Gedagte vir Vandag
Donderdag, 2 Junie 2022
Koos Espach
Petrus en Johannes voor die Joodse Raad (2)
Om ‘n goeie daad te verrig kan gevaarlik wees
Hand. 4:4-7 – “Tog het baie van die mense wat hulle prediking gehoor het, gelowig geword; en die getal gelowiges het aangegroei tot omtrent vyf duisend. Die volgende môre het die raadslede, die familiehoofde en die skrifgeleerdes in Jerusalem vergader. Ook die hoëpriester Annas, en Kajafas, Johannes, Aleksander en al die ander lede van die hoëpriesterlike familie was teenwoordig. Hulle het die apostels voor hulle laat bring en hulle ondervra: ‘Deur watter krag en in wie se naam het julle dit gedoen?”
Die vorige dag, laat middag net voor laaste bidtyd, (3 uur), storm die godsdiensleiers, onder leiding van die Sadduseërs op Petrus en Johannes af en neem hulle in hegtenis. Hulle proklamasie dat daar in Jesus van Nasaret, lewe ná die dood is, is onaanvaarbaar. Hulle kon darem nie dié optrede toelaat nie, laat vang hulle en gooi hulle oornag in die tronk. Tog, het die wonder wat gebeur het met die verlamde man en die prediking wat daarop gevolg het, tot vermeerdering van die getal gelowiges, gelei. ’n Hele paar duisend Jode reageer met oorgawe deur hulle tot die Here te bekeer, en deel van die gemeenskap van gelowiges van drie duisend, “laat aangroei tot omtrent vyf duisend.” Uit hierdie gebeure is dit weer duidelik dat God te midde, en ten spyte van verset teen die evangelie, Sy werk voortsit en Sy kerk laat groei.
Die volgende môre, het die Joodse Raad wat uit 71 lede van die hoogste politieke en godsdienstige elite van die Jode bestaan het, vergader. Hulle was afkomstig uit invloedryke families, en saamgestel uit die geledere van die priesters, skrifgeleerdes en die Sadduseërs, met die hoëpriester aan die hoof. Hulle het oor alle sake wat op die godsdienstige en algemene lewe van die Jode betrekking gehad het, die beslissende sê gehad. Dit was ‘n baie belangrike vergadering, selfs die familiehoofde (letterlik “die oudstes”), die senior priesters, en enkele leidende priesters, span saam om wal te gooi dat húlle, die elite van die volk, verkeerd was om Jesus as Messias te erken.
Die Raad sing egter nou ‘n ander deuntjie. Dit gaan nie meer oor lewe ná die dood nie, maar “deur watter krag en in wie se naam Petrus en Johannes die verlamde man genees het?” Dit klink verregaande dat hulle gearresteer is en die hele nag in ‘n tronk moes deurbring, nie omdat hulle iets verkeerds gedoen het nie, maar omdat hulle die verlamde man gehelp het! Ja-nee, Christen-wees is nie vir sissies nie, en sodra jy “in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal jy ook vervolg word” (2 Tim. 3:12). Hoeveel keer het God se Woord ons nie al hierteen gewaarsku nie, en dan word dié stuk eerlikheid óók nog bygevoeg: “Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger. Hulle mislei ander en word self mislei” (2 Tim. 3:13). (Is dit nie wat nou aan die orde van die dag is nie? Hoe groter die korrupsie, hoe beter pos word aan die korrupte toegeken!)
Dis nie altyd so maklik nie en dit voel vir my dat dit al hoe moeiliker raak om Christen te wees. Soms voel dit vir ons of dit eenvoudig net onmoontlik is om die pad te stap en dis asof dit moeiliker raak by die dag. Dis moeilik om, wanneer iemand hier voor jou invleg met sy bussie of nie eers ‘n poging aanwend om verkeersreëls na te kom nie, te keer dat die bloed kook. Dis moeilik as ‘n onbekwame regering absurde wetgewing wil afdwing wat jou hele lewe kan verander. Dis moeilik as iemand onwaarhede van jou en jou familie versprei, en stil te bly. Dan wil ’n mens baklei. Dan wil jy die ding sommer nóú uitsorteer – op jou manier. Dan is gaaf-wees glad nie op die kaarte nie. Eintlik voel dit onmoontlik.
Maar dit is nie onmoontlik nie. Dietrich Bonhoeffer, ’n Duitse teoloog, het gesê wanneer God jou roep, roep Hy jou om te kom sterf. Is jy daartoe bereid? Sal jy ter wille van die evangelie en jou liefde vir Jesus byvoorbeeld toelaat om in die tronk gegooi te word omdat jy net ‘n goeie daad wou doen? Op ons eie, nee. Op ons eie sal ons dit nie maak nie en sal ons seker met die eerste bultjie tou opgooi en enige windjie van voor nie kan trotseer nie. Ons kan dit net nie self doen nie.
Gelukkig hoef ons dit nie op ons eie te doen nie. Hier is darem ook ’n stukkie troos en hulp vir die taak wat vir ons elkeen opgelê is: “In vervolging en ontbering, sal die Here ons red” (2 Tim. 3:11). Dankie tog dat ons dit nie uit ons eie hoef te doen nie. Dankie tog dat God self vir ons sorg. Dankie tog dat God my en jou hand neem en ons deur en oor die obstruksies in ons pad neem, saam met ons die donker onbekende in stap. Hy weet dat ons nie lekker leer op die teerpaaie nie. Hy weet dat ons meer van die lewe leer op die grondpaaie, selfs deur die potholes sonder ‘n 4x4. Hy weet dat ons oë eintlik eers vir ander mense oopgaan waar ons spoed op die grondpad gebreek word en ons die menigte potholes probeer vermy. God weet die beste! “Deur Sy krag en in Sy Naam sal ons dit kan doen!”
“Struikelblokke is daardie skrikwekkende voorwerpe wat ons in ons pad sien as ons ons oë van God wegneem” (Hannah Moore).
Gebed: Onse Here, ek is nie so seker of ek altyd staande sal kan bly onder die druk nie. Soms is die dinge vir my net te veel en wankel my bene erg. Dankie vir die belofte dat ek nie alleen teen die lewe hoef op te staan nie. Daarom vra ek dat U my krag sal gee om deur die lewe te loop. Amen.
Comments