle oor die gehoorsaamheid aan God. As God vir jou ‘n opdrag gee om oor Jesus te getuig, durf jy nie stilbly nie.


Petrus en Johannes se antwoord aan hulle is aangrypend en getuig van groot vasberadenheid. Hulle staan voor die Joodse Raad, die “main manne” van Jerusalem. Die Raad het so pas ’n oordeel gevel, in ooreenstemming met die wet van God, wat die Raad self geken en vereer het. Vir alle gelowige Jode was die wil van die regverdige God, die maatstaf van wat goed en reg is. Petrus en Johannes sê die Raad moet “self besluit wat voor God reg is: om eerder aan húlle gehoorsaam te wees as aan God.”


Die Joodse Raad sal dit natuurlik moet toegee. Indirek word hiermee gesê dat die verbod van hulle op die apostels, in stryd is met die wil van God. Die apostels het die opdrag van Jesus ontvang om “sy getuies te wees in Jerusalem, die hele Judea en Samaria, en tot aan die uithoeke van die aarde” (Hand. 1:8), en hieraan moes hulle gehoorsaam wees. Die apostels kan eenvoudig nie stilbly oor wat hulle gesien en gehoor het oor die dade en woorde van Jesus, maar veral Sy opstanding nie. Hieraan moet hulle gehoorsaam wees, ongeag die beslissing van die Joodse Raad, want dit is die wil van God vir hulle. Hiermee ontstaan die eerste konflik tussen die Christene en die Joodse owerheid, die kerk en die sinagoge.


Petrus en Johannes kon nie ánders as om te praat oor wat hulle gesien en gehoor het nie. Dit was immers die absolute waarheid. Hulle móés praat. Net so moet ons ook nie anders kan as om te praat nie. Ons moet praat oor al die wonderlike dinge wat Jesus in ons lewens doen. Op dié manier getuig ons oor Sy liefde, goedheid, genade, getrouheid, ag, ek glo jy kan van jou eie ervaringe op die lys byvoeg. Ons hoef nie vir ander te preek nie, maar kan sommer net gesels en met hulle deel wat ons geleer het. Terloops, hier sien ons iets van die egtheid en waarheid van die evangelieboodskap. Die evangelieboodskap was nie 'n storie wat opgemaak of versin of uitgedink is deur Jesus se volgelinge nie – hulle was getuies daarvan!


As ‘n Christen, moet ek en jy as verteenwoordigers van Jesus Christus, in Sy plek praat, ongeag van waar ons is. Ek en jy is God se ambassadeurs in hierdie unieke situasie. Ja, ek weet dit is nie maklik nie. Moenie vrees nie. Terwyl ons ter wille van Hom getuig en optree, sal ons bewus word van die krag van die Heilige Gees. Net soos Petrus en Johannes sal die Gees ons lei in wat om te sê. Ons kán eenvoudig nie stilbly oor die waarheid van die evangelie nie!


'n Klein seuntjie het eenkeer vir 'n seiljagvaarder gevra: “Oom, wat se ding is wind?” Waarop die man antwoord: “Wat wind is, weet ek nie. Maar wat ek weet is: ek kan die seil span.” Ons moet ook erken dat ons min verstaan van die werk van die Heilige Gees. Maar ons kan ons seile hys en bid: “O Gees, bekragtig my asseblief”. Ek en jy hoef nie een tree terug te staan by die eerste Christene nie. Ons het nie 'n agterstand by Petrus en Johannes nie. Ons ken ook die soewereiniteit van God, die eksklusiewe verlossing van Jesus en die krag van die Heilige Gees. Dit is die rede waarom ons teenstand en probleme kan vat en aan die Here getrou bly met moed. “Dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.” Dit is waarom ons 'n dringendheid ervaar om nie onbeskaamde getuies te wees, of om in 2022 met volle oortuiging, volgelinge van Jesus Christus te wees nie. Kan jy as Christus-volgeling saampraat, of bly jy eerder stil?


“Die probleem van baie mense is dat die stem van ander mense harder en beter op hul ore val as die stem van God” (HG Wells).


Gebed: Here, vandag is dit my getuienis: Dit is onmoontlik om nie te praat van U wonderwerkende genade wat my aangegryp het nie! Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page