Gedagte vir Vandag
Vrydag, 3 Junie 2022
Koos Espach
Petrus en Johannes voor die Joodse Raad (3)
Ons getuig onder God se gesag omdat ons glo in Jesus Christus
Hand. 4:7 – “Die Raad vra vir Petrus en Johannes die volgende môre: ‘Deur watter krag en in wie se naam het julle dit gedoen?”
Terwyl ons die afgelope tyd so deur die eerste drie hoofstukke van Handelinge gewerk het, kan ons dalk amper moedeloos begin raak, want, alles gaan so buitengewoon goed. Dit is asof óns vandag so ver ágter is by daardie eerste gemeente. Ek meen, binne 'n ommesientjie groei die gemeente tot 5 000 lidmate – en dit was waarskynlik net die mans. Die Woord versprei soos 'n veldbrand. Dit lyk so maklik: die apostels gaan gewoon net en verkondig Christus as gekruisigde en opgestane Here en die bekerings vind so maklik plaas – dis amper asof die mense toustaan om lidmate te word. Ons kan miskien dink: “Dis nie hoe dit met ons gemeente gaan nie. Oor die algemeen sukkel ons maar. Ek moet baie moed bymekaarskraap om met iemand oor Christus te praat en ás ek praat ... reageer die meeste glad nie so positief nie.”
Nou sien ons egter dat alles gaan nie so voor die wind nie. Meteens doem die eerste teenkanting en bedreiging vir die voortgang van die Woord van God lewensgroot op. Petrus en Johannes bevind hulle skielik voor die Joodse Raad. Ek dink hulle was miskien verskrik, gespanne, dalk bang. Onthou, hulle was net gewone mense. Onthou ook dat daardie godsdiensleiers van die Raad, dieselfde spul was wat enkele weke tevore die Here Jesus laat kruisig het. Hulle was manne wat mag en invloed gehad het. Petrus en Johannes kan dalk dieselfde paadjie loop. Hulle lewens was dus in gevaar terwyl hulle die Raad, wat in ’n halwe sirkel om hulle sit, hoor vra: “Deur watter krag en in wie se naam het julle die verlamde genees?”
Maar dan onthou Petrus en Johannes dat die godsdiensleiers by Jesus ook wou weet in wie se krag en gesag Hy optree (Luk. 20:2). Hierdie verteenwoordigers van die Joodse Raad wat belas is met die handhawing van die orde in sake, rakende die Joodse godsdienstige en ook nasionale lewe, wou weet wie Jesus die reg gegee het om op hulle terrein te oortree, wie Hom die gesag gegee het om binne hulle klein koninkrykie, veral in die tempel, op te tree? En nou wil hulle dieselfde van Petrus en Johannes weet.
Op hulle vraag “deur watter krag en in wie se naam Petrus en Johannes die verlamde genees het?”, sou hulle graag wou hê die apostels moet bevestig hulle kry hul gesag van God – ‘n rede vir hulle om die apostels onmiddellik van godslastering te kon aankla. Dit beteken die doodstraf en hulle is van die apostels ontslae. Sou hulle sê dat hulle die gesag uit hulself het, kan hulle aangekla word dat hulle hulself bo die Wet stel en die gesag van die Wet aan hulle toeëien.
Eintlik wou die vraestellers weet of Petrus en Johannes die “regte papiere” het om op gesag die verlamde man te genees en ook in die tempel mense te leer van Jesus. Indien hulle nie bevestigend kon antwoord nie, was dit strafbaar met die dood. Petrus het reeds verduidelik dat die man genees is in die Naam van Jesus Christus, maar die Raad kon, of wou hom seker nie hoor nie.
In Jesus as die Verlosser en Seun van God moet geglo word. Hy kan nie met logiese antwoorde bewys word nie. Hy het nie ‘n CV of die “regte papiere” nodig gehad om te bewys dat Hy God se Seun is en met God se gesag optree nie. Hy moet geglo word. Dit vra bekering van ons wat in ‘n daaglikse verhouding met Hom lewe. Ons kan nooit vanuit óns ou wêreldjie, gevolgtrekkings oor God maak nie. Ons kan alleen vanuit die geloof, gevolgtrekkings oor ons wêreld maak.
Tot hierdie bekering word ons opgeroep om te glo dat Jesus op aarde, God se koninkryk kom bekend maak het. Hy was in God se diens en Sy apostels het ná Sy hemelvaart, Jesus se werk voortgesit. Die vraag bly steeds belangrik vir my en jou: “Glo ons in Jesus dat ons Sy gesag kan verstaan?” Indien nie, stry ons net soos die Joodse leiers oor die oorsprong van Sy gesag. So het Jesus sy eie voorskrif aan ons nagekom: “Elkeen wat My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. Wie die minste onder julle almal is, hý is groot” (Luk. 9:48). Dit behoort my en jou die vrymoedigheid te gee om in ons persoonlike toewyding van Jesus te getuig, al kos dit ons lewe. “Hy is die Weg, die Waarheid en die Lewe ...” (Joh. 14:6).
“God se wese en gesag is so onbegryplik groot dat ons sintuie nie ten volle Sy majesteit kan waarneem nie” (Johannes Calvyn).
Gebed: Here, saam met Paulus wil ek bely: “Oor een ding hoef ek nie te twyfel nie, naamlik dat ons godsdiens nie iets is wat ons kon uitgedink het nie. Dit was God se geheim en gaan oor Jesus wat mens geword en die Gees het dubbel en dwars beklemtoon dat Jesus aan die regte kant staan. Die hemelse wesens het Hom gesien, sy boodskappers het al die nasies van Hom vertel en deur die hele wêreld het mense in Hom begin glo. Hy is na God toe in die hemel waar almal kan sien hoe belangrik Hy is.” (1 Tim. 3:16). Dankie Here, ek glo in U. Amen.
Comments